Lees 2 Korintiërs 6: 1 – 7
“Kyk, nou is dit die regte tyd, nou is dit die dag van redding” (2).
’n Jong predikant ry een aand, na ’n diens in ’n minder gegoede deel van die dorp, in ’n stampvol bus, huis toe. Met sy Bybel onder sy arm vasgeknyp, staan hy saam met ander in die gang. Van die passasiers, duidelik ’n ruwe jongklomp, begin met hom gekskeer. Een roep, bo die ander geraas van die bus, uit na hom toe: “Haai, Dominee, hoe ver is dit hemel toe?” Sy maats lag luidrugtig. Die ander mense in die bus is doodstil. Almal wag vir sy antwoord. Hy draai na sy trotseerder toe. Hy antwoord met ’n vriendelike, maar duidelike stem: “Net een tree, Meneer. Sal jy my toelaat om jou die weg te wys?” Daar eindig die geskrewe storie ongelukkig.
Ek wens ons kon weet of die jong boelie begerig was om te luister, en hoe die jong predikant van so ’n oomblik gebruikgemaak het om die evangelie te verkondig. Want op hierdie allerbelangrikste vraag is die antwoord kort en duidelik. Die tronkbewaarder van Filippi het dit vir Paulus en Silas gevra: “Menere, wat moet ek doen om gered te word?” Hulle antwoord was: “Glo in die Here Jesus, en jy sal gered word…” (Hand.16:30,31). Die een tree hemel toe gaan by ’n oop deur in. Die Here Jesus het daardie deur, wat ’n soliede, geslote ysterdeur was, weens ons sondeskuld, oopgesluit, toe Hy ons sondeskuld aan die kruis uitgedelg en vernietig het. Ons kan die tree oor die drumpel van geloof, die ewige lewe in, dadelik neem. Sê vir Jesus: “Jesus, Here, red my nou, asseblief.” Met Jesus aan die kruis in gedagte, gló Hy kan dit doen. Met die lewende Jesus nou by jou, glo Hy hoor en doen dit. Sê vir Hom dankie. Die moordenaar aan die kruis het dit gedoen. Daar waar hy aan sy kruis langs Jesus hang, sê hy vir Jesus: “Dink aan my, Here, wanneer U in u koninkryk kom.” Jesus antwoord hom: “Vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.”
“Here, vandag gaan ek in u hemelse koninkryk in, deur die oop deur van u dood aan die kruis..”