Lees: Lukas 19: 1-10
“Saggeus…het Jesus met blydskap ontvang. Almal…het beswaar gemaak en gesê: ‘Hy gaan by ’n sondige man tuis.’” (7)
In die maandblad van die Pacific Garden Mission vertel Carl Henry van die jongman, William James Taylor, alias Bill Hennessy, alias Ed Lynch, alias Tom O’Brien. Hierdie jongman, met die baie skuilname, was ’n permanente vlugteling vir die gereg. As 3-jarige seuntjie het hy in die agterplaas van sy pa se kroeg sy vingertjies in gebreekte glase en bottels gesteek en ’n smaak vir drank ontwikkel. Op 12-jarige ouderdom was hy ’n besope, drankverslaafde straatkind. Na twee jaar in ’n verbeteringskool, het hy doelloos rondgeslenter, totdat ’n tweede arrestasie hom in ’n nywerheidsinstituut beland het. Die opheffingswerk daar, het hom nie verbeter nie. Dobbel, verdowingsmiddels en drank was sy lewenspatroon. Hy was gedurig vlugtend vir die gereg en moes daarom altyd onder ’n skuilnaam rondbeweeg. Die aand toe hy in Chicago aanland, het hy dadelik na die Pacific Garden Mission toe gevlug, want ’n polisieman in die straat het hom dopgehou en gevolg. Die volgende aand het hy teruggekeer Pacific Garden Mission toe. Hy het geluister na getuienisse van mense soos hy, oor wat God in hulle lewens vermag het. Hy het by een van die werkers van die sending hulp gevra en die sondaarsgebed gebid: “Here, wees my sondaar genadig. Jesus, red my ook.”,
Agterna het hy getuig: “Ek kan nie alles vertel wat Jesus Christus vir my gedoen het nie. Maar een ding kan ek doen, en dit is om ander van Hom te vertel. En daar is baie dinge oor God wat ek nie weet nie en nie verstaan nie, maar één ding kan ek sê: ‘God ain’t any picker of persons’!” Elkeen wat, hoe sleg ookal, God se genade vra en by Jesus redding soek, vind `n lewende Redder.
“Here, vandag kom ek net soos ek is na U toe.”