Lees Romeine 6: 1 – 14
“Ons weet tog dat die sondige mens wat ons was, saam met Christus gekruisig is sodat ons sondige bestaan beëindig kon word. Ons is dus nie langer slawe van die sonde nie:” (6).
Walter B. Knight vertel in sy boek van die nag toe die slawe in 1838, in Jamaika bevry is. Jamaika is die mooiste van die Suidsee-eilande wat deur Columbus ontdek is. Fortuinsoekers uit Europese lande het op die ryk eiland toegesak. Onder Spaanse bewind het die bevolking in slawerny verval. Daardie nag in 1838 het die slawe ’n doodskis van mahoniehout gemaak en ’n graf gegrawe. Walter Knight beskryf dit so: Into that coffin the liberated slaves threw the reminders of their former life of slavery – whips, torture irons, branding irons, coarse frocks and shirts, large hats, fragments of a treadmill and handcuffs. Daarna is die kis se deksel vasgeskroef. Toe die middernag klok slaan, laat hulle die kis in die graf afsak. Hulle gooi die graf toe. ’n Danklied word gesing. Hulle slawelewe was verby. Hulle was vry.
In Paulus se tyd was slawerny nog ’n bekende praktyk. Hy pas die bevryding uit slawerny toe, as beeld van die redding uit sonde. ’n Nuwe, bevryde lewe, begin in Christus. So moet ons met die ou lewe van sonde klaar wees as ons, deur geloof in Christus en deur die Heilige Gees se wedergebore, deur God se ganade, die nuwe lewe begin. “As julle julle lewe deur die sondige natuur laat beheers, gaan julle die dood tegemoet, maar as julle deur die Gees ’n einde maak aan julle sondige praktyke, sal julle lewe… Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: ‘Abba!’ Dit beteken Vader” (Rom.8:13-15). Weer skryf Paulus: “Julle het met die ou sondige mens en sy gewoontes gebreek en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper” (Kol.3:9-11). Petrus skryf onomwonde, oor die ou lewe wat verby moet wees en die nuwe lewe wat begin het: “Julle is immers wedergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God….Hou dan op met elke vorm van kwaad, met alle bedrog, huigelary, jaloesie en kwaadpratery… “ (1 Pet.1:22-2 Pet.2:3).
“Here, vandag vra ek die werking van u Heilige Gees in my hart om die nuwe lewe in Christus in my oorwinnend oor die ou lewe van sonde te maak..