Lees Efesiërs 3: 14 – 21
“Aan Hom wat deur sy krag…magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink…” (12).
’n Vrou skryf in Gospel Witness, sy het eens in ’n dorp met min winkelgeriewe gewoon. Sy was aangewese op posbestellingdienste. Eendag bestel sy, na aanleiding van ’n advertensie, ’n artikel van ’n groot stedelike winkel af. Sy stuur die geld saam. Hulle stuur vir haar ’n bestelvorm terug, met dié woorde onderaan geskryf: “As ons nie die artikel wat u bestel het in voorraad het nie, kan ons ’n alternatief voorsien?” Bietjie onseker skryf onderaan: “Ja”. Hulle hét toe vir haar die ander artikel gestuur. Beter en tweemaal die waarde as haar eerste keuse. Dit was die groot winkel se beleid. Die artikel wat hulle nie kan voorsien nie, vervang hulle met een van beter gehalte. Daarna het die vrou elke keer met groot hoofletters, onder aan die bestelvorm geskryf: “J-A”.
Dit moet ook ons gesindheid in ons gebedslewe wees: “Here, dít is wat ek vra, maar laat u wil geskied.” God gee op die beste tyd vir ons sy beste gawe. Toe die twee susters, Marta en Maria, in Johannes 11 en 12 vir Jesus laat weet het, hulle broer, Lasarus, is siek, het Hy nie dadelik na hulle toe gegaan nie. Hulle het teleurgesteld gedink, Hy het te laat gekom. Maria het vir Hom gesê: “Here, as U hier was sou my broer nie gesterwe het nie.” En Marta het Hom gekeer toe Hy die graf wou laat oopmaak: “Here, hy ruik al, want dit is al die vierde dag.” Jesus se antwoord was: “Het Ek nie vir jou gesê as jy glo, sal jy die openbaring van God sien nie?” Die opwekking van Lasarus, op Jesus se tyd, was meer geseënds as net sy genesing, op die susters se tyd. God se alternatief vir ons is beter.
“Here, vandag laat ek my saak in U hande.”