Lees Kolossense 2: 6 – 15
“Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker het Hy dit vir goed weggeneem” (14).
Een aand in ’n kerkdiens het ’n jongvrou, die Here se aanspraak op haar lewe en sy roeping om sy redding aan te neem, in haar hart ervaar. Sy het die Here Jesus as haar Verlosser en Here aangeneem. Sy het ’n ruwe verlede gehad: drank, verdowingsmiddels, prostitusie. Die verandering in haar lewe was diep en blywend. Sy het mettertyd ’n getroue lidmaat van die kerk geword en by die gemeente se kinderbediening ingeskakel. Toe sien die dominee se seun haar raak en hy raak op haar verlief. Hulle verhouding het gegroei en hulle het trouplanne begin maak. Daar het die moeilikheid begin. Sy was so ’n bekende slegte vrou in die dorp, ’n groot deel van die gemeente het nie gedink sy is geskik, om húlle predikant se seun se vrou te wees nie. Argumente en stryery tussen lidmate het ontstaan. Dit het so erg geraak, ’n gemeentevergadering moes belê word, om die saak openlik te bespreek. In die vergadering is menings gelug en mense het heen en weer gestry. Dit het gelyk of die vergadering buite beheer raak.
Vir die meisie was dit baie ontstellend. Haar vorige lewensgedrag het weer heftig ter sprake gekom. Sy het aan die huil geraak. Die predikantseun staan op. Hy kon die marteling van sy toekomstige vrou nie langer verduur nie. “Dit is nie my verloofde se verlede wat hier ter sprake is nie,” sê hy. “Wat julle betwis, is die Here Jesus se verlossingkrag. Julle betwyfel dit of Jesus se bloed regtig iemand se sonde wegneem. Sy was ’n sondige vrou, maar sy het haar toevlug tot haar Verlosser, die Here Jesus Christus geneem. Julle moet nou besluit: Het sy bloed haar sonde bedek en weggewas, of staan haar sonde nog teen haar?” ’n Stilte en bewoëndheid, het neergedaal.
Aanvaarding van iemand se bekering, is ’n belangrik. Iemand se redding deur Christus wis die blaam van sy verlede uit. “Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom” (2 Kor.5:16,17).
“Here, vandag dank ek U vir die nuwe lewenskans wat U aan ’n mens gee.”