Onbekende Rykdom

Lees Lukas 5: 1 – 11

“Meneer,” antwoord Simon, “ons het die hele nag deur geswoeg sonder om iets te vang, maar op u woord sal ek die nette uitgooi.” En toe hulle dit doen, het hulle so ’n groot klomp vis gevang dat hulle nette wou skeur” (5,6)

In Wes-Texas is daar ’n beroemde olieveld, be­kend as The Yates Pool. Gedurende die depres­sie­jare was die olieveld ’n ene Yates se skaap­plaas. Yates het onder die depressiedruk so swak ge­vaar met sy boerdery, hy kon nie meer die rente op sy verband betaal nie. Hy sou bin­­ne afsienbare tyd sy grond verloor. Op ’n dag daag ’n oliemaatskappy se seismografiese span by sy huis op. Hulle vertel hom, daar is moontlik ’n oliebron op sy grond. Hulle vra toe­stemming om vir olie te boor. Hy gee sy samewer­king. Op 1 115 voet (370 me­ter) diepte boor hul­le ’n oliebron raak, wat 80 000 va­te olie per dag lewer. Aangesien die grond nog aan Yates be­hoort het, behoort die mineraalregte toe ook nog aan hom. Hy leef op ’n staatstoelaag en wis nie hy is ’n multimiljoenêr nie! Die skrywer van die verhaal in “Pa­ra­bles”. stel dit so: “A multimil­lionaire living in po­ver­ty: What was the problem? He did not know the oil was there. He owned it, but he did not possess it. That is like many Christians today who don’t realize how rich they are in Christ.”

Dit is ’n groot ontdekking in jou hart, om tot die in­sig van jou rykdom in Christus te kom. Selfs na die wonderlike visvangs en baie ander openbaringe van sy krag voor Petrus se oë, bv. die voeding van die skares, genesings, die opwekking van Lasarus, het Pe­trus in sy hart steeds blind gebly vir sy ryk­dom in Christus. Eers na Christus se kruisiging – want daardie dag nog het hy Jesus drie keer ver­loën: “Ek ken die man nie!” – en na die uit­storting van die Hei­li­ge Gees, gaan sy oë vir sy groot ryk­dom in Chris­tus oop. In sy eerste sendbrief skryf hy aan die gelowiges: “Nou het ons ’n lewende hoop op die on­ver­gank­li­ke, on­besmette en onver­welklike erfenis wat in die he­­mel ook vir julle in bewaring gehou word” (1 Pet.1:4). In ons omgang met God deur sy Woord en deur die wer­king van die Heilige Gees in ons hart, terwyl die Here Je­sus in ons oë al groter word, leer ons ons rykdom ken.

“Here, vandag wil ek leer hoe ryk ek in U is.”