God se duur metodes

Lees: Psalm 105:16-23

“Hy het iemand voor hulle uitgestuur: Josef is as slaaf verkoop .Hulle het hom in die gevangenis gehou” (17,18).

 ’n Jong seun stap op ’n dag vrolik, fluitend, straat af. Die stewige stok in sy hand swaai hy op die maat van sy deuntjie heen-en-weer. Agter hom stap ’n man. Hy hou die seun dop en dink by homself: “As daardie stok uit sy hande gly, gaan ons hier tussen die huise ‘n lelike ongeluk sien.” Skaars het hy dit gedink, of die stok glip uit die seun se hand, trek oor die lae heining en tref die huis, naby die straat, se een venster. Die man bly ge­am­mu­seerd staan. “As ek nog nooit ’n seun sien hol het nie, gaan ek dit nou sien,” dink hy weer by homself. Die seun gaan verskrik botstil staan. Net vir ’n oomblik talm hy, toe maak hy die voorhekkie oop en stap op na die huis se voordeur toe en klop. ’n Briesende man pluk die deur oop. Die man in die straat kan as ge­volg van die huisbaas se luide stem hoor wat aangaan. Die seun se stem hoor hy nie, maar hy kan hom indink hoe die seun die voorval vertel. “Maar is jy seker jou pa sal betaal en kom reg­maak?” skreeu die huis­baas. Die seun knik en be­duie. “Laat ek net jou pa se naam, adres en tele­foon­nommer neer­skryf,” klink die huisbaas se stem. Die seun bly voor die deur staan totdat die man weer verskyn en op ’n papier be­sonderhede neer­skryf. Die man wat alles so aanskou, talm op die sypaadjie. Die seun se gedrag is vir hom baie inte­res­sant. Hy val by die seun in toe dié uitkom. “Sleg­te ongeluk, nè? Hoekom het jy nie gehardloop nie? Jy het meer as genoeg tyd gehad om weg te kom.” Vir ’n paar oomblikke is die seun stil, toe sê hy dap­per: “Meneer, ek volg die Here Jesus en ek wil nie iets doen wat Hom sal grief nie. Hy sien tog alles wat ek doen.” Sonder `n verdere woord slaan die man nadenkend sy eie koers in. Hy is self ’n onver­skillige man wat min erg aan die Christelike lewe het. Maar wat hy so pas beleef het, sit hom aan die dink. As geloof in Christus so ’n greep op ’n seun se lewe kan hê, moet daar iets in die Chris­te­li­ke le­we steek. Hy gaan meer daar­oor uit­vind. Die eerste Sondag daar­na gaan hy kerk toe. Ge­lukkig is daar ’n getroue diens­kneg van die Here op die kansel. Na ’n paar Sondae voer hy met dié leraar ’n ge­sprek. Hy neem Christus aan as sy Salig­ma­ker. Die seun het mis­kien gewonder hoe­kom die Here hóm, wat die He­re tog getrou probeer dien, so ’n ver­ne­derende on­geluk laat oorkom het. Hy het dalk nooit op aarde uitgevind, hoe die Here hom vertrou het, om met hom so ’n duur paadjie te loop, om by ’n verlore man uit te kom nie.

 “Here, vandag wil ek deur my gedrag vir U ’n lig en ’n getuie wees.”