Lees 2 Korintiërs 4: 1 – 6
“God wat gesê het: ‘Laat daar lig skyn uit die duisternis’, het ook in ons harte ’n lig laat skyn om ons te verlig met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus uitstraal” (6).
’n Man het weens sy besondere intellektuele vermoë, ’n hoë geleerdheid bekom en ’n uitnemende posisie in die samelewing bereik. Maar hy was blind – blind gebore. ’n Ewe talentvolle vrou het sy lewensmaat geword. Sy was vir hom ’n ware geesgenoot. Hulle pragtige huwelik is verryk met drie, ewe talentvolle, kinders. Hy het die beproewing van sy blindheid opgeweeg teen die seëninge wat die Here hom gegee het en daarom was hy, ten spyte van sy blindheid, ’n dankbare mens. Hy het jaarliks ’n oogarts besoek om te sorg vir die gesondheid van sy blinde oë. So kom hy op ’n keer, onder die aandag van ’n beroemde oogarts. Na die ondersoek sê dié dokter vir hom, sy blindheid is te wyte aan ’n oppervlakkige oorsaak. ”As ek twintig jaar gelede jou oë kon opereer, sou ek byna seker jou sig kon herstel. Nou kan ons probeer, maar ek kan jou nie beloof jy sal kan sien nie en dit kan vir jou onnodige lyding veroorsaak.” ”Die lyding sal ek verduur,” roep die blinde man hartstogtelik uit, ”maar probeer tog net om my te laat sien!” Die operasie is gedoen en dit was ’n wonderlike sukses. Verwonderd het die man na alles om hom gekyk. Sy vrou en kinders was by toe die verbande verwyder is. Hy het na hulle gekyk asof hy nie genoeg kon kry om hulle te sien nie. Toe roep hy skielik uit: ”Hoe kon ek eerste na ander dinge kyk? Waar is die man wat my laat sien. Wys my my dokter. Ek wil hom graagste sien!”
Dit moet die hartstogtelike taal van die verloste mens wees. “Ek wil Jesus sien! Ek wil Hom bewonder!” Ons kan Hom nie fisies sien nie, maar die geestelike aanskouing van Christus in sy Woord, deur werk van die Heilige Gees, maak Hom vir ons ‘n werklikheid, sodat ons na die belewing van sy teenwoordigheid verlang. ”Hom het julle lief, al het julle Hom nie gesien nie. Deur in Hom te glo, al sien julle Hom nou nie, het julle…deel aan die saligheid…die einddoel van julle geloof…”(1Pet.1:9). Om deur bekering geestelik siende te word, open vir ons ’n wye geestelike wêreld. ”Ek bid dat Hy julle geestesoë so verhelder dat julle kan weet watter hoop sy roeping inhou, en watter rykdom daar is in die heerlike erfenis wat Hy vir die gelowiges bestem het, en hoe geweldig groot sy krag is wat Hy uitoefen in ons wat glo” (Ef.1:18,19).
“Here, vandag wil ek tyd neem om U te aanskou.”