Onweerstaanbare krag

Lees: Jeremia 23: 23 – 29

“My woord is soos vuur, sê die Here, soos ’n hamer waarmee klippe stukkend gebreek word” (29).

Ludwig Harms, stigter van die Hermannsburgse Lutherse Sen­dinggenootskap, vertel hier­­die  storie. Sieg Engelbrecht het dit vir ons uit die Duits vertaal.

‘n  Londense hoteleienaar, het deur die oor­ma­tige be­skik­baarheid van alkohol en ander twy­­­fel­ag­tige ple­­siertjies ’n ver­derflike lewe gelei. Met God wou hy niks te doen hê nie. Hy het sy gaste ook in hierdie maalkolk van sonde in­ge­suig. Op ’n dag sterf een van sy naaste familielede en hy moes, teen wil en dank, die begrafnisdiens in die kerk by­woon. Hy besluit hy sal gaan, maar hy gaan sy ore toe­druk. Die woord van God wil hy nie hoor nie. So sit die hotelbaas die dag soos ’n dowe on­der die geklank van die Here se woord. Hy hoor niks. ’n Muskiet kom sit op sy neus en steek hom. Hy pluk sy een hand uit sy oor uit en klap die mu­skiet weg. Juis op daardie oomblik haal die pre­di­ker God se boodskap, wat Hy deur Jesaja aan  His­kia gestuur het, in 2 Konings 20:1 aan: “So sê die Here: Sê vir jou gesin wat jou laaste wense is, want jy gaan sterf, jy sal nie langer leef nie.” On­mid­­­dellik druk die man sy ore weer toe en wag vir die einde van die diens. Maar daardie enkele sin gaan met hom saam huis toe. Hy kan dit nie af­skud nie. Die woorde staan smorens saam met hom op, gaan saans saam met hom bed toe en kom selfs in sy drome terug. Dit dryf hom amper tot raserny. Uit­ein­delik swig hy onder die krag van God se woord. Hy breek voor God, bring sy hart na die Here Jesus toe en kom tot beke­ring. ’n Nuwe lewe kom in hom tot stand. Hy gee sy hele le­wens­­huishouding oor aan God. Sy hotel verander uit ‘n spelonk van sonde, in ’n ware herberg – ’n tuiste van Christelike gastevriendelikheid.

Die Heilige Gees gee aan God se woord ’n indring­ingsvermoë in die hart van die mens: “Die woord van God is lewend en krag­tig. Dit is skerper as enige swaard met twee sny­kan­te en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg Dit beoordeel die be­doelings en gedagtes van die hart” (Hebreërs.4:12).

 “Here, vandag luister ek na u woord.”