Lees Psalm 19: 1 – 15 (The Railway Messenger, May 1971):
“Die woord van die Here is volmaak: dit gee lewe… die gebod van die Here is helder, dit gee insig…” (8,9).
Die bofbalspeler, Billy Sunday, het in ’n opelugdiens tot bekering gekom. Daarna word hy evangelieverkondiger. Hy was ’n baie gewilde prediker, want hy het sy bofbalslang in sy prediking behou. Hy het die Bybel die Christendom se paleis genoem. Hy vertel só van sy kennismaking en omgang met die Bybel:
Drie en twintig jaar gelede het ek met die Heilige Gees as my gids, die wonderlike paleis van die Christendom betree. Ek het by die ingangsportaal van Genesis ingegaan en met die lang kunsgallerye van die ou Testamentiese geskiedenis afgestap. Aan die mure het die portrette van Noag, Abraham, Isak, Jakob, Moses, Josef, Jona, Daniël en baie ander gehang. Daar was ook die prente van die uittog uit Egipte, die val van Jerigo se mure, Josua se oorwinning, toe hy gebid het die son moet in die hemel bly stilstaan en so baie ander. Ek het verby gestap tot in die musiekkamer van die Psalms, waar die Gees oor die klawerbord van die groot orrel van die natuur gestreel het, totdat elke orrelpyp getril het, van die groot musiek van Dawid se harp. Ek het die sakekantoor van Spreuke ingestap, waar ek die praktiese elemente van die regte lewe leer ken het. Toe kom ek in die sterrewag van die profete, waar talle teleskope opgestel is om die toekoms te aanskou. Al die teleskope was veral gefokus op die Blink Môrester van die komende Messias. Hierna stap ek in die Koning van die Konings se eie kamer in en ek kry ’n insig, in sy heerlikheid soos Matteus, Markus, Lukas en Johannes dit teken. Hierna betree ek die besige vertrek van die Handelinge van die apostels waar die Heilige Gees die baba-kerk van Christus opvoed en leer. Hierna kom ek in die skryfkamer van die apostels en ek lees die briewe van Paulus, Petrus, Johannes, Jakobus en Judas. My volgende tree het my in die troonkamer van die Koning self gebring – en nou in Billy Sunday se eie woorde: ”…In Revelation’s glittering peaks I got a vision of the King sitting upon the Throne in all His Glory, and I cried out:
All hail the power of Jesus Name!
Let angels prostrate fall.
Bring forth the Royal Diadem
And crown Him Lord of All!
“Here, vandag wil ek u Woord tree vir tree deurstap.”