SKRIFDEEL: Handeling 4:8-13
“…dié Jesus, vir wie julle gekruisig het, maar wat God uit die dood opgewek het …Hy bring die verlossing en niemand anders nie.” (10,12).
In die loop van die eerste jaar van my bediening in my eerste gemeente, bel die gemeente se koster my een oggend. Aan sy stem hoor ek hy is ontsteld. Hy wil nie oor die telefoon sy probleem vir my vertel nie. So gou ek kon besoek ek hom. Hy en sy nejiese vrou wag my in op die stoep. Ons sit skaars in die sitkamer of hy vertel my sy moeilikheid. “Ek het laas nag gedroom ek klim met ’n touleer op hemel toe,” begin hy. “Maar nes ek halfpad kom, val ek af tot onder. Dan probeer ek weer opklim, maar halfpad val ek af. Elke keer gebeur dit. Hoekom kan ek nie in die hemel kom nie? Ek en my ou vrou leef tog ’n skoon lewe. Ons leef vir die kerk. Ons probeer die Here dien. Hoekom val ek af? Hoe kom ek in die hemel?”
Ek het vir ’n paar oomblikke verslae gesit. Ek was nog jonk en sover ek weet, lei die waardige oom regtig ’n onbesproke lewe. Dit is net ’n droom weet ek, maar ek weet ook: jy droom die dinge wat jou in die hart kwel. Ek vra hom die enigste vraag waaraan ek kon dink. “Oom Hansie, het Oom al ooit die Here Jesus in Oom se hart as Verlosser aangeneem?” Vir ’n rukkie sit hy stil, net na my en kyk. Ek word bang en dink, ek het die oom met so ’n direkte vraag verneder. Maar hy het my vraag verstaan. Hy antwoord: “Ek glo en ek stem in met wat die Bybel van die Here Jesus Christus sê. Maar ek het Hom nog nooit definitief gevra om my te red nie.” “Is Oom gewillig en begerig om dit vanoggend te doen?” Dadelik knik hy met sy kop. Ek kniel saam met die twee ou mense by die rusbank. In ’n eenvoudige gebed dank oom Hansie eers sy Verlosser, die Here Jesus Christus, dat Hy vir hom aan die kruis gesterf het. En toe vra hy die Here om hom te red en sy sonde te vergewe. Na hom bid die tannie min of meer dieselfde woorde. ’n Tyd daarna sê oom Hansie eendag vir my: “Ek kan nie verstaan, dat die Here sy hand soveel jare na my toe uitgehou het en ek dit nou eers geneem het nie.”
Geloofsekerheid kan in iemand se hart ontbreek, omdat daar nooit ’n besliste geloofshandeling was om Christus as Verlosser aan te neem nie. Die gebrek aan geloofsekerheid beteken nie noodwendig ’n gebrek aan saligheid of vervreemding van God nie, maar dit kán ook `n verontrustende simptoom van ’n verlore toestand wees. Liewer moet mens seker maak en ’n definitiewe onderhandeling met die Here Jesus aangaan, om Hom as Verlosser aan te neem. Dan getuig mens daarvan teenoor ’n mens se dominee, of teenoor ’n betroubare vriend wat dit sal verstaan. Die mondelinge getuienis oor die geloofsposisie van persoonlike redding, is vir ’n mens se eie geloofsekerheid nodig. “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Met die hart glo ons, en ons word vrygespreek; en met die mond bely ons, en ons word gered. (Rom.10:9,10,13).
Die Engelse woorde van die 2de vers van die bekende Hallelujalied: “O blye dag, waarop my siel deur Jesus bloed gereinig is”, klink so: “It’s done, the great transaction’s done, I am the Lord’s and He is mine.”
“Here, vandag glo ek U is vir my sonde gekruisig. Ek neem U aan as my Verlosser.”