Lees Lukas 6: 46 – 49
“En elkeen wat hierdie woorde van My hoor en nie daarvolgens….handel nie, kan vergelyk word met ‘n dwaas wat sy huis op sand gebou het” (49).
In sy boek, Bones of Contention, vertel prof. Marvin Lubenow die treurige verhaal van sir Arthur Keith, een van die grootste anatomie (liggaamkunde) wetenskaplikes van die twintigste eeu. In sy outobiografie vertel Keith, hy het as jongman evangeliese dienste in Edinburgh en Aberdeen bygewoon. Hy het gesien hoe jongmense op die kragtige prediking reageer, deur Christus as hulle Verlosser en Vriend te kies. Hy het dikwels self op die randjie van bekering gekom, maar het dit dan weerstaan, want hy het die evangelie van die Here Jesus Christus verwerp. Hy het die Genesisbeskrywing van die skepping as ’n mite beskou en die Bybel was vir hom ’n mensgeskrewe boek. Sir Arthur is as wetenskaplike geboei, deur die ontdekking in 1908 van die sogenaamde Eoanthropus dawsoni, beter bekend as die Piltdown Man. Sowat veertig myl buite Londen, by Piltdown, is die beendere en dele van die skedel van ’n mens ontdek. Die Geological Society of London het hierdie fonds aangekondig as “the earliest known Englishman”. Dit is deur wetenskaplikes wêreldwyd bestempel as die groot ontdekking van een van ons vroegste voorvaders. ’n Massa literatuur het oor Piltdown Man verskyn. Meer as 500 doktorale dissertasies is oor hom geskryf. Vir Sir Arthur Keith was dit die bekragtiging van sy evolusiebeskouings, die missing link, en hy het meer as enigiemand anders oor dié ontdekking geskryf. Sy beroemde boek, The Antiquity of Man, sentreer om Piltdown. Die grootste deel van sy lewe het hy gewy aan die studie en verkondiging van hierdie ontdekking.
Die Piltdown-fossiele is tussen 1908 en 1915 ontdek. Eers in 1953, ontbloot die British Museum die hele Piltdown-eskapade as bedrog. Die kakebeen was nie veel ouer as die jaar waarin dit gevind is nie. Die bene was met ystersoute behandel om dit verouderd te laat lyk. Krapmerke is in die tande ontdek wat daarop dui, dit is met ‘n vyl bewerk. Sir Arthur Keith was 86 jaar oud toe sy vriende hom tuis besoek het, om vir hom die nuus te bring. Die fosiel waarin hy 40 jaar lank geglo en waaraan hy sy lewe gewy het, was ’n kullery. Hieroor skryf prof. Marven Lubenow: “A great scholar had rejected the witness of both God’s natural Creation and the Lord Jesus, whose resurrection validated everything He said and did, only to put a lifetime of misplaced faith in what proved to be a phony fossil.” Hy het sy lewe op sand gebou!
“Here, vandag wil ek seker maak, van die fondasie waarop my kosbare lewe rus.”