Lees Psalm 146
“Dit gaan goed…met die mens wie se hoop gevestig is op die die Here, sy God….Hy ondersteun dié wat bedruk is…en help weeskinders en weduwees…” (5,8,9).
In Die Juniorbode, April 2002, verskyn ‘n mooi, ou verhaal soos Audrey Logan dit in Signs of the Times geskryf het en wat ons Skrifdeel illustreer.
Op die Londenbrug in Engeland staan ’n man ’n dogtertjie en dophou. Tussen die honderde mense, hardloop sy rond. Kyk stip na hulle gesigte en hardloop dan net weer na ander toe, met dieselfde soekende blik na hulle gesigte. Na ’n rukkie loop hy na haar toe en vra: “Kan ek help, Meisie – na wie soek jy?” “Ek soek na God,” antwoord sy naby trane. “Soek na God!” herhaal hy uit die veld geslaan. “Wat bedoel jy?” “My pa is lankal dood, en nou is my ma ook dood. Net voor sy dood is, het sy gesê ek moet God soek. Hy sal na my kyk. Ek het nêrens om te bly nie, en ek is honger – daarom soek ek nou na God.” Die man hurk voor haar, slaan sy arms om haar en bewoë sê hy: “En jy het hom nou gevind.” Hy wou nie maak of hy God is nie, maar hy wou hê sy moet weet: God het haar op iemand laat afkom wat vir haar gaan sorg. Hy neem haar handjie en vat haar na sy huis toe, waar hy haar versorg. Maar hy het verder gegaan. Hy was ryk genoeg om dadelik verpleegsters en ander personeel in diens te neem en om huise te koop, waar hy begin het om sy weeshuise op te rig, waar 1000e kinders versorg sou word. Hierdie man was die later bekende dr. Thomas Barnado, wat die Huis vir Kinders bedryf het.
God gebruik mense om Hom aan ander mense, wat Hom nodig het, bekend te maak en vir hulle te doen, wat Hy graag vir hulle wil doen. Soms is ons dié wat Hom nodig het, en soms is ons weer dié wat Hy wil gebruik. “Want Ék weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek die Here, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle ’n hoopvolle toekoms te gee. Dan sal julle My aanroep en heengaan en tot My bid, en Ek sal na julle luister. En julle sal My soek en vind as julle na My vra met julle hele hart” (Jer.29:11-13 Ou.Vert.). “Soek die Here terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is… (Jes.55:6 Ou Vert.). “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie” (Joh.14:6 Ou Vert.) ”…en Ek sal Hom wat na My toe kom, nooit uitwerp nie” (Joh.6:37)
“Here, vandag soek ek U.”