'n Ja - gesig

Lees 1 Korintiërs 9: 6 – 15

“Elkeen moet gee…nie met teësin of uit dwang nie, want God het die blymoedige gewer lief” (7)

In sy boek, Grace Is Not a Blue-eyed Blond, ver­tel R. Lofton Hudson van ’n dag toe pres. Tho­mas Jef­­fer­son met ’n groep van sy ruiters deur ’n vol ri­vier gestuit is. Elke ruiter moes die vol rivier met sy perd aandurf en moes sy uiterste rui­ter­ver­nuf uit­haal, om deur die ri­vier te kom. ’n Vreemde voet­gang­er, wat ook wou deurgaan, het alles aan­skou. Na­dat ’n aantal van die manne die ri­vier vei­lig deur­kruis het, vra hy vir pres. Jefferson of hy agter op sy perd kan sit, om ook deur die ri­­­vier te kom. Die president willig dadelik in en voor die ver­stom­de oë van sy manne, laat hy die man agter op sy perd sit en bring hom deur die rivier. Kort­gedraad deur hulle gesukkel en die gevaar wat hulle moes trot­seer om deur die rivier te kom, en omdat hulle die vreemdeling opgemerk het en ver­moed het watter guns hy van hulle gaan vra, takel hulle hom toe hy van die president se perd afgly. “Hoekom vra jy van alle mense vir die president om jou deur die rivier te ry?” wil hulle woedend weet. Geskok antwoord die man: “Die president! Ek het nie ge­weet dit is die president nie. Al wat ek weet, op julle almal se gesigte was ‘nee’ geskryf gestaan. Op sy gesig was ‘n ‘ja’, daarom het ek hom gevra.”

As daar in die hart ’n ja-gesindheid heers, weer­­spieël die gesig dit. Mense in nood het teen­oor so ie­mand vrymoedigheid om hulp te vra. Dit behoort die Christen-gesindheid te wees. “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertieren­heid…”(Kol.3:12–Ou Vert.).

“Here, vandag soek ek dat U deur u Gees my hart so met liefde sal vul, dat ’n goeie en hulpvaardige gesindheid op my gesig geskryf sal staan.”