'n Vrywillige gevangene

Lees Psalm 91

“Omdat jy die Here as skuilplek geneem het, die Aller­hoog­ste as jou beskermer, sal geen onheil jou tref nie” (9, 10).

‘n Jong soldaat het tydens die Tweede Wêreld­oorlog manalleen, ‘n groep Ja­pan­­nese gevange ge­neem en na sy basis ge­­­bring. Hy wou die medalje wat aan hom toe­geken is nie aanvaar nie. Hy het sy rede gegee:

“Ek en vyf van my maats is deur die Ja­pan­nese gevange geneem,” het hy vertel. “Hulle het ons met gevelde bajonette teen ons rug, deur die oerwoud laat marsjeer. Ek moes aanskou hoe my maats een na die ander gedood is. Ek het Psalm 23 opgesê. Ek het die Onse Va­der opgesê. Ek het God geken, deur my geloof in Jesus Christus, maar dit was ‘n moeilike tyd. Sterwe moes ek, maar ek was vasbe­slote om my gevangenemer nie te laat sien hoe bang ek was nie. Bewende van kop tot to­ne, terwyl ek tot oor my enkels in die modder marsjeer, met die punt van ‘n bajonet teen my rug, het ek begin fluit, soos ek as ‘n seuntjie gedoen het, wanneer ek in ‘n donker­straat moes afloop. Ek het gefluit:

‘Ons kom saam en bid om die Here se leiding;

Sy wil en sy weg maak Hy spoedig bekend.

Die bose verdrukking,slaan oor in verrukking!

Loof God wat sy kinders bewaar tot die end.’


 “ Ek kom agter iemand anders fluit saam met my – dit was my Japannese gevangene­mer. Hy trek sy geweer terug en kom loop langs my. Ek ruk soos ek skrik toe hy in goeie Engels sê: ‘Ek kan nooit ophou om die Christelike liedere te bewonder nie.’ ‘n Kort gesprek bring aan die lig, hy het Eng­els geleer in ‘n sending­skool waar­voor ek ook al bygedra het. Hy praat van die oorlog en hoe moeilik dit vir die Ja­pannese Christene is. Ons praat oor ons huise en ons families. Hy dwing my stadig­aan weg van die ander af en na ‘n rukkie is ons alleen in die woud. Op sy voorstel kniel ons in die modder en bid saam vir die lydende mensdom en al­mal, wat as gevolg van die wrede oorlog, swaar­kry en ons eie behoef­tes. Ons staan op van ons knieë af en omhels me­kaar vir ‘n oomblik van broederskap. Hy stel voor ek moet hóm nou gevange neem en na die naaste Ame­ri­kaanse basis neem. Hy weet waar ander Ja­pan­nese Christene skuil. Hy neem my na hulle skuilplekke toe. Nooit sal ek die hoop en blydskap vergeet, wat in hulle oë gekom het toe my vriend hulle een vir een vertel, hoe ons mekaar gevind het en waarheen ons hulle nou wou neem nie. Die hele pad het ons oor Chris­tus gesels en hoe ons saam vir Hom moet lewe, al behoort ons aan twee vy­an­dige volke. Toe ons naby die kamp kom, trek almal hulle gesig suur en don­ker en ek, met die Japan­nees se geweer in my han­de, marsjeer hulle die kamp in. Ek verdien dus nie hierdie me­dal­je vir daardie wonderlikste ervaring van my lewe nie.”

As ons in al ons omstandighede naby God bly, Hom bely, Hom vertrou, bring Hy vir ons oorwin­nende uitkoms – bo wat ons verwag het. Dit is vir my wonderlik om te dink dat God gesorg het vir sy kind en wat vir dáárdie Japan­nees, wat ook die Here se kind was, as sy wag laat optree het. Daar is geen einde aan die wonderlike maniere waarop God vir sy kin­ders sorg nie. Ons mag gerus wees.

”Here, vandag skuil ek onder u vleuels.”