Lewe uit 'n laai

Lees Psalm 40:1-6

“U het my ’n nuwe lied in die mond gelê” (4)

Op ’n Septemberdag in 1963, is June Mullins, vir die soveelste keer opgeneem in ’n psigiatriese inrigting. Ag­ter haar was 10 jaar van magtelose stryd teen ver­do­wingsmiddels. Elke moontlike vorm van rehabilitasie wat die samelewing kon bied, het misluk.

Nadat die staaldeur agter haar toegesluit is, kyk June in die kamer rond. Daar is ’n klein vensterjie, met ’n staal skerm daarvoor, ‘n bed en ’n laaikas met vier laaie. En ‘n swart boek, wat sy dadelik as die Bybel herken, op die kas. “Ag, nee, nie dít nie! Wat doen ek daarmee?” Sy kan dit nie uitgooi nie. Die deur en die venster is gesluit. Die laaikas! Sy trek die onderste laai oop en gooi die boek in die laai. Sy stof haar hande af asof sy van ‘n las ontslae is. June gaan op haar bed lê. Kort-kort betrap sy haarself dat sy na daardie vierde laai lê en kyk. Dit is asof die laai twee oë het wat haar aanstaar. Teen die vierde dag kan sy dit nie meer verduur nie. Sy dink: “Miskien moet ek dit uithaal en bietjie daarin lees. Dan sal my siel miskien rus kry.”

June voel ’n benoudheid in haar toe sy oorstap na die laaikas toe en die Bybel uithaal. Dit is soos ’n lewende ding in haar hande en sy weet nie wat om daarmee te doen nie. Sy erg haar vir haarself oor haar gewaarwor­ding. Waar moet sy lees? Vir baie, baie jare het sy nooit die Bybel gelees nie. Vir haar is die Bybel net ’n kerk­boek met ’n klomp hoofstukke en klompe on­verstaanbare en onsamehangende verse.

Sy gaan sit op haar bed en maak die Bybel half in die middel oop. Waar sy oopmaak, begin sy lees. Sy het by Psalm 40 oopgemaak. (Dit is 1963 en daar­om die ou vertaling). Dit is haar eie lewens­verhaal wat sy begin lees: ”Ek het die Here lank verwag en Hy het Hom na my toe neegebuig en my hulpgeroep gehoor; en Hy het my uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek en my voete op ’n rots gestel; Hy het my gange vasge­maak.” Sy hou aan lees. Hoofstuk na hoofstuk. Ses dae later word sy uit die inrigting ontslaan. Genoeg gestabiliseer om huis toe te gaan.

Sy het uitgegaan, met die Woord van God en die belofte van Psalm 40 by haar. ’n Week later het sy die Here Jesus Christus as haar Verlosser aange­neem. Nege jaar later getuig sy: “Komende Sep­tember, sal dit nege jaar wees vandat ek daardie middag God se belofte van redding gelees het. Wat in my begin is, word steed sterker en beter.



“Here, vandag dank ek U vir die geopende deur van U redding en U genade, wat my oë op daardie deur, vestig.”