Voorspraak

Lees Hebreërs 7: 18 – 28

“Aan die ander kant het ‘n beter hoop in­getree… Hy lewe vir altyd om vir hulle by God in te tree” (Heb.7:19,25)

Gedurende die Amerikaanse Burgeroorlog het ’n jong soldaat aan die slaap geraak ter­wyl hy moes wagstaan. Hy is gevonnis om voor ’n vuurpeleton te sterf. ’n Afvaardiging het by pres. Lincoln vir die jongman se lewe gaan pleit. Hy was ’n goeie en ge­wilde lid van sy gemeenskap, die lieflingseun van sy ouers­. Die president het egter besluit dat die dissipline in die leër die vol­trekking van so ’n von­nis vereis. Die groep het droewig van die pre­si­dent afskeid geneem.

Sy seuntjie, Tad Lin­coln, het on­opsigtelik in ’n hoek van die ka­mer gesit en speel. Nou sluip hy nader, gee ’n plukkie aan sy pa se mou. “Asseblief, Pa, moenie dat hulle daardie ar­me man dood­skiet nie.” Lincoln, reeds ont­roer deur die pleidooi van die af­vaar­diging, kon sy seuntjie se smeking nie weier nie. Hy het die vonnis herroep.

’n Mens voel verlig die saak het so goed af­geloop en die jongman se lewe is gespaar. Tog voel ’n mens die president was nie reg­verdig nie. Hy het nie reg gehad om bloot op die pleidooi van sy seuntjie, wat ’n sagte plek in sy hart gehad het, die jongman se skul­dige daad af te skryf nie. Die Seun van God tree ook vir ons in by sy Vader: Jesus se voor­spraak vir ons by sy Vader het regver­di­ge waarde: “Christus Jesus het (vir ons) gesterf… Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons” (Rom.8:33). ’n Groot ge­rus­stel­ling vir ons in ons stryd teen ons sondigheid.

“Here, vandag vertrou ek in u voorspraak vir my.”