Hy soek en red

Lees Handelinge 26: 9 – 18

“Saul, Saul, waarom vervolg jy My? Jy maak jou net seer deur jou te verset” (4)

Die 1994 uitgawe van Gideon Testimonies from Inter­national Extension Countries vertel, on­der die titel, From Smoking the Word to Speak­ing the Word, die verhaal van Jacob Koshy. Hy het in Singapore opgegroei met net een ver­terende ambisie: om al die geld wat hy kan maak, en besittings wat hy kan vergader, in die hande te kry. Dit het hom in die dwelm- en dobbelwêreld ingelok. Hy het die lei­er, die lord, van ’n inter­na­sio­nale smok­­kelnet­werk geword. Hy het skatryk geword, maar in 1980 is hy ge­ar­res­teer en in ’n dwelmre­ha­bi­litasietronk in Sin­ga­pore op­ge­sluit. Hy was uitermate gefrus­treerd. Al sy drome, am­bi­sies en doelwitte het rond­om hom, in die be­knop­te tronksel, aan sker­we gelê. Hy was ’n strawwe ro­ker, maar si­ga­ret­te was in die tronk verbode. Hy het tabak in­ge­smok­kel en dit in die blaaie van ‘n Gi­deonbybel ge­rol om te rook. Ter­wyl hy eendag een van dié self­ge­maakte sigarette lê en rook raak hy aan die slaap. Hy word wak­ker en tussen sy vingers lê die uitgebrande flentertjie pa­pier. Met die be­we­ging van sy hand, val die stukkie van die By­bel­blad wat oor­gebly het, oop. Hy lees die woor­de wat daarop staan: “Saul, Saul waarom vervolg jy My?” Geraak deur die woorde vra hy ’n ander Bybel en lees die hele verhaal van Sau­lus se be­ke­ring. Dit kom in sy hart op: As God ie­mand soos Saulus kon help, kan God hóm ook help. Daar in sy sel kniel hy en vra dié Jesus, van wie hy nou gelees het, om ook in sy lewe in te kom en hom te verander. Hy begin huil en kan nie ophou nie. Dit is asof die trane oor sy ver­speelde lewe, die pyn in sy hart wegwas en hy weet God het hom ge­red. Hy het da­delik begin om sy on­dervinding met die ander gevange­nes te be­spreek. Sy veranderde le­­we, het tot ’n vroeër vry­la­ting gelei en hy het da­de­­lik by ‘n kerk betrokke ge­raak. Hy het ’n Chris­ten­­vrou ontmoet met wie hy getrou het en hy het sen­deling in die Verre-Ooste ge­word. Ver en wyd ver­tel hy: “Who would have believed that I could find the truth by smo­king the Word of God?”

Die mense het Jesus kwalik geneem, omdat Hy by die tollenaar Saggeus tuisgegaan het. Sy verweer was: “Die Seun van die mens het im­mers ge­kom om te soek en te red wat verlore is” (Luk.19:10). God beheer die om­standighede waar­in sy Woord na iemand toe kom. Die Heilige Gees ge­­­bruik God se Woord, al is dit ’n enkele sin op ’n uit­­gebrande Bybelbladsy, om ’n sondaar se hart te laat ontwaak om na redding te verlang. “Julle is immers weergebore, nie uit ver­gank­like saad nie, maar uit onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God” (1 Pet.2:23).

 “Here, vandag bid ek dat U my red.”