Swaarkry kweek volharding

Maar as dit die Heilige Gees is wat ons lewe oorheers, bewerk Hy…liefde, blydskap… (Gal.5:22). – Van alle kante af het probleme op my toegesak…in my eie gemoed was daar dinge wat my bang gemaak het. Maar hoe kan God nie ’n mens wat terneergedruk is weer moed gee nie! (2 Kor.7:5,6). – Ons is ook bly as daar moeilikheid kom, want ons weet dat moeilikheid ’n mens leer om geduldig te wees (Rom.5:3). – Hou julle oë altyd op Jesus, want Hy lei ons om op God te vertrou…Hy was gewillig om die skandelike dood op die kruis te sterf ter wille van die vreugde wat voorgelê het (Heb.12:2). – Dit is wel waar dat ons baie swaarkry omdat ons aan Christus behoort, maar kyk hoe wonderlik troos en versterk Hy ons nie! (2 Kor.1:5). – Julle moet bly wees omdat julle aan die Here verbind is, Ek wil dit nog ’n keer sê: julle moet bly wees! Julle moet julle nie oor enigiets bekommer nie. Bid daaroor en sê vir God dankie! (Fil.4:4-6).– Die Lam wat op die troon is, sal vir hulle sorg soos ’n herder sy skape oppas. Hy sal hulle bring na die fonteine met water wat lewe gee en God sal al hulle trane afvee (Op.7:17). – Eintlik besit ek niks, maar ek het alles wat die moeite werd is (2 sor.6:10). Laat jou bekommernis aan die Here oor en Hy sal vir jou sorg. Hy sal iemand wat aan Hom gehoorsaam is nooit laat struikel nie (Ps.55:23) Ons sal op Hom vertrou en nooit bang wees nie. Hy is ons krag en ons verdediger en Hy het ons vrygemaak (Jes.12:2). Julle moet julle nie oor enigiets bekommer nie. Bid daaroor en sê vir God duidelik wat julle wil hê. Vra Hom om dit vir julle te doen en sê vir Hom dankie

Veilig naby God

Lees 2 Timoteus 4: 9 – 18

“…want Demas het die teenswoordige wêreld liefgekry en my verlaat en na Tessalonika vertrek” (9).

In ‘n sendingaksie van sy kerk, wat Pastor Bill, “our mis­­sion adventure in South Africa,” noem, het ‘n man en sy vrou, Sheff en Atehna Priest, ‘n veelkleurige vlieër na die inwyding van die nuwe kerk toe gebring. In die sterk wind het die vlieër pragtig, onder toejuiging van die aan­we­si­ges, baie van hulle kinders, oor die dak van die nu­we kerk ge­sweef. Dit het Pastor Bill aan sy kinderdae herinnner toe hy en sy broers, Tom en Jim, hulle vlieërs teen die wind in die lug laat opklim het. Hy skryf (ek vertaal): “As die rukwind teen ons vlieërs druk het ons die tou net stewiger vas gehou om dit onder beheer te hou. In plaas van weg te waai met die sterk wind, het dit net hoër gerys. Dit het getrek en geruk, maar die tou en die stert het dit reg gehou, teen die wind op”.  Die sterk wind en die stewige hand wat die vlieërlyn vasgehou het, het die vlie­ër net hoër laat styg. Eenkeer het die lyn gebreek en die vlieër het windaf weg­gewaai asof dit jubel: “Ek is vry! Ek is vry!” Maar dit was vir die vlieër ‘n duur vryheid. Die wind het die vlieër laat knak en flap­pen­de, opge­frommel en dit met ‘n slag op die grond laat val. Die vlieër se vryheid het sy ver­nietiging gebring. Pastor Bill skryf verder (nou sy eie woorde): How much like a kite is my life at times. The Lord places adversity and re­strictions in my path … restraints to gain strength and to soar higher …” Ons moet die weerstande en probleme in ons lewe, herken as God se manier, om ons hoër hoogtes en groter oorwinnings, in ons gees­­telike lewe, te laat bereik.

Dawid het in sy geloof sterk geword, omdat hy teen sulke sterke winde van teenkanting en beproe­wings in, bly opstyg het. “Toe ek benoud was, het ek die Here aangeroep, en ek het tot my God ge­roep om hulp; Hy het my stem uit sy paleis gehoor … Hy het uit die hoogte sy hand uitgestrek, Hy het my ge­gryp … God is dit wat my met krag om­gord” (Ps.18:7,17,33). “Want my lewe kwyn weg van kommer … ek is vergeet uit die hart … Maar ék ver­trou op U, o Here! Ek sê: ‘U is my God.’ Wees sterk, en laat julle hart sterk wees, al­mal wat op die Here wag!” (Ps.31:11,13,15,25).

“Here, vandag wil ek moedig op U wag.”

Volhard

Lees: 2 Petrus 1: 1 – 10

“Omdat julle glo word julle deur die krag van God veilig bewaar… al is dit nodig dat julle vir ’n kort tydjie bedroef gemaak word deur allerhande beproewings, sodat die egtheid van julle geloof getoets kan word” (5,6,7).

Op 1 Junie 1965 vaar Ro­bert Manry met ’n vier­­­meter lange boot, Tin­kerbelle, stil­weg uit die hawe van Falmouth, Massachusetts. Die be­stem­ming was Fal­mouth, Engeland. Die boot was die kleinste vaar­tuig ooit, om hierdie reis te onder­neem. Robert Manry was ’n kopieskry­wer van die koerant, Cle­ve­land Plain Dealer­. Tien jaar agter ’n lesse­naar, was vir hom net genoeg vervel­ing vir ’n leef­tyd. Manry het net vir sy vrou en ’n paar naby vriende daarvan ver­­tel.

Met sy vaart, moes hy fol­te­rende, slapelose nag­­te verduur, soos hy probeer het om uit die pad van groot skepe te bly. Sy kos het smaak­loos ge­word. Een­saamheid het hal­lu­si­na­sies veroorsaak. Die boot se roer het drie keer ge­breek. ‘n Storm het hom oorboord gegooi – as hy nie ‘n tou om sy lyf vas­gebind het nie, sou hy hom­self nooit terug op die boot kon trek nie. Uit­ein­delik, na 78 dae al­leen op die see, vaar hy die ha­we van Fal­mouth, Engeland, binne. Ty­dens ­die nagte agter die boot se stuur, het hy hom ingedink hoe hy stil-stil die hawe gaan invaar, in ’n ho­tel tuisgaan, al­leen aand­ete geniet en die volgende og­gend by een van die plaas­like koerante gaan hoor, of hulle dalk belangstel in sy storie. ‘n Groot ver­ras­­sing het op hom gewag! Nuus oor hom is wyd en syd ver­sprei. Tot sy verbasing ontmoet en be­ge­lei 300 vaar­tuie, met bla­sende toeters, Tinkerbelle tot in die hawe. Aan wal verwelkom 47 000 mense hom skreeuend en juigend.

Een van die grootste temas in die Skrif is vol­hard­ing, skryf Radiokansel, wat hierdie ver­haal vertel. Dit maak nie saak hoe groot ’n mens se roep­ing, ta­lent, saak of doelwit is nie, sonder vol­har­ding kan mens dit nie maak nie.

Volhard beteken om aan te hou om op ’n doel­wit af te stuur, al is die teëkanting ook hoe groot. Paulus se beeld, van hierdie volharding in die gees­­telike lewe, is ‘n atleet se inspanning om ‘n prys te wen. “En elkeen wat aan ’n wedstryd deelneem, onthou hom in alles—húlle nogal om ‘n verwelklike krans te ontvang, maar ons ’n onve­r­welk­like (1Kor.9:25). Om te volhard in ons gees­te­like le­we, vereis om die hart geheel aan die Here oor te gee, in Hom te vertrou en die hemel die doelwit te maak. Baie elemente druis in teen hierdie lewenskoers. Die Heilige Gees werk hierdie krag en begeerte, om te vol­hard, in ons harte. Oorvloedig getuig die skrif van die belangrik­heid van volharding. “Maar wie vol­hard tot die einde toe,  sal ge­red word (Mat.24:13, Mar.13:13)…. verbly julle in die hoop…volhard in die gebed (Rom.12:12). Let op jouself en op die leer; volhard daarin (1Ti.4:16). Elkeen wat volhard om ’n dissipel van die Here Jesus te wees, kan uitsien na ’n feestelike verwelkoming in die hemel! Ons groot praktiese hulp: gereelde Skriflesing, gereelde gebed.

“Here, vandag vestig ek my oë op my wins in die hemel.”

'n Krokodil in die straat

Lees Psalm 121

“Die Here sal jou bewaar vir elke onheil.” (7).

‘n Inwoner van die stad Mizuho, Japan, bel die po­­lisie en vertel op­ge­wonde van ‘n krokodil wat straataf loop, berig die Yomiuri-nuus. Baie vinnig ar­­ri­veer ‘n polisiemotor op die to­neel en die poli­sie­man­ne is ver­stom oor wat hulle sien. ‘n Kro­ko­dil loop werklik met sy eienaardige lyfswaai be­wegings in die straat af. Met al die aandag om hom, maak die krokodil hom blitsig uit die voete. Hy storm ‘n rysland langs die straat bin­ne.  Dit neem die polisie darem net 10 minute om die on­ge­dierte in die hande te kry. Die polisie stel vas die vyf kilo­gram, een meter lange krokodil, is ‘n troe­tel­dier, wat vroeër die dag van sy eie­naar ontsnap het en pad gevat het.

Hieroor maak Neil Verwey, sendeling in Ja­pan, wat vir ons die storie gestuur het, die op­merk­ing: “Soos ons deur die strate van die lewe wandel, weet ons  nooit watter verrassings daar op ons mag wag nie. Daarom behoort ons elke dag, die dag saam met God in te gaan. ‘Beroem jou nie op die dag van môre nie, want jy weet nie wat die dag sal bring nie’” (Spreuke 27:1).

Dit is ‘n vertroostende verwagting, die al­mag­tige God, aan wie ons deur die Here Jesus Chris­tus behoort, be­skerm ons voetstap vir voetstap: “Hy kan jou voet nie laat wankel nie; jou Be­waar­der kan nie sluimer nie…die Here is jou Be­­waarder, die Here is jou skaduwee aan jou regterhand” (Ps.121:3,5). Soms word ons geloof op die proef gestel, maar ons vertroue in God se on­feilbaarheid gee ons weer oorwinning. Dit is tot God se eer as ons bly vertrou, al lyk dit of sake nie wil regkom nie. Daniël is gedreig, lees ons in Daniël 6, en is werklik in die leeukuil gegooi, maar hy getuig na sy redding: “My God het sy engel gestuur en die bek van die leeus toegesluit, sodat hulle my geen leed aangedoen het nie… (Dan.6:23). Deur ons te beproef, maak Hy ons ge­loof sterker en beter.

Here, vandag vertrou ek in U verskerming.”

Verkeerde Oordeel

Lees Handelinge 28:  1 – 6

“Toe die mense die slang aan Paulus se hand sien hang, sê hulle vir mekaar: ‘Hierdie man moet beslis ‘n moordenaar wees… die goddelike wraak wil hom nie laat lewe nie. Paulus het egter…niks oorgekom nie…”4.

Neil Verwey, sendeling in Japan het vir my hier­die mooi storie gestuur: ‘n Vrou het van Seattle na San Francisco toe ge­vlieg. Die vliegtuig se roete is verander en moes na Sa­cramento vlieg. Daar ge­land, het die vlug­loods die passasiers in­gelig, daar sal ’n onder­­breking van 50 minute wees en dié wat wou, kon afklim en bene rek. Almal het uit­geklim, be­halwe ’n blinde vrou. Die man wat die sto­rie vertel, sê hy kon sien sy is blind, want haar gids­hond, die so­genaamde Seeing Eye Dog, het dwarsdeur die vlug rus­tig by haar voete gelê. Die loods het na haar toe ge­gaan en haar by die naam genoem: ”Kathy, ons gaan vir amper ’n uur hier in Sacramento oorstaan. Wil jy nie ook afklim en bietjie bene rek nie. Ek sal jou help.” Die blinde vrou ant­woord: “Nee, dankie, maar dit kan dalk goed wees as my hond bietjie kon bene rek.” Nou sê die storie­verteller: “Picture this: All the people in the gate area came to a com­plete standsill, when they look­ed up and saw the pilot walk off the plane with a Seeing Eye dog! The pilot was even wea­ring sun­glasses. People scattered. They not only tried to change planes, but they were trying to change airlines! True story – remember: Things aren’t always as they appear.”

Wat was die waarheid? ’n Toegewyde vlieënier be­wys aan een van sy be­hoef­ti­ge pas­sa­siers, ’n blin­de vrou, ’n vrien­­delike guns. Hy gaan stap met haar hond. Wat lei die mense af van wat hulle sién? Húl­le vliegtuig se vlie­ë­­nier is blind. Hulle tree sumier dras­ties op volgens wat hul­le aflei, sonder om hul­le van die feite te verge­wis. Spreuke15:28: “’n Regverdige mens dink voor hy antwoord; godde­lose mense sê net slegte dinge.” Engelse verta­ling: “The heart of the righteous studieth to answer; but the mouth of the wicked poureth out evil things”

“Here, vandag wil ek diep dink voor ek praat.”

Wie se beeld

Lees 1 Korintiërs 3:1-18

“Ons word al meer verander om aan …Christus gelyk te word,(deur) die Here wat die Gees is” (18)

Dannaker, die Duitse beeldhouer, werk vir twee jaar aan ’n beeld van Christus. Uiteindelik is hy tevrede. Hy besluit om die voorkoms van die beeld op die proef te stel. Hy roep ’n dogtertjie na sy ateljee toe. Hy wys na die beeld: “Wie is dit?” Na een kyk, antwoord sy: “”n Groot man.” Dannaker weet hy het gefaal. Hy neem egter weer sy beitel en hamer, vertel The Presbyterian. Vir ses lange jare werk hy weer aan die beeld. Toe hy tevrede is met sy werk, roep hy weer ’n dog­tertjie, laat haar voor die beeld staan en vra: “Wie is dit?” Vir ’n lang oomblik kyk sy na die beeld en toe kom trane in haar ogies en sy vou haar handjies oor haar bors en fluister: “Laat die kin­dertjies na My toe kom.” Vir Dannaker is dit ge­noeg. Hy weet hy het geslaag. Daarna vertel hy wat in die ses jaar met hom gebeur het. Gedurende die vermoeiende dae van daardie ses jaar, het hy met sy Bybel in sy binnekamer, ’n open­baring gekry van wie die Here Jesus Christus reg­tig is. Die beeld van Christus in sy hart het hy oorgedra op die marmer in sy ateljee. “Wie my opdragte het en dit uitvoer – dit is hy wat My lief­het. En wie my liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en My aan hom open­baar” (Joh.14:21). ’n Tyd later gee Napoleon Bo­­na­par­te hom die opdrag, om van die go­din Ve­­nus ’n beeld vir die Louvré te maak. Dan­na­ker ­weier. “’n Man wat Christus gesien het, kan sy ga­wes nie ge­bruik, om van ’n hei­den­se godin ’n beeld te maak nie. Van nou af is my kuns ’n gewyde saak.”

Dit is die geheim van ’n oorwinnende lewe van toewyding aan Christus. Solank Hy groot en heer­lik in die hart is, het die wêreld se verleidings nie ’n vat op die hart nie. Dit was die geheim van Pau­lus se gedurige hartlike toewyding aan Christus: “…om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde…Al wat ek wens, is om Christus te ken, die krag van sy opstanding te ondervind en deel te hê aan sy lyding, deur aan Hom gelyk te word in sy dood…” (Fil.3:8,10).

 “Here, vandag wil ek my oë stip op U gevestig hou.”

Spykermerke

Lees Kolossense 3: 5 – 17

“Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het” (13).

Neil Verwey, sendeling in Japan, vertel van die kort gehumeurde seun­t­jie wat vir almal ’n pyn was. Ten einde raad met die mannetjie, gee sy pa vir hom ’n sak­kie spykers en ’n nu­we hamer. Hy sê vir hom: “Elke keer as jy kwaad word, slaan jy ’n spy­ker in daardie paal in.” Die eerste dag het die oudjie 37 spy­kers gaan in­slaan. Die volgende we­ke het hy ge­leer om sy humeur te beteuel en die spykers wat hy moes inslaan het al minder ge­word. En toe op ’n dag was dit nie vir hom nodig om een spyker te gaan in­slaan nie. Hy het ge­leer om sy humeur te beteuel en dit het sy algemene om­gang met almal om hom ook beter gemaak. Hy gaan sê dit vir sy pa. Sy pa gee vir hom ’n nuwe tang en sê vir hom, hy kan nou die spykers gaan uittrek. Dae het omgegaan, maar op ’n dag gaan wys hy die laaste spy­ker vir sy pa. Hy het almal uitgetrek. Sy pa vat sy hand en saam gaan kyk hulle na die paal. Sy pa sê vir hom: “My seun, ek is saam met jou bly, maar ek wil jou graag ’n groot les vir die lewe leer. Kyk na al die gaatjies in die paal. Elke spy­ker het sy gaatjie agtergelaat. As ’n mens iets leliks doen of sê as jy kwaad is, maak jy ’n merk en niks kan dit weer reg­maak nie, al sê jy hoeveel keer jy is jammer. Die merk bly in ie­mand anders se hart.” Salo­mo het die skade wat seer­maakwoorde doen baie erg beskryf: “Praat sonder om te dink kan soos dolksteke wees…” (Sp.12:18).

“Here, vandag wil ek versigtig wees met my humeur en met my woorde. Help U my, asseblief.”

Ons Fokus

Lees 1 Johannes 2:12-17

“Moenie die sondige wêreld en die dinge van die wêreld liefhê nie” (15).

William Feather, die skrywer, vertel in Florida Bap­tist Witness, ’n jongman tel op ’n dag som­mer ’n groot dolargeldnoot in die straat op. Daar­na loop hy altyd op die grond en kyk as hy rond­beweeg. Na  ver­loop van jare het hy 29,516 knope, 54,172 spelde en 12 muntstukke opgetel, ’n krom rug gekry en ’n gierige geaardheid ont­wik­kel. Wil­liam Feather skryf: “He lost the glory of the sunlight, the sheen of the stars, the smiles of his friends, tree blossoms in the spring, the blue skies, and the entire joy of living.”

In ons geestelike geloofslewe, waar die waar­des van die aardse lewe, gedurig in konflik is met die waardes van God se hemelse koninkryk, ge­beur dit, soos meeste van ons dit al ervaar het, maklik en ongemerk met ’n mens. ’n Wêreldse element skuif die Here Jesus Christus en sy be­lange, op die agtergrond. Nie net in ons heden­daagse omge­wing nie, maar ook in die Bybel het ons waarskuwende voorbeelde. In sy tog saam met Abraham na die beloofde Kanaän toe, lees ons van Lot: “Lot het toe rondgekyk en gesien die hele Jordaanstreek tot by Soar het so volop water soos ‘n tuin van die Here, soos Egipte…en Lot het in die stede van die Jordaanstreek gewoon; tot by Sodom het hy gaan tent opslaan’ (Gen.13:10-12). Aan die jong evangelie­die­naar, Timoteus, skryf Paulus ’n hartseer en waar­skuwende sinnetjie: “…want Demas het die teens­woordige wêreld liefgekry en my verlaat en na Tessalonika vertrek.”(2 Tim.4:10). Die Satan het selfs Jesus se oë aardswaarts probeer trek. Hy het Hom al die ko­ninkryke van die wêreld gewys en Hom dit aan­gebied as Hy sou neerkniel en Satan aanbid. Die Here Jesus is ons metgesel en helper in tye van versoeking en ons kry van Hom aanmoediging: “… laat ons elke las van ons afgooi, ook die sonde wat ons so maklik verstrik, en laat ons die wed­loop wat vir ons voorlê, met volharding hard­loop, die oog gevestig op Jesus,  die Begin en Voleinder van die geloof. Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God” (Heb.12:1,2).

 “Here, vandag hou ek my oë stip op U.”

Luister

Lees 1 Konings 19: 9 – 18

“Maar na die vuur was daar ’n fluistering in die wind­stilte. Toe Elia dit hoor, het hy sy gesig met sy mantel toegemaak… Toe hoor hy ’n stem wat vir hom sê: ‘Wat maak jy hier, Elia?’” (12, 13).

’n Tienjarige seun se pa, gee op sy sterfbed, vir sy seun sy eie horlosie as ’n aan­denk­ing. Die hor­losie was vir die seun baie werd. Elke dag dra hy dit, wys dit vir ander, dink aan sy pa, praat van sy pa. Eendag kui­er die seun by sy oom in sy groot slaghuis. Die oom laat hom alles bekyk. Rond­om en bokant hom dreun die groot waai­ers. Die seun verkyk hom so aan alles, hy strui­kel en val. Dadelik weet hy, hy het met die val sy hor­lo­sie verloor. Angstig begin hy op die vloer rond­­soek. Op die vloer lê hope houtskaafsels, waar­op die vleis, bloed drup. Hy voel al hierdie  skaaf­­sels sorgvuldig deur. Sy oom kom soek hom. Hy kry hom huilend op sy knieë op die vloer, soe­ken­de na die horlosie.  Die oom help soek, maar hulle kry nie die horlosie nie. Die verstandige oom gaan ska­kel by die deur die waaiers af. Dit word dood­stil. “Nou luister ons,” sê die oom. Hulle luister. In die stilte hoor hul­le na ’n kort rukkie albei die tik-tik van die hor­losie. Hulle volg die geluid en aan die voet van ’n metaalanker, kry hulle die horlosie.

Die wêreld se lawaai om ons, in ons ore en in ons gedagtes, maak dit vir ons moeilik – eintlik onmoontlik – om God se stem te hoor. Die Heilige Gees se stem kom met sagtheid na ons hart toe. Ons moet ons geestelike oor naby aan God se woord hou, om sy stem te hoor. As ons bid moet dit in ons stil word. Die tydjie wat iemand neem om met die Here in die binnekamer om te gaan, word met reg, stiltetyd, genoem. Ons moet ’n hele paar afskakelings doen om die nodige stilte vir omgang met God te bereik. Waar die dissipels alleen met Jesus was, weg van die ru­moer van die skare af, kon hulle beste na Hom luister. Drie van Jesus se dissipels, se beste oomblikke saam met Hom, was op die berg, waar hulle sy heerlikheid ge­sien het. “Jesus (het) vir Petrus en Jakobus en Johannes saamgeneem en hulle alleen op ‘n hoë berg in die een­saamheid geneem; en Hy het voor hulle van gedaante verander” (Mark.9:1-3).

“Here, vandag soek ek stilte om u stem te hoor.”

Hy het Sy lewe gegee

Skrifdeel: 1 Johannes 3:11-17

“Hiéraan weet ons wat liefde is: Jesus het sy lewe vir ons afgelê” (16)

 Die Preachers’ Promptuary of Anecdotes vertel, hoe die dak van die Bridgenorth Church herstel is. Met etens­tyd het die werkers hulle werk verlaat. Twee seuns van ’n naburige skool, klouter in die afwesigheid van die werk­ers, op die dak en speel heerlik tussen die balke. Toe dit amper tyd is vir die werkers om terug te keer, gee die twee pad, maar hulle hardloop oor ’n swak stuk pla­fon wat onder hulle padgee. Die jongste van die twee was voor. In sy val gryp hy ’n balk stewig vas. Die ouer seun val agter die jonger een aan en gryp dié se voete vas. Daar hang die twee en wens die werkers wil terug kom. Na ’n ruk voel dit vir die ouer seun, wat sy maat se voete vasgegryp het, sy maat se greep wil gly. “Kan jy nog ’n rukkie hou…as ek jou voete los.” “Ja,” fluister die ander een van bo af. “Sê vir my ma ek was nie stout nie. Ek is lief vir haar. Totsiens!” en daarmee los hy sy maat se voete en val met ’n dowwe plof op die vloer, ver daar­ on­der. Die werkers keer terug. Hulle kry die seun wat  aan die balk hang en die een wat dood op die vloer lê.

Die ouer seun het geweet hy gaan hom dood val, maar hy wou sy maat se lewe red. Dit ontroer ons en dwing ons bewondering af, wanneer ‘n persoon sy kos­bare lewe prysgee ter wille van iemand anders. Dit is die wonderlike fondament waar­op Chris­tus se verlossing staan. Hy het sy lewe prys­gegee, sodat ons kan lewe. Dit is die evangelie. Jesus het self verklaar: “Niemand het gro­ter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy  vriende aflê” (Joh.13:15). Dit is ’n waarheid wat Paulus ver­stom het: “’n Mens gee tog nie sommer jou lewe prys nie…ja, tog vir ‘n  goeie mens sal iemand miskien nog die moed hê om te sterwe. Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin, dat Christus vir ons gesterf het, toe ons nog sondaars was” (Rom.5:7,8). Het u Jesus se kruisdood al in hierdie lig ge­sien? En ú hart het oopgegaan vir hierdie groot wonder en u het met oorgawe Christus se liefde vir u erken en dit aangeneem met geloof in Hom as u Verlos­ser? “Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring…” (1 Petrus 3:18).

 Here, vandag sê ek dankie: U het u lewe vir my gegee om my te red.”

Donkerte

Lees Johannes 8: 12 – 20

“Ek is die lig van die wêreld. Wie My volg, sal  nooit in die duisternis lewe nie, maar sal die lig hê wat lewe gee” (12)

Bob Woods vertel in Pulpit Digest die storie van die ouer­paar en hulle twee kinders, ‘n dogter van 7 en ’n seun van 11 jaar, wat die Carlsbad Caverns be­­soek het, skryf Neil Verwey…wat reeds 50 jaar lank sendeling in Japan is, vir my. Soos die gidse dit gewoonlik doen, ska­kel ook hulle gids die ligte af, toe hulle die verste punt in die grot bereik. Hy wil hê die besoekers moet ervaar hoe verskriklik donker dit in die grot is. Die dog­ter­­tjie, onver­wags en skielik omring met die swart don­kerte, gaan aan die huil. Da­de­lik klink die boe­tie se stem uit die donkerte op: “Moenie huil nie Sussie. Iemand hier weet hoe om die ligte weer aan te sit.”

Donkerte is ’n vreeswekkende en bekende er­va­ring. Reeds die twee­de vers in Genesis skryf van die donker: “…dit was donker…” So begin die bybel. En die vogende vers skryf dadelik van lig: “Toe het God gesê: ‘Laat daar lig wees!’ En daar was lig.” God bring lig. “God is lig, en daar is geen duisternis in Hom nie” (1 Joh.1:5). Die evan­ge­lie se bevrydende bood­­skap is lig. Ons ken die om­ge­wing se natuurlike don­kerte. Ons ken ook men­se, of selfs volke, se don­ker denke – onkun­de. Dan is daar geeste­like, of geloofs-duis­ter­nis. In ’n mens se gemoed en hart kan dit don­ker wees. Die ervaring van duisternis in die hart maak ’n mens diep ongelukkig.

Die koms van die Here Je­sus aarde toe, word deur die profeet, Jesaja, met die aansteek van lig be­skryf: “Jy, gebied Sebulon … Galilea waar die heidene woon … het ’n groot lig gesien; hulle wat in die skemerland van die dood lewe, vir hulle het die lig opgegaan” (Mat.4:15,16). Iemand wat die red­ding van die Here Jesus, sy dood aan die kruis vir ons sondeskuld en sy opstanding uit die dood, om vir ons geestelike lewe te bewerk, verstaan en glo en toe-ëien, gaan uit ’n donker gemoeds­be­le­wing oor na ’n gemoedsbelewing in die lig. “Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig” (Ef.5:8). Die Heilige Gees wek geloof in die hart op en ons glo God het ons ons sondeskuld ver­gewe, ons glo God beheer ons lewe en ons glo ons gaan hemel toe as ons die dag sterf. Die Persoon van die Here Jesus word vir ons werklikheid en ons begin ’n lewe van vriendskap en omgang met Hom. Hy en sy liefde is die lig wat die donker uit ons harte verdryf. Die Bybel word vir ons die aardse lamp wat ons in die Here se lig laat lewe.

 “Here, vandag kom ek in U lig in.”

Die Waarskuwing

Lees       Joël 2:

Blaas die basuin op Sion, en blaas alarm op my heilige berg! Laat al die  inwoners van die land bewe, want die dag van die Here kom, want hy is naby  (1).

Sowat 20% van die wêreld se aardbewings op die skaal van 6 of meer, gebeur in Japan. ‘n Aardbewing wat 7.3 meet, het sentraal Japan in 1995 getref en meer as 6 400 mense is gedood. Aardbewings is dus ‘n groot bedreiging in Japan. Neil Verwey, sendeling in Japan, het die volgende berig wat in die Japundit verskyn vir ons gestuur.

‘n Japannese maatskappy ontwikkel ‘n waar­sku­wings­toestel so groot soos ‘n storieboek, om mense teen komende aardbewings te waarsku. Dit is so ontwerp, mense word sekondes voor ‘n aardbewing g­e­waarsku. Die sekuriteitsfirma, SunShine Co., sê dit behoort mense genoeg tyd te gee om onder tafels weg te kruip, die gas en ander vuurbronne te beveilig of selfs net om weg te beweeg van potensiëel gevaarlike meubels af.

Hierdie toestel stuur waarskuwings uit sodra dit die eerste golwe van die aardbewing,  wat nie groot trillings veroorsaak nie, maar vinniger beweeg as die golwe wat die eintlike skudding gaan veroor­saak, opvang. Hierdie waarskuwings kan die tril­lings met 10 tot 20 sekondes vooruit­gaan alhoewel die periode korter of selfs afwesig kan wees wan­neer die middelpunt van die skudding naby is. Dit is van waarde, om selfs ‘n paar sekondes vooraf te weet as die aarde gaan begin skud, aangesien dit lewens kan red!

God se waarskuwingstoestel is ook boek­groot­te – die Bybel. God se woord is ‘n reddingswoord, maar ook ‘n waarskuwingswoord. Waars­ku­wings maak deel uit van redding. Ie­mand wat op ‘n waar­­­skuwing agslaan, maak ge­bruik van die be­skik­bare redding. ‘n Mens wat vir sy sonde en die gevolg van sy sonde, in God se oor­deel, skrik en vrees, vlug na die Here Jesus toe, die ewige en on­be­weeglike Rots, waarin ons skuiling kan vind.

Jesus, Rots vir my geslaan, laat my nie verlore gaan!

U was self van God verlaat; laat u lyding, sonder maat,

my tot heil wees en tot krag teen die sondeskuld en –mag.



Leeg, net met my sondelas, hou ek u verdienste vas.

Ek kom om vergewing vra; U het ook my skuld gedra!

U, geslaan tot heilsontein, wás my Heiland, maak my rein!


“Here, vandag luister ek na u waarskuwing.”

Die Belegging

Lees Prediker 11: 1 – 6

“Werp jou brood op die water, eendag kry jy dit terug” (1).

Eendag sien die arm seun, wat van deur tot deur goedjies verkoop om skoolgeld by­me­­kaar te maak, hy het net ‘n enkele, klein muntstukkie in sy sak. Geen geld nie en hy is honger, vertel Neil Verwey, sendeling in Ja­pan, vir ons die sto­rie. Hy besluit hy gaan by die volgende deur kos vra. ‘n Pragtige, jong vrou maak die deur oop en die seun se moed begewe hom. Hy vra net ‘n bietjie water om te drink. Die vrou dink, die seun lyk vir haar hong­er. Sy bring vir hom ‘n groot glas melk. Stadig, lek­ker drink hy die glas leeg. “Wat kos dit?” vra hy. Sy antwoord: “Dit kos niks. Dit het vir my ge­lyk jy het meer nodig as net ‘n glas water.” “Dan sê ek uit die diepte van my hart, dankie,” sê die seun. Toe Robert Kelly daardie huis verlaat voel hy nie net fisies verkwik nie, maar sy geloof in die Here en in sy medemens is sterker. Hy was op die punt om sy moeilike lewenstryd prys te gee.

Baie jare later word daardie selfde jong vrou ernstig siek. Die plaaslike dokters is raadop. Hulle stuur haar na ‘n groot stads­hos­pi­taal toe. Spesialiteite word ingeroep om haar seld­same kwaal te diagnoseer. Dr. Ro­bert Kelly word ook ingeroep. Toe hy die naam van die dorp, waar­vandaan die plat­te­landse pa­siënt kom, hoor, kom daar ‘n vreem­de lig in sy oë. Hy staan dadelik op en gaan na haar kamer toe. Hy herken haar da­delik. Hy neem hom voor om vir haar sy bes te doen en geen koste te ontsien nie. Na ‘n lang stryd, word sy beter en herstel vinnig. Dr. Kelly gee opdrag, die rekening moet na hom vewys word, voor dit aan haar besorg word.

Na ontvangs van die rekening is die vrou bang om dit oop te maak. Sy vrees, dit gaan ‘n groot deel van haar reeds skrale lewensinkomste opeis. Eindelik maak sy dit oop en kyk verslae na die groot bedrag onder aan die staat. Dan lees sy woorde wat dr. Kelly ingeskryf en onderteken het. “Ten volle betaal met ‘n glas melk,” gevolg sy handtekening: “Dr. Robert Kelly.” Met betraan­de oë buig sy dankbaar haar kop: “Dankie, Here, dat u liefde en goedheid steeds deur menseharte en mense­hande vloei.”

 “Here, vandag belê ek goeddoen in ’n ander se lewe.”

Net drie munte nodig

Lukas 3: 21 – 31 “Jesus antwoord hom: ‘Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees” (43)

 Dr. A. J. Gordon besoek ‘n sterwende man in die hos­pi­taal. “Vriend, ek sien jy is baie siek – is jy gereed vir wat voorlê?” Die man kyk wanhopig na hom. “As ek net twee of drie weke gespaar kan word, kan ek dalk gereed wees, maar die dokter sê ek het net ’n paar uur om nog te leef!” “Hoekom het jy drie weke nodig? vra dr. Gordon. “Jy kan in drie minute se tyd gered word.” Dr. Gordon maak sy Bybel oop by Johannes 1: 12: “Maar aan almal wat Hom aangeneem het, dié wat in Hom glo, het Hy die reg gegee om kinders van God te word.” Die man luister met al sy aandag en begrip kom in sy oë. Hy maak sy oë toe en soos ‘n man wat ‘n lewensprong maak, bid hy: “Ek glo U het vir my gesterf, Here Jesus. Ek neem U nou aan as my Verlosser.” Dr. Gordon skryf: “Shortly, he went into eternity thanking and praising the Lord for saving him!”

 Ons verlossing is volledig voltooi toe Jesus aan die kruis gesterf en uit die dood opge­staan het. Deur die werking van die Heilige Gees verstaan ons dit in ons hart. Saligheid is ‘n geskenk wat ons neem. Geen bykoms­ti­ge inspanning word vereis nie. So is die man op sy sterfbed in die hospitaal gered in mi­­nu­te se tyd. So word elkeen van ons gered. So is die moordenaar aan die kruis gered.

“Here, vandag glo ek ek is gered deur u genade.”

'n Omskepping

Lees 1 Peterus 1: 3 – 9

“In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood” (3)

Twee ongelowige en onverskillige manne was bu­re. Hulle plase het aanmekaar gegrens. Op ’n keer woon die een ’n diens by, waar die evangelie so direk gepreek is, dit bereik sy hart. Hy vertrou in die Here Jesus Christus as sy persoonlike Ver­los­ser en kom tot bekering. Voortaan sou sy lewe onder God se beheer wees. ’n Paar dae daarna besoek hy sy buurman.

“Ek het vandag met jou kom praat,” sê hy vir sy buurman. “Ek het tot bekering gekom.” “So ge­hoor,” antwoord die buurman snedig. “Darem ge­dink jy het meer verstand as dít.” “Wel, ek het ’n plig teenoor jou,” gaan die bekeerde buurman ongesteurd voor. “Luister asb. na my, want ek kan nie vrede hê voordat ek dit uitgemaak het nie. Ek het vier van jou skape in my trop. Jy sal onthou hul­le het weggeraak en jy het oral daarvoor ge­soek. Wel, hulle het by my beland en ek het my merk bo-oor jou merk op hulle gemaak. Ek sal nou doen net wat jy sê. As jy wil hê ons moet polisie toe gaan, goed. Anders noem jou prys en ek betaal jou dit.” Die ander man het ongemaklik rond­ge­skuif op sy stoel. Sy hande bewe toe hy sy si­garet aansteek. “Hou hulle. Ek wil niks hê nie. Gaan net weg, asseblief.” “Nee,” hou die bekeer­de man vol, “ek het verkeerd gedoen en moet dit reg­maak. Sê net hoeveel, dan betaal ek.” “As jy dan in hemelsnaam móét betaal, betaal wat hulle daar­die tyd gekos het, plus 6% rente. Dan loop jy asseblief! Iets het jou beetgepak wat ek nie  verstaan nie.” Die bekeerde man het vrolik die geld uitgetel, die rente bygereken en die hele be­drag verdubbel. Met ’n jubelende hart neem hy van sy buurman afskeid. Hy laat hom dronkge­slaan en bekommerd, met die geld, op die stoep bly sit.

Wanneer Christus in die hart inkom en besit neem van die lewe, vind ’n innerlike omskepping plaas. Dit word we­der­geboorte genoem. Wat in die verlede ver­keerd ge­doen is, wil so iemand so ver moontlik reg maak en voort­aan is sy lewe onder die gesag van die Heilige Gees. Dikwels faal so ’n persoon nog onder die druk van die wêreld, die krag van versoeking, die listigheid van ons vyand, Satan. Maar as ons deur gebed en Bybelstu­die naby die Here bly, maak die Heilige Gees die Here Jesus vir ons ’n werklikheid en ons volg Hom gehoor­saam. “Iemand wat ’n kind van God is, doen nie meer sonde nie, omdat die Gees van God in hom bly…” (1Joh.3:9). “En as een van ons sondig – ons het Jesus Christus, die regverdige, as ons voorspraak by die Vader. Hy is die versoening vir ons sondes….” (1 Joh.2:2).

“Here, vandag wil ek U gehoorsaam.”

Vergelyk waardes

Lees Matteus 16: 24 – 28

“As iemand agter My aan wil kom, moet hy hom­self verloën, sy kruis dra en My volg…wat sal dit ‘n mens help as hy die hele wêreld as wins verkry maar sy lewe verloor…” (24-26).

‘n Kranige Sjinese student is na sy graduering, ‘n hoë pos in die staatsdiens aangebied. Hy het dit van die hand gewys en vir ‘n karige salaris ‘n evan­­gelis onder sy mense geword. Biskop Wilson Le­wis vra hom na die rede vir sy verbasende keu­se. Hy antwoord: “Tydens die Boxer-opstand in Sjina was ek ‘n seun in een van die dorpies. Daar was n tempel vir duiwelaanbidding. Die dorp se Christene is na die tem­pel geneem en beveel om voor die duiwelafgod te buig, anders word hulle onthoof. Ek het 163 van die dorp se mense by die duiwelafgod sien verbyloop, hulle hoofde omhoog. Net ‘n buiging van die hoof sou hulle lewe gered het, maar hulle het verbygeloop, reguit na die hout­blok, waar hulle koppe afgekap is. My vader was een van hulle. Daardie onbeweeglike getrou­heid aan hulle Here, het my met bewondering ver­vul. Dit het my begerig gemaak om ook so ’n lewende geloof te hê. Ek het dit in Jesus gevind. Om Hom aan my mense te gaan ver­kon­dig, is vir my ‘n baie groter vreugde, as om ‘n goeie betrekking in die staats­diens te hê.”

Die Christelike godsdiens, sonder persoonlike kennis van die Persoon van die Here Jesus, is ‘n treurige en teleurstellende godsdiens en kan vir enige aardse waar­de verruil word. Leer iemand egter die Here Jesus Self ken, word die verhouding met Hom so kosbaar, hy sal alles, selfs sy lewe, prysgee om Jesus se goed­keuring en teenwoor­digheid en liefde te behou en dieper te leer ken. “Va­der, Ek wil dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook saam met My sal wees, sodat  hulle my heerlikheid kan aanskou….Ek het u Naam aan hulle bekend gemaak en sal dit bekend maak, sodat die liefde waamee U my liefgehad het, in hulle kan wees en Ek in hulle” (Joh.17:24,26)

 “Here, vandag kies ek U en die weg van u Kruis.”

'n Kettingreaksie

Lees Johannes 4:34-38

“Nou al ontvang die man wat oes, sy loon en samel hy die oes in vir die ewige lewe (v36).”

‘n Siek Sondagskoolonderwyser, mnr. Kimball van Bos­ton VSA, sou binne afsienbare tyd sterf. Hy het sy klas­lede een vir een na die Here gelei. Dit was in 1858. Een van hulle was ‘n seun, wat in ‘n skoenwinkel gewerk het, Dwight L. Moody.

D. L. Moody het een van die wêreld se beroemdste evangeliste geword. In 1878 hou hy in Londen dienste. ‘n Predikant wat in sy klein gemeentetjie ‘n moe­de­lose stryd voer, gaan luister na D. L. Moody. ‘n Nuwe vuur van toe­wyding ontbrand in hom. Dit was die begin van die vrug­bare skrywerbediening van dr. F. B. Meyer.

Op uitnodiging preek dr. F. B. Meyer op ‘n Ameri­kaan­se kam­pus. ‘n Man met die naam van J. Wilbur Chap­man, kom tot bekering. Chapman word een van die baanbrekers van die YMCA.

Deur  Chapman se belangstelling en aanmoediging, be­­sluit Billy Sunday, ‘n gewilde bofbalspeler, wat ‘n tyd te­vore by ‘n opelugdiens tot bekering gekom het en ‘n vurige getuie vir die Here geword het, om evangelis te word. Hy was so ‘n kragtige prediker en het met sy bof­bal­-”slang” so tot die mánne se harte gespreek, stede se morele lewe het na sy veldtogte verander.

Billy Sunday het in ‘n stad Charlotte ‘n veldtog gehou. Dit het ‘n plaaslike groep sakemanne geïnspireer. Hul­le het ‘n opvolgveldtog gehou. Hulle het Morde­cai Hamm as hulle veldtogprediker ingebring. Onder Hamm se pre­diking kom die jongman, Billy Gra­ham, tot beke­ring. Tot ‘n dekade of twee gelede was Billy Gra­ham een van die invloedrykste evangeliste en gods­­diens­lei­ers in die wêreld. Sommige van ons het in 1972 Billy Graham se saamtrek op Ellis Park byge­woon, waar die pawiljoene gevul was met mense wat na die evangelie kom luister het.

Onder al hierdie groot manne se prediking en boeke het baie duisende mense die Here gevind of beter leer volg. Dit het begin met ‘n Sondag­skool­onderwyser wat toegewyd en getrou genoeg was, om sy klaslede na die Here te lei.

“Die oes is groot, maar die arbeiders min. Bid dan die Here aan wie die oes behoort, om arbei­ders uit te stuur vir sy oes. Gaan nou! (Luk.10:2).” Ons kan nie soos die groot evangeliste na die dui­sen­de gaan om te preek nie. Ons verantwoor­de­lik­heid is die een of twee, wie se pad ons kruis en teenoor wie ons, vir die Here iets kan sê of doen. Of vir wie ons oor Jesus se redding iets te lees gee.

“Here, ek wil vandag op die uitkyk wees vir iemand aan wie ek u evangelie met woord of daad  kan oordra.”

Die kruis teen die muur

Lees Jesaja 30:15-18

“Tog is die Here gretig om julle genadig te wees en wil Hy Hom oor julle onferm …” (18)

Die sweminstrukteur van ‘n Amerikaanse univer­si­teit kon een nag nie slaap nie. Hy besluit hy gaan swem. Om nie aandag te trek nie, skakel hy nie die ligte aan nie. Hy het die omgewing van die swem­bad soos sy handpalm geken. Hy klim op die duik­plank, strek sy arms na weerskante uit en maak ge­reed om te duik. Op daardie oomblik kom die maan agter ‘n wolk uit en gooi sy liggaam se skadu­wee teen die oorkanste muur. Die skaduwee lyk soos ‘n kruis. Diep getref bly hy net so staan. Hy was nie ‘n belydende Christen nie, maar daar op die duiktoring in die maanlig, in die stilte van die nag, dink hy aan Christus se kruis. Woorde van ‘n lied wat hy in die Sondagskool geleer het, kom in sy ge­dagte op: “Hy het gesterf, dat ek kon leef …” Vreemd aangedaan, prewel hy die woorde. Hy be­sluit om af te klim en langs die swembad te gaan sit en die nuwe ge­dagtes wat so vreemd, skielik by hom opkom te gaan oordink. Hy swaai sy bene oor die kant van die swembad om sy voe­te in die koel water te laat hang.Sy voete raak nie wa­ter nie. Dit is te donker om in die swembad te sien en hy klim stadig met die trappies af, een na die ander, tot op die bodem van die swembad. Hy het nie geweet die swem­badopsigter het die water uit­gepomp, om die vol­gende dag skoon water te laat inloop nie. Wat as hy geduik het? Watter on­uit­spreeklike in­gryping van genade wat hom weer­hou het om te duik! Diep aangedaan, kniel hy op die koue vloer van die swembad en dank God vir sy groot en on­ver­diende ontferming. In sy hart wel ‘n verlange op om nader aan hierdie God te kom. Sy geloof neem ‘n verdere stap. Die ska­duwee van die kruis het hom van ‘n gewisse dood ge­red, so red Chris­tus se kruisdood hom van die ewige dood. Alleen, knielende in die don­ker op die swem­bad se vloer, maak hy sy hart oop en neem Christus Jesus aan as sy Saligmaker.

“So seker as Ek leef, sê die Here my God, Ek wil nie hê die sondaar moet deur sy sonde sterf nie, Ek wil hê hy moet van sy optrede afsien en lewe. Bekeer julle, bekeer julle …” (Es.33:11).

“Here, vandag dink ek hoe u genade my toevou en my vashou sodat ek nie van U af wegval en vergaan nie.”

Brandstof

Lees Handeling 1: 1 – 8

“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal My getuies wees…” (8).

Michele Stephens, wat ook Krag vir Vandag lees, stuur vir ons ’n paar goeie wenke vir hierdie tyd van duur petrol, om brandstof te bespaar. Sy het dit by Hardy Charles van Mo­dern Autohaus, Durban, gekry. Brandstof is be­lang­rik. Die duurste, mooiste motor, staan sonder petrol, nut­te­loos. As Chris­­ten, is ek ook kragteloos en nutte­loos son­der die gees­telike brandstof van die Heilige Gees in my hart. Maar nou eers die goeie wenke, hoe om met ons motor­brandstof verder te kom.

Hardy Charles skryf: “My line of work is in pe­tro­leum for about 31 years. Here at the Marian Hill Pipeline, in Durban, we deliver about 4 million litres in a 24-hour pe­riod, through pipeline. We have 34-storage tanks here with a total capacity of 16,800,000 litres.” Nou gee hierdie brandstofkenner ‘n paar wenke om ons te help.

Maak jou voertuig vroeg in die oggend, terwyl die tem­peratuur nog laag is, vol. “The colder the ground the more dense the fuel, when it gets warmer pe­trol expands, so buying in the afternoon or in the evening …. your litre is not exactly a litre any more.”

Hoe stadiger die petrol ingegooi word, hoe minder pe­trol verdamp. “If you are pumping fast some of the liquid that goes to your tank becomes va­pour.”

Gooi vol terwyl die tenk nog halfvol is. Hoe meer brandstof in die tenk is, hoe minder verdamp­ing vind plaas. Dit is ska­de­lik om met ‘n leë tenk rond te ry. Petrol verdamp vin­niger as wat ons kan dink.

Dit is skadelik om brand­stof in te gooi terwyl die op­vul­tenk­wa besig is om ‘n pomp se stoortenk vol te maak.

Terwyl ek hierdie wenke gelees het, en vir my ‘n paar maatreëls voorgeneem het, het ek aan my geestelike lewe se brand­stof gedink.

Vroeg in die dag. Voor­dat die dagprogram warm en gejaagd word, is dit goed om in die bin­ne­kamer met God te verkeer en uit die Here se woord brandstof in die hart te kry. Die Heilige Gees is ons krag om vir die Here te le­we. Eerste saak in die dag: Hy moet beheer in die hart kry en Jesus se koningsreg op ons bevestig.

Moenie in die binnekamer haastig wees nie. “Neem tyd, o verloste, word heilig en rein, bly dig by u Heiland u krag is so klein…

Hou die tenk vol. ’n Leë tenk is skadelik. Ons maak ons groot flaters as ons geestelike krag laag ge­daal het. Dit was toe Dawid in sy kamer gelê en ontspan het, i.p.v. saam met Joab en sy leër teen die vyand te veg, dat hy die groot misstap met Bat­se­ba, Uria se vrou, begaan het. “Eendag het Dawid na sy middagslapie opgestaan en op die dak van die paleis gaan stap. Van die dak af het hy ’n vrou sien bad” (2 Sam.11: 2, 3).

Die gevaar van die roering van die petrol in die pomp se tenk, terwyl die tenk gevul word. Be­trok­kenheid by ’n kerk-, geloofs- of Bybel­twis, verswak ‘n mens se eie geestelike lewe.

“Here, vandag soek ek rustig krag by U.”

Die rekening vereffen

Lees Efesiërs 1: 3  – 14

“Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oor­tre­dinge vergewe kragtens die ryke genade van God…(7).

’n Man het aan sy koerant ’n brief geskryf: “Ék het op Sondag geploeg, op Sondag ge-êg en gesaai. Ek het op Sondag watergelei, op Sondag ge-oes en op Sondag my graan weggery. My oes was die beste in die buurt en nog nooit het ek in Oktober so ’n groot oes gehad nie.” Die redakteur van die koerant was nie ’n gelowige nie en hierdie uitdagende en onverskillige man het verwag, die koerant gaan sy brief publiseer en een of ander spot­ten­de artikel daarvan maak. Hy het ’n kort briefie van die koerant terug ontvang: “Ontvangs van u brief word erken, maar laat ons asb. toe om u daaraan te herinner, God ver­effen nie sy rekeninge in Oktober nie.”

Dit is ook die waarskuwing in die Woord van God: “Omdat die verkeerde daad nie meteens getraf  word nie, hou mense eenvoudig aan om verkeerd te doen” (Pr.8:11). As alle sonde onmiddellik gestraf sou word, sou ons baie versigtig met ons lewenswandel en woorde gewees het. Maar nou doen mense die gruwelikste dinge en niks ge­beur nie. Of liewer: niks gebeur dadelik met hulle nie. Die Bybel waarsku, die rekening loop op en gaan later vereffen word. Ons kan met ons lewensgedrag wees soos iemand wat op skuld koop, en op skuld koop, en op skuld koop, en niks gebeur nie. Maar op ’n dag kom die opgeloopte rekening. Dit is verstandig om be­tyds die groot opgeloopte rekening van son­de­skuld in herinnering te bring en hulp te soek by die Een wat die rekening vir ons betaal het. Jesus het die sonderekening ten volle, en ten duurste, betaal, maar ons moet sy skuldoffer vir ons aanvaar.

Iemand het geskryf: Hoe belangeloos is die on­bekeerde mens oor die ewigheid. Vertel hom hy is siek. Hy sal hom dokter toe haas. Vertel hom sy regte word bedreig. Hy sal hom na die proku­reur toe haas. Maar wys hom op die gevaar waarin sy siel verkeer. Hy steur hom min daaraan. Hy sal versuim en sal aan hou versuim totdat hy vir ewig verlore is. En dit is `n aaklige lot.

’n Ander geskriffie sê: Die droewigste pad na die verdoemenis, is die een wat voor die preekstoel langs, teen die Bybel verby, tussen uitnodigings en waarskuwings deur, loop. Dit is juis die pad waar­langs die meeste mense verlore gaan. Hulle hoor. Hulle weet. Maar hulle wil nie gered word nie!

 “Here, vandag luister ek na u waarskuwing.”

'n Misrekende vertaling

Lees Handelinge 2:32-36

“… God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak” (36).

Bruce Moore vermeld ‘n interessante feit, oor die vertaling van die Bybel in die Coloradotaal van Ecuador. ‘n Regte woord om “Here” te vertaal, kon nie gevind word nie. Die mense het geen begrip van ‘n sterk leiersfiguur gehad nie. Die woord “sênor” het bloot “meneer” beteken. ‘n Woord wat moontlik die begrip “Here” kon oordra, was die woord “Miya”. Dit het op iemand gewys aan wie gehoorsaamheid en toewyding verskuldig was. Toe hulle die woord op die mense begin uittoets, vind hulle, as die woord verbind word met Chris­tus, dit by die meeste nie byval vind nie. “Miya Jesu Christos”, vir “Here Jesus Christus” was nie aanvaarbaar nie. Die vertalers het  ‘n verkla­ring vir hierdie houding van die mense ge­vind. Onder invloed van die vroeëre Roomse Kerk, was Je­sus vir die Colorados geen “Miya”, iemand wat gesag af­dwing, nie. Hy was ‘n magtelose man wat aan ‘n kruis vasgenael is en wat bejammer moes word.  Die woord “Miya” is verwerp, nié omdat dit nie “Here” uitdruk nie, maar omdat dit nié by Jesus sou pas nie. Hy was nie ’n Miya nie!

Die naam “Here Jesus” is alom bekend en ons noem Hom ook so. Verstaan ons die woord “Here”? Is Hy vir óns Iemand wat toewyding, eer en gehoorsaamheid verdien? Nasaret se mense het Hom gering geag. “Wie is Hy sodanig?” het hulle gevra. Solank Jesus nog nie vir ‘n mens “Here” geword het nie, is dit swaar om Hom te volg en Hom te gehoorsaam en Hom te dien. “Niemand kan sê: ‘Jesus is die Here nie’, behalwe deur die Heilige Gees” (1 Kor.12:3). Eers na ‘n mens deur die Heilige Gees weergebore is, word Jesus vir ‘n mens ”Here”. Dan verheerlik die Heilige Gees Jesus in ‘n mens se hart as “Here”. Uit die Woord, ons Bybel, leer die Heilige Gees ons om Jesus steeds duideliker te sien en beter te leer ken. “Julle moet ons Here en Redder, Jesus Chris­tus, al beter leer ken en sy genade nog meer on­der­vind” (2 Pet.3:18 LEW.BYBEL.). Namate ons die Persoon van die He­re Jesus leer ken, soos die Heilige Gees ons dit uit die Woord leer, verdiep ons agting vir die Here Jesus en word Hy vir ons Here en God. Daarmee verdiep ons toewyding aan Hom. Wan­neer ek tussen Hom, my He­re, en ‘n wêreldse aan­spraakmaker op my lojaliteit moet kies, wat sê die uitslag van die toets vir my?  Wie het gewen?

“Here  vandag is U in my hart my Here en my God.”

Betyds

Lees Matteus 15: 21 – 28 – OU VERTALING

“…Jesus…sê vir haar: ‘o Vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil hê’” (28).

Prins Edward van Wallis, die Swart Prins genoem, om­­dat sy ridderharnas swart was, was in 1346 by die slag van Crecy die aanvoerder van die voorhoede van die Engelse leër. Sy vader, Koning Edward III van Enge­land, het met die res van die leër, van ’n heuwel af, die geveg dopgehou. Prins Edward was skaars 16 jaar oud. In die midde van die hewige geveg, stuur die jong prins `n boodskapper na sy vader toe, om vir versterking te vra. Die koning talm om die versterking te stuur. Die prins stuur haastig ’n tweede boodskapper, om aan te dring op hulp. Saam met hierdie boodskapper, stuur die koning vir sy seun ’n boodskap terug. “Gaan sê vir my seun, ek is nie so ’n onervare aanvoerder, om nie te weet wanneer onder­steuning vir hom nodig is nie. Ek is ook nie so ’n onverskil­lige vader om dit dan nie te stuur nie.” Prins Edward het uit die ge­veg gekom, ’n sterker man en ’n beter aanvoer­der, omdat die koning hom geleentheid gegee het om in die gevegsposisie te groei.

Die groot Engelse prediker, C. H. Spurgeon, het twaalf preke, oor die verhaal van die Kananése vrou in Matteus 15, gehad. Dit was ’n leersame en bemoedi­gen­de ge­beur­tenis, waarby Jesus met groot aandag betrok­ke was. Wat Koning Edward III met sy seun, Prins Edward, ge­doen het, het Jesus met die vrou gedoen. Vir die eer­ste keer besoek Hy die streke van Tirus en Sidon. Voor­heen het Hy net onder die Jode in Galillea en Judea ge­werk. Die vrou hoor Jesus het in die Kananitiese streek aan­gekom. Vinnig kom sy na Hom toe en roep: “Wees my barmhartig, Here, Seun van Dawid! My dogter is erg van die duiwel besete” (22). Jesus weet haar  ge­loof het groter wysheid en gro­ter krag nodig. Hy sê vir sy dissipels, sodat sy dit kan hoor: ”Ek is net ge­stuur na die verlore skape van die huis van Israel” (24). Sy val voor Hom neer: “Here, help my” (25). Drie kos­ba­re woorde om vir Jesus te sê. Weer kry sy ’n ontmoedig­ende antwoord: “Dit is nie mooi om die kinders se brood vir die hondjies te gooi nie” (26). Haar antwoord straal toe die geloof en nederigheid uit wat Jesus in die hart soek: “Ja, Here, maar die hondjies eet darem van die krummels wat van die tafel van hulle base afval” (27). Jesus se antwoord in vers 28 spreek van sy tevredeheid met die houding waar­toe sy nou gekom het. “o Vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil hê.” Haar geloof en houding het die wasdom bereik wat Jesus bedoel het. En na Hy haar gehelp het, het Hy direk terug gegaan na die land van die Jode toe. Jesus het dus net vir háár ontwil na daardie streek toe gekom.

As ons gebed nie dadelik verhoor en ons nood nie da­de­lik opgelos word nie, laat ons aanhou bid, aan­hou luister. Die Heilige Gees bewerk in die wagtende, volhardende hart, wat God in ons hart wil bereik.

 “Here, vandag bid ek volhardend.”

Waar kyk ons

Lees Hebreërs 12: 1 – 4

“…laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop, die oog gevestig op Jesus…” (1,2)

Roger Banister was die eerste man wat die myl in vier minute gehardloop het. Drie maande later verbeter John Landy sy rekord met 1,4 sekondes. ’n Wedloop tussen hierdie twee groot atlete is ge­reël. Toe hulle die pylvak binnegaan is Landy voor. Banister is kort op sy hake. Naby die wen­streep,  kyk Landy om, om te sien hoever Banister nog agter hom is. Banister het gewen. Aan ’n ver­slag­gewer van The Times sê Landy: “As ek nie ag­ter­toe gekyk het nie sou ek gewen het.”

Die Bybel noem die geestelike lewe ’n wedloop. Die oë se fokus is belangrik. Agtertoe kyk, wegkyk van Jesus af, is gevaarlike momente. In die eerste martelaar, Ste­fa­nus, se laaste wedloop het hy reg gekyk – vorentoe – na Jesus toe – “…Stefanus, vol van die Heilige Gees, het op­gekyk na die hemel en die heerlikheid van God gesien en Jesus wat aan die regterhand van God staan” (Hand.7:55).

”Here, vandag hou ek my oë op U.”

'n Lig in die donker

Lees Filippense 2:12-18 Lewende Bybel

“Julle moet tussen hulle lewe soos ’n lig wat in die donker skyn want julle dra die boodskap wat aan ’n mens die lewe kan gee”(15,16).

Dit was vir ’n jong meisie moeilik om in haar werks­om­gewing vir Christus ’n getuie te wees. Sy het gevoel sy faal as Christen. Sy het oorweeg om van werk te ver­ander. Sy het haar leraar se raad gaan vra. “Waar plaas ’n mens ’n lig?” vra hy haar. Sy verstaan sy vraag da­de­lik: “Waar dit donker is.” “Dis reg. Daarom het die Here jou daar geplaas. Moenie iets besonders probeer doen nie. Hou jou verhouding met die Here reg en sy lig in jou sal in jou gewone doen en late uitskyn na ander toe.” Hoe donkerder ’n plek is, hoe makliker word ’n lig, selfs ’n dowwe liggie, gesien.

Net so min as wat ’n gloeilamp kan brand as dit nie met krag verbind is nie, of ’n lamppit kan brand as dit nie in olie lê nie, net so min kan ons vir die Here soos ’n lig skyn as Hy nie deur die Heilige Gees self in ons is nie. “…’n lamppit    wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie” (Jes.42:3). Hierdie innerlike krag om vir die Here soos ligte te skyn, word in Filippense se 2de hoofstuk aan ons beloof: “…dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae…sodat julle onberispelik en opreg kan wees …te midde van ’n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld…” (13,15 Ou Vertaling).

“Here, vandag soek ek u krag in my, sodat ek vir U soos ’n lig kan skyn.”

'n Skoon hand

Lees Jesaja 1:12-18

“’Kom nou en laat ons die saak uitmaak,’ sê die Here: ‘al was julle sondes soos skarlaken, dit sal word soos sneeu…’” (18).

’n Fabel word vertel van ’n Indiese koning wat ’n dief die doodstraf opgelê het. Die dief het die tronk­bewaarder geroep en vir hom gesê, hy het ’n groot geheim wat hy aan die koning wil oordra. Die koning is ingelig en hy het die oortreder na hom toe laat bring. Die man het onder groot geheimhouding vir die koning vertel, hy het ‘n saadjie wat bome laat groei wat goue vrugte dra. Deur gierigheid ge­dring, besluit die koning om ‘n maklike eksperiment te doen. Hy laat sy eerste minister, die burgemees­ter en sy priester kom. Hul­­le neem die man na ’n be­skut­te stuk grond toe en sê hy moet sy saadjie plant. Die dief roep ’n paar towerspreuke uit, haal ’n krummel­tjie goud uit sy sak en sê: “Plant hierdie saadjie en ’n boom wat goue vrugte dra sal groei.” “Nou maar, plant dit dan,” sê die koning ongeduldig.  “Net ’n hand on­be­vlek van enige oneerlikheid mag dit plant, anders word die to­wer­krag ge­breek,” sê die man. “Diefstal het my hand vuil gemaak. Plant u Ma­jesteit dit.” Hy gee die stukkie goud vir die ko­ning aan. Die koning hou die kor­rel­tjie goud on­se­ker vas, toe sê hy: “As seun het ek uit my pa se laai geld geneem. Ek kan nie sê my hande is skoon nie. Ek dra dit oor aan my Eerste Minis­ter.” Die Eer­ste Mi­nister staan verleë met die stukkie goud in sy hand. “Ek vorder belas­tings in. Miskien het ek al ietsie vir myself geneem. Ek gee dit liewer vir die burge­mees­ter.” “Nee!” skreeu die burgemees­ter en hou sy hande agter sy rug. “Ont­hou ek moet pen­sioene en salarisse uitbetaal en daar is baie ver­soekings. Gee dit liewer vir die pries­ter.” Die pries­ter hou sy hande toe en draai weg. “Ont­hou ek ontvang offer­gawes en bely­de­nis­gelde. Moont­lik het ek al ietsie on­we­tend vir myself ge­neem.” Na ’n rukkie van stilte sê die veroordeel­de dief: “U Majesteit, ek dink dit sal vir die ge­meen­skap beter wees as ons alvyf gehang word, want lyk my nie een van ons is regtig eerlik nie.” Verleë oor die ont­mas­kering van sy koninklike hof, maar tog in­ge­nome met die dief se slim streek, gee die koning hom sy kwytskelding.

Dit is hoe die Here Jesus die Fariseërs se ge­veinsd­heid ontmasker het toe hulle die vrou, wat op ’n daad van owerspel betrap is, na Hom toe gebring het om haar te veroordeel. “Laat die een van julle wat ’n skoon gewete het (‘sonder son­de is’ – Ou Vertaling), eerste ’n klip op haar gooi” (Joh.8:7). Net Jesus was sonder sonde. Só ’n ver­losser het ons no­dig! “Christus was sonder son­­de, maar God het Hom in ons plek as sondaar be­handel sodat ons deur ons eenheid met Christus, deur God vry­ge­spreek kan wees”(2 Kor.5:21). Ons het sonde ge­doen en die eis vir ingang in die he­mel is son­de­loosheid: “Niks onreins en…vals…sal ooit daar­in kom nie,” (Openb.21:27). Hierdie hoë eis is nie ’n sondeloosheid, van iemand wat nooit sonde ge­doen het nie, maar van iemand wie se sonde ver­gewe is. “…hoeveel te meer sal die bloed van Christus, wat Homself deur die ewige Gees aan God sonder smet geoffer het, julle gewete reinig…”(Heb.9:14 Ou Vertaling.).

“Here, vandag vlug ek met my sondeskuld na U toe.”

God werk in ons harte

Lees 2 Petrus 1: 1 – 11

“Immers , sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien… (3).

In `n interrnetstorie vertel Pastor Bill van `n jong dominee wat saam met ’n ouer kollega in die blomtuin stap. Hy ge­bruik die geleentheid om vir die ouer man te vertel hoe onseker hy voel oor sy roeping en sy eie geestelike lewe. Die ouer man gaan na ’n roos­boom toe wat besig is om te blom. Hy neem ’n pragtige roosknop, gee dit vir die jong­er man en sê, “Vou die blaartjies oop soos dit een­dag moet wees.” Die jonger man verstaan nie wat dit te doen het met sy vraag oor sy verhouding met God nie, maar hy doen wat die ou dominee van hom vra. Die eerste lagie vou hy redelik mooi oop, maar toe begin die roosblaartjies onder sy vingers skeur. Die ou dominee sien die jonger een se verleentheid. Hy begin die woorde van ’n ge­diggie opsê (ek kan dit net in Engels gee):

It is only a tiny rosebud, a flower of God’s design
But I cannot unfold the petals, with these clumsy hands of mine.

The secret of unfolding flowers, is not known to such as I,
GOD opens this flower so easily, but in my hands they die.

If I cannot unfold a rosebud, this flower of God’s design,
Then how can I have the wisdom, to unfold this life of mine?

So I’ll trust in God for leading, each moment of my day,
I will look to God for guidance, in each step along the way.

The path that lies before me, only my Lord and Saviour knows,
I’ll trust God to unfold the moments, just as He unfolds the rose


Die jong dominee het die les geleer wat elke kind van God moet leer: Vertrou God om sy plan en sy werke te laat oopvou in jou lewe. Uit eie vermoë kry mens nie reg om se wil te vermag nie.

As ons iets van rose weet, weet ons ook, die roosknop kan net daar wees en volgens God se natuurkrag reageer, as dit die regte voeding, snoeiïng en be­sproeiïng kry. Sonder die lees van God se Woord en sonder ons gebeds­omgang met God, ly ons te korte, wat die oopvou van ons roosknop van toewyding, vertraag of ver­hinder.

“Here, vandag laat ek my lewe in u hande rus.”

Dors na die Woord

Lees Psalm 1

“Dit gaan goed met die mens …wat in die woord van die Here sy vreugde vind, dit dag en nag oordink” (2)

`n Man van Kansas City het albei sy hande in `n myn­ont­ploffing verloor. Sy gesig is geskend en hy kon nie meer sy oë gebruik nie. Hy was `n jong Christen toe die ongeluk gebeur het. Die beproewing het sy ge­loofslewe verdiep. Sy groot­ste hartseer was, hy kon die woord van God nie meer lees nie. Hy het nie oë ge­had wat die Bybel kon lees nie, hy het nie hande ge­had waarmee hy Brailleskrif kon lees nie. En in sy groot beproewing het hy groot behoefte gehad, aan die ver­troosting van die Here se woord. Die nuwe lewe in sy be­keerde hart het gedors na die woord van God. Toe hoor hy van `n vrou in Enge­land wat ook haar hande en oë verloor het, maar geleer het om met haar lippe Brail­le­skrif te lees. Sy vrien­de het dadelik op sy aandrang vir hom `n Brailleskrifbybel ge­kry. Iemand het gekom om hom die skrif te leer lees. Tot sy bittere te­leur­stelling moes hy egter vind,  die ontplof­fing het sy gesigsenuwees so be­ska­dig, hy het nie ge­noeg gevoel in sy lippe om die Brailletekens te onderskei nie. Terwyl hy so met sy mond wanhopig teen die bladsy gedruk lê, raak sy tong aan die bladsy. Hy kon een van die opgehewe letterte­kens duidelik voel. Opge­wonde het hy met sy Braillelesse begin en die skrif vinnig met sy tong leer lees. In sy ver­mink­ing was die Bybel vir hom so tot troos en so gretig was hy, om in die eensaam­heid van sy blindheid en gebreklike lewe God se woord te ken, hy het die Bybel vier keer met sy tong deurgelees.

Weens ons sondige aard, wat so maklik wegdraai van God af, moet ons die Bybel met dissipline lees. Deur die lees van die Woord werk die Heilige Gees in ons hart ons behoefte aan God. Hoe meer ons die Here se woord lees, hoe sterker word ons dors na die Woord.

Bybellees is `n opheffende ervaring. Dit reinig en verfris die gees. Lees, is `n samesmelting van die leser se gedagtegang met dié van die skrywer. Wan­neer ons Bybellees, word ons gedagtes met God se gedagtes verenig. Ons leer God se hart uit sy Woord ken. Die lees van die Woord hef ons op, maak ons verstandig, gee ons moed. Uit die Bybel raak die ewigheid ons aan, beïnvloed liefde ons, word ons van goddelike krag bewus. “…die sluier word deur Christus weggeneem vir iemand wat in Hom glo …en waar die Gees van die Here is, is daar vry­heid …want die sluier is van ons gesig weggeneem. Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word …dit doen die Here wat die Gees is” (2 Kor.3:14-19).

“Here, vandag dank ek U vir my vermoë om te kan lees.”

Maklike misgissings

Lees Amos 3: 1 – 8

“Sal twee met mekaar wandel tensy hulle eers afspreek?” (3)

John Ross vertel van die vrou wat van ’n vlieg­tuig afstap nadat dit geland het. Met haar dra­sak oor haar arm gehaak, koop sy by die toonbank van die lughawekafeteria, ’n pakkie lekker koe­kies en ’n koerant. Sy gaan by ’n eenkant tafel sit. Moeg na die lang vlug, wil sy bietjie ontspan voor sy die stadsgewoel aandurf. Da­delik boei die hoof­be­rig in die koerant haar en sy steur haar nie aan die man wat oorkant haar by haar tafel kom sit nie. ’n Ge­rit­sel van papier oor­kant haar trek haar aandag. Sy loer oor die koe­rant, en sowaar, dit is die man wat haar pakkie koekies oopmaak en dood­luiters vir hom een neem en dit begin eet. Sy ver­erg haar on­middellik. Sonder om na die man te kyk strek sy haar hand uit en neem vir haar ook ’n koekie. Na so omtrent twee minute ritsel die pa­pier weer en dit is hy wat vir hom nog ’n koekie neem. Dadelik neem sy vir haar ook weer ’n koe­kie. Sy kyk nog stip in die koe­rant, maar sy lees nie meer nie. Sy is te kwaad. So sit sy en die man die pak­kie koekies en opeet. Sy sien oor die koe­rant hy neem die laaste koe­kie, breek dit in die helfte, steek ’n helfte in sy mond, stoot die ander helfte met ’n effense glimlag na haar toe oor. Sy gryp be­hoorlik die halwe koe­kie en stop dit in haar mond. Hy from­mel die pak­kie se omhulsel op, staan op, knik vir haar, stap by ’n rom­mel­houer verby, gooi die papier daar in en verdwyn tus­sen die mense. Sy is mag­te­loos kwaad. Sy tuur hom net a­gterna. Sy staan op, stamp haar stoel ag­ter­uit, rits haar drasak met ’n pluk oop om haar koerant weg te sit – en haar oë peul behoorlik uit.  Háár pakkie koe­kies lê nog onoopgemaak in haar dra­sak! Sy storm tus­sen die mense in om die man te soek, om verskoning te vra vir háár onbeskofd­heid, maar hy het tussen die mense ver­dwyn.

Sy het haar misgis. Baie van ons het al beproef hoe ’n rusie ont­ke­ten word deur toevallige insi­den­te wat ver­keerd vertolk word. Die geheim is die atmosfeer in ’n mens se eie hart: is daar vrede in my hart? Wíl ek graag ’n goeie verhouding met an­der hê? Is ek gewil­lig om maar bietjie te na gekom te word? ’n Ongeduldige, selfsugtige, suspisieuse ge­sind­heid in die hart skep ’n teelaarde vir ’n mis­gissing. En, dalk is ék, soos die vrou, die eintlike oorsaak van ’n geskil!

As ons met God vrede het; as Jesus koning in die hart is; as die Heilige Gees beheer het oor ons gesind­he­de, kan ons met geduld ander se dade en woorde ten goede en reg beoordeel. “Sorg dat daar nie ver­bit­te­ring soos ’n wortel uitspruit (en) moeilikheid ver­oor­saak nie … (Heb.12:15). Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het …die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee” (Kol.3:12-15).

 “Here, vandag wil ek versigtig in my beoordelinge wees.”

Deur God gestuur

Lees Psalm 18:1-7

“In my nood roep ek na die Here, ja, ek roep om hulp na my God. In sy paleis hoor Hy my geroep…en hy luister na my” (7)

Die naamlose skrywer van die volgende insident sê daaroor: “’n Hoogland herder op my oom se landgoed by Arridilly staan in vir die waarheid van hierdie storie wat hy vir my vertel het.”

’n Weduwee wat alleen teen die hang van ’n bult, ver van ander huise af, gewoon het, het die versekering in Psalm 146 haar lewenskuilplek gemaak: “Die Here het die hemel en die aarde gemaak…Hy bly vir altyd ge­trou, Hy laat reg geskied aan verdruktes en gee brood aan die hongeres…en help weeskinders en weduwees…” Een lang winter het haar be­perk­te kos­voor­­raad laag gedaal. Weens die voortdurende ongure weer kon sy nie uitgaan om te gaan werk en inkomste verdien nie. ’n Dag het vir haar aangebreek toe sy die laas­te handvol meel uit die meelblik skep. Sy het gaan slaap met die voorneme om die volgende dag plan te maak om kos in die hande te kry. Die oggend het onder ’n sneeustorm aangebreek. Die pad op na haar huisie toe was toegesneeu. Dit was buite die kwessie om met haar tenger liggaam die geweld van die storm te trot­seer en by bure te gaan hulp soek. In haar huis was nou geen kos nie. Sy besluit om weer haar toevlug tot haar troue Vriend in al haar nood te neem. Sy het die pap­­pot met water op die vuur gesit, sout ingegooi en die deksel opgesit. Op haar Skotse manier het sy vir haarself gesê: “Noo, I’ll jist gang ben and ask the Lord for the meal.” Sy het na haar slaapkamer toe gegaan en met danksegging en lof haar behoefte aan die Here be­kend gemaak. Sy het net ’n rukkie gebid toe ’n harde ge­klop aan die deur haar gebed onderbreek. Weer praat sy op Skotse manier met haarself: “No an, Lord, Thou canst no hae sent the answer sae soon.” Die geklop hou aan en sy gaan maak die deur oop. In die deur staan die mollige dogter van ’n ewe stewige buur­man. Die dogter gooi ’n sak meel op die grond neer en voeg met breë Skotse aksent by: “Father sent ye that. What­ever possessed him I dint know, but all morning he has been dinning into me about that sack o’ meal and I must fetch it to ye!” Met traangevulde oë gooi die vrou haar hande in die lug en roep uit: “He’s aye the same, Jeanie! Mony a long year hae I trusted Hom and I ne’er found Hom fail; and He’s nae failed me noo. Sae I was jist asking the Lord to send the meal when I heard ye knock’n at the door.”

“Here, vandag vertel ek U van my dringende nood.”

Die gerusstellende stem

Lees Psalm 91

“Omdat hy my liefhet, sal Ek hom red,’ sê die Here” (14).

In die Christian Index vertel die Skotse prediker, John McNeill, hoe hy eendag as seun te voet na die naaste dorp, ongeveer 10 km. van sy huis af, ge­stuur is, om ’n paar items te gaan koop en om die pos te bring. Dit het laat geword voor hy al sy op­drag­te kon uitvoer en nou moes hy met ’n smal, tweespoor paadjie deur ’n eensame en bosbe­groei­de vallei, teruggaan huis toe. Die donker het vinnig gekom en die pad het ’n slegte naam ge­had. Hy het baie alleen gevoel en hy was baie bang. En toe, so skryf hy dit: “In the densest of darkness, there sud­denly rang out a great, strong, cheery voice: ‘Is that you, Johnny?’ It was my father – the bravest, strongest man I ever knew.” Weg was sy eensaam­heid. Weg was sy vrees. Sy pa het hom kom haal en hom op daardie donker, dreigende pad, teëge­kom. Hy voeg by:”Many a time when things have been getting black and gloomy about me, I have heard a voice greater than any earthly father’s cry: ‘Fear not; for I am with thee.’”

In die Psalms vind ons Dawid dikwels klein, swak en baie bang. Dan skielik skep hy moed. Hy het God se bemoedigende stem gehoor. Uit die Woord kom hierdie troostende, bemoedigende stem van God, deur die ge­tuienis van die Heilige Gees in ons hart, ook na ons toe en ons skep moed.

“Here, vandag hoor ek u stem wat my nuwe moed en krag gee.”

Die kosbare saad is bewaar

Lees Matteus 13:1-9

“…ander saad het in goeie grond geval en ’n oes gelewer…(3,8)

Die sendeling, Alexander Duff het met die Lady Hol­land Indië toe gevaar. Al sy kosbare besittings, sy klere, sy biblioteek van 800 boeke, alles was aan boord. ’n Paar kilometer van Indië af sink die skip. Die passa­siers het almal lewend uit die wrak gekom, maar al hulle besit­tings het hulle verloor. Alexander Duff het saam met van die ander op die strand bly staan, om te sien of daar nie dalk ietsie uitspoel nie. Toe sien hulle ’n enkele voor-werp op die branders aangedryf kom. Met angstige oë hou almal dit dop. Duff stap kniediep die water in en kry die drywende pakkie beet. Wat kan dit wees? Sy Bybel! Met blydskap gryp Duff die Bybel in albei hande vas. In die beproewing van die oomblik word Duff se hart oorwel­dig met die blydskap van geloof. God het hierdie boek kosbaarder geag het as al sy ander besittings en dit vir hom bewaar om God se werk in Indië te doen. Reeds die volgende dag begin hy sy sendingwerk met ’n same­koms van 5 seuns, wat onder ’n vyeboom na die lees van daardie Bybel luister. ’n Week later groei die groep aan tot 300 luisteraars. ’n Paar jaar later staan daar ’n kerk op die plek waar die vyeboom gestaan het en byna 1 000 bekeerlinge na die koninkryk van God, hef hulle stemme op in lof en aanbidding.

Die inhoud van die Bybel is lewende saad om die ewi­ge lewe in mense se harte te laat ontwaak. Meeste van ons het so ’n saadkruik: ons Bybel. ’n Kruik met saad wat toegeskroef staan, kan nie lewe voort­plant nie. Die oop saadkruik is ’n belofte vir lewe. Die inhoud van die Bybel voed en herleef ons eie hart. Die woorde van die Bybel wat ons, ander laat hoor of laat lees, wek in hul harte lewe op: “Julle is immers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit die onverganklike saad: die lewende en ewige woord van God” (1 Pet.1:23). “Ek het my voor­geneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde … nie deur geleerdheid en welspre­kendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Heilige Gees” (1 Kor.2:2,4).

“Here, vandag wil ek ’n saaier van u Woord wees.”

Iemand nodig - Iemand gestuur

Lees Lukas 10:1-16

“Die oes is groot…die arbeiders min” (37).

Eendag in 1958, klop Yutaka Karasawa, aan Neil en Peggy Verwey, sendelinge in Ja­pan, se voordeur. “Ek het gekom,” kondig hy aan, toe Neil die voordeur oopmaak. “Ge­kom waarvoor?” vra Neil uit die veld geslaan. “Om saam met julle te werk as hospi­taal­evangelis.” “Maar ek kan jou nie sommer net so in diens neem nie!” antwoord Neil, steeds vol verbasing. “Ek ken jou nie eens nie.” “Ek sal wag,” antwoord die jong­man en wil som­mer daar by die voordeur die daad by die woord voeg. Neil sien sy vasbeslotenheid en reël vir hom oornagver­blyf by ’n ander hospi­taal­evan­gelis. Hy beloof om hom oor drie dae van hulle besluit te laat weet.

Gedurende dié drie dae vind Neil uit, Yu­taka het in 1948, onder die be­kende Japa­nese evangelis, Honda, se prediking tot be­kering gekom. Daarna woon hy ’n kursus in ’n Bybel­kollege by. In 1953 doen hy tuber­ku­lose op, soos met baie Japanese gebeur. Hy on­der­gaan ’n groot operasie. Vyftien persone se bloed, onder andere dié van sy dokter en ver­pleegsters, moes vir ’n bloed­­oortapping ge­bruik word, om hom aan die lewe te hou. Vir jare lank was hy ’n teringlyer en nou wil hy vir ander pasiënte, in hospitale tot gees­telike hulp wees. Hy hoor van die Japansen­ding se hospitaalevangeliesasie. Seker van sy roe­­ping laat hy sy vrou en kind tuisbly en ry 480 km. ver om by Neil uit te kom.

In daardie drie dae bid Neil en Peggy om raad. “Here,” bid hulle, “as dit U is wat hierdie man na ons toe gestuur het, laat daar binne hierdie drie dae vir ons nog ’n hospitaal oopgaan waar ons u evangelie moet bekend maak.” Binne die drie dae vra die Toneyama­hos­pitaal, met 1000 tering­pa­siën­te, vir ’n evangelis se diens. So begin Yutaka Kara­sawa se vrugbare bediening van 44 jaar in die te­ring­hospitale. Talle teringpasiënte het onder sy bediening tot bekering gekom. Die teks vir sy laaste preek, voordat hy op 28 Desember 2003 dood is, was: “So lank as dit nog dag is, moet ons die werk doen van Hom wat My gestuur het, die nag kom, wanneer niemand kan werk nie” (Joh.9:4).

Oral is mense nodig om die hemelse koninkryk se werk te doen. Die Here roep persone om sekere take vir Hom uit te voer. Wees bereid om dié plekkie te vul in sy koninkryk se diens, waar Hy ú nodig het.

“Here, vandag wil ek U gehoorsaam en vir U werk.”

Goeie selfverdediging

Lees Lukas 15:25-32

“Toe het die oudste seun kwaad geword en wou nie in die huis ingaan nie. Sy pa gaan toe uit en praat mooi met hom…(28)

‘n Jongman het vir ‘n kursus in selfverdediging inge­skryf, vertel die Western Recorder. Effens on­rustig of dit hom as belydende Christen betaam om dit te doen, gaan praat hy met sy dominee daaroor. “Dink u ek doen ver­keerd om die kuns van selfver­dediging aan te leer?” vra hy.  “Sekerlik nie,” antwoord die dominee. “Ek het dit as jongman aan­geleer en het baie baat gevind daarby.” “Reg­tig!” roep die jongman verras uit. “Watter stelsel het u aangeleer? Die ou Engelse stelsel of die Sulivan-stelsel, of ‘n Japanese een?” “Nee, nie een van hulle nie. Ek het die Salomostelsel aangeleer.” “Die Salomo­stel­sel?” “Ja, jy kry dit in Spreuke 15:1: ‘‘n Sagte antwoord laat woede bedaar; ‘n krenkende woord laat woede ontvlam.’ Ek ken nie ‘n meer geslaagde selfverdediging­stelsel as dit nie.”

Min mense is bestand teen vriendelike en sagte woorde. As iemand ergerlik is en die ander persoon reageer ook ergerlik, is rusie eintlik onafwendbaar. Bly die ander persoon egter kalm en praat vriende­lik en verstandig terug, kan die bakleier nie met sy rusie voortgaan nie. So skryf die Here se Woord ook ons ge­drag voor: “Wees altyd beskeie, vriende­lik en geduldig, en verdra mekaar in liefde…” (Ef.4:2). So moet ons gesindheid ook wees teenoor ons minderes. Die egtheid van ons vriendelikheid kom na vore wanneer ‘n mens met ‘n mindere praat, veral as die mindere ‘n mens rede vir harde woorde gee: “En eienaars, behandel julle slawe met dieselfde gesindheid. Hou op om hulle te dreig. Dink daaraan dat die Here in die hemel hul­le Here en ook julle Here is, en Hy trek niemand voor nie.” (Ef.6:9).

“Here, vandag wil ek op ‘n sagte antwoord terugval.” 

God se diep medelye

Lees Lukas 15: 11 – 24

….toe die verlore Seun nog ver aankom, het sy pa hom… gesien en …innig jammer gekry. (11 en 20).

George W. Truett vertel hierdie ware verhaal oor dr. Buckner, die stigter en bestuurder van die Buck­ner Or­phans Home in Dallas, Amerika.

Die huis van ’n behoeftige gesin in Suid-Texas het af­gebrand. Net ‘n dog­tertjie, nege of tien jaar oud, het dit oorleef. Maar sy het le­lik ver­brand, veral haar gesiggie. Die bure wat die vuur help blus het, het haar na dr. Buck­ner se wees­huis toe vervoer. Dr. Buckner het Mary self gaan ontmoet. Met rooi gehuilde ogies het sy na dr. Buck­­ner gekyk, vorentoe gekom en haar koppie teen hom gedruk en hartlik aan die huil gegaan. Na ’n rukkie kyk sy met haar ver­mink­te gesiggie op en sê snik­kend: “Jy sal nou my pa en my ma moet wees.” Hy het sy hande op haar koppie gesit en diep bewoë geant­woord: “Ek sal my bes doen, Mary.” In die wees­huis het sy deel van hon­derde ander kinders ge­word.

George Truett skryf hy het dikwels in die wees­­huis ’n diens gaan hou. Dan sien het met wat­ter liefde en blyd­skap die kinders vir dr. Buck­ner te­rug verwelkom as hy ’n rukkie lank weg was. Tru­ett skryf: “The little tots come down the avenue and vie with one another as they swing around him, each wishing to kiss him first.” Een­dag sien hy hoe Mary met haar vuurge­skon­­de­­ ge­sig­gie saam met hulle kom, maar sy staan een­kant toe, terwyl die ander aandring om hom te soen. Dr. Buckner kyk na haar en vra: “Mary, hoe­kom kom groet jy my nie ook nie?” Dit was vir haar te veel. Sy begin hardop snik. Hy vra weer: ”Hoe­kom kom groet jy my nie?” Sy snik dit uit: “Pappa Buckner, ek kan nie vra jy moet my soen nie. Ek is so lelik. Na ek gebrand het, is ek so le­lik, ek kan nie jou kom soen nie. As jy my net so lief het soos vir die ander en vir my sê jy is lief vir my, dan is dit nie nodig om my te soen nie.” Dr. Buckner het al die ander kinders weggedruk om by Mary te kom. Hy tel haar op, druk haar teen hom vas en soen die ver­mink­­te wangetjie oor en oor, terwyl hy herhaal­delik vir haar sê: “Mary, jy is mos vir my net so pragtig soos enigeen van die ander.”

Dit is wat God se Woord ook vir ons oor God se jam­merte vir ’n sondeverminkte mens sê: “Kom tog, laat ons die saak met me­kaar uitmaak, sê die Here: Al was julle skar­la­ken­rooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu” (Jes.1:8). “Toe het ek uitgeroep: ‘Dit is klaar met my! Ek is verlore! Elke woord oor my lip­pe is onrein…’ ‘Nou…is jou oor­tredinge vergewe, jou sonde versoen’” (Jes.6:5,6). “Een van die mis­da­di­gers wat daar gehang het, het Jesus ge­las­ter….Maar die ander een sê: ‘Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.’ Jesus ant­woord hom: ‘Ek verse­ker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees’” (Luk. 23:39-43). “As ons be­weer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons ons­self…maar as ons ons sondes bely, Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes…” (1 Joh.1: 9).

“Here, vandag vlug ek na U toe met my lelike sondes.”

Die gevolg van onkunde

Lees Handeling 8: 26 – 40

“’…verstaan u wat u lees?’ Die Etiopiër antwoord: ‘Hoe sou ek kon as niemand dit vir my uitlê nie?’ Filippus het …die evangelie oor Jesus aan hom verkondig” (31,35).

Aan die einde van die burgeroorlog tussen die state van Amerika, ry ‘n afdeling van die Federale mag se sol­date langs ‘n eensame pad na Rich­mond toe, vertel Roy B. Zuck. ‘n Uitgeteerde man in toiïngs kom tussen die bosse uit. Met ‘n hees stem smeek hy hulle om vir hom kos en water te gee. Hy vertel hy leef al weke lank net van bes-sies en plantwortels wat hy in die veld kry. Hulle vra, hoekom gaan hy nie Richmond toe en kry daar vir hom kos nie. Aarselend vertel hy hy is ‘n droster uit die Konfederale leër. Hy kan nie waag om gesien te word en aan die rebelerende Kon­fe­de­rale mag oorge­gee te word nie. Hulle staar hom verwonderd aan. “Het jy dan nie die nuus gehoor nie?” vra hulle. “Watse nuus?” vra hy. Hulle vertel hom, die Kon­federasie het ont­bind. Meer as ‘n week tevore het  genl. Lee, be­vel­voerder van die Konfederale leër van die Sui­delike state, wat nie gehoor wou gee aan die Federale owerheid se eis om al die slawe vry te laat nie, oorge­gee aan genl. Grant, bevelvoerder van die Federale leër. Die man roep uit: “Dan is daar nou vrede! En ek vergaan van honger tussen die bosse om­dat ek dit nie gehoor het nie.”

Dit is ‘n groot persoonlike verlies, om onkundig te wees oor die vrede, wat die Here Jesus Chris­tus vir ons aan die kruis bewerk het. Hy het vrede gemaak tussen ons en God. “Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge verge­we kragtens die ryke ge­na­de­ van God wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons ge­skenk het” (Ef.1:7).

“Here, vandag hoor en glo ek u vergifnis van my sonde.”

'n Geleentheid verbeur

Lees Johannes 12: 1 – 8

“Toe het Maria ‘n halfliter egte, baie duur nardus­olie gebring en dit op Jesus se voete uitgegiet en sy voete met haar hare afgedroog. Die hele huis is deurtrek met die geur van die olie” (3)

Roy Zuck vertel Queen Mary het eendag met twee kinders in ’n woongebied van Londen ge­loop. Sy het al­ledaagse klere aangehad om te verhoed mense sal in die straat om haar saambon­del. Sy was lief om met gewone mense te meng. ’n Reënbui oorval hulle. Sy gryp die kin­ders se hande en hardloop na ’n nabygleë huis. Vie­serig laat die huisvrou die nat vrou en twee ewe nat kinders in haar huis in. Queen Mary vra of sy ’n sambreel kan leen om in die reën huis toe te gaan. Sy beloof om die sam­breel die vol­gen­de dag terug te stuur. Die huisvrou het darem nie lus om haar goeie sambreel vir die vreem­de vrou te leen nie. In ’n stoorkamertjie het sy ’n ou sam­breel met twee gate in en een van die strekribbes ge­breek, maar sy leen dit vir die vrou. Kom dit nie terug nie is dit nie ’n skade nie. Die vol­gende dag bring een van die paleiswagte in paleisuni­form dit terug. Hy sê vir die ver­won­der­de huis­vrou: “Die koningin stuur dit terug. Sy sê baie dankie jy het dit vir haar ge­leen.”  Verstom roep die vrou uit: “Die ko­ningin. Was dit die koningin!. Ag, wat ’n geleentheid het ek nie ge­mis nie. Ek sou vir haar my beste sambreel gegee het, as ek net geweet het!”

Wanneer ons eendag die Here Jesus Christus in sy volle heerlikheid sien, gaan ons ook spyt wees,  ons het hom tydens ons aardse lewe die stuk­kende sambreel gegee, die tweede of der­de beste van ons lewe, in plaas van ons heel bes­te. As ons nie moeite doen en ruimte maak om Hom in ons stiltetyd, deur omgang met die Here deur gebed en Bybelstudie te leer ken nie, kan ons maklik in ons toewyding aan Hom kortkom.

“Here, vandag wil ek die beste van my lewe aan U gee.”

Met God se krag

Lees Filippense 2: 12 – 18  Nuwe Lewende Vertaling.

“Dis mos God wat julle gewillig maak om te doen waarvan Hy hou…. en Hy gee julle ook die vermoë om dit te kán doen” (13)

Lank gelede, toe treinvervoer in som­­mi­ge plat­te­land­gebiede nog ’n rariteit was, staan ’n sta­sie­meester van ’n klein stasietjie, op die plat­form vir die trein en wag. Sy oë rek vir wat hy voor hom sien. ’n Ou man, koffer in die hand, kom sta­dig en sukkelende al met die spoorlyn aange­strompel. Die stasiemeester verwag hy gaan van die spoor­lyn af weg­draai, na die platform toe om ook vir die trein te wag. Maar die ou man stap met ’n knik van die kop verby. “Oom, hoekom loop jy op die spoor?” vra die stasie­meester steeds verbaas. “Dis met die spoor­lyn baie korter na die volgende dorp toe as met die pad,” antwoord die ou man en stap net aan. “Maar, Oom, jy mag nie daar op die spoorlyn loop nie,” wys die stasiemeester hom tereg. “Ek mag,” ant­woord die ou man en sit sy koffer langs hom neer, steek sy hand in sy binnesak in en trek ’n beur­sie uit. “Ek het ’n kaart­jie gekoop om hier te loop,” sê hy vry­moedig en haal ’n stukkie papier uit sy beur­sie uit. “Kyk self.” Die stasiemeester kyk na die kaar­tjie. “Maar dis ’n treinkaartjie, Oom. Dis om op die trein te ry.” “Op die trein te ry? Hoe?” kom dit verbaas van die ou man af. Die sta­sie­mees­ter neem hom aan die arm en trek hom met kof­fer en al van die spoorlyn af. “Die trein is nou-nou hier, Oom. Ek help Oom.” Net daarna fluit die trein en stoom die stasie bin­ne. Die stasiemeester ver­dui­delik vir die kon­duk­teur en hulle laat die ou man met sy koffer op die trein klim. Hy kry ’n sitplek. Tot sy verbasing ry hy sonder inspan­ning na die dorp toe waarheen hy moeisaam wou stap.

So verstaan sommige mense ook die red­ding wat Chris­tus gebring het. Hulle glo in die Bybel en die evan­gelie, soos die ou man in die Spoorweg geglo het. Hy het gedink hy moes in eie krag van die spoorlyngerief ge­­bruikmaak. Hy wis nie hy kon met die Spoorweg se krag, sonder sy eie vreeslike inspan­ning, sy bestem­ming be­reik nie. Mense wil met ’n hoeveel­heid Bybel­lees, bid, kerk­toe­­gaan, offergawes gee, kerk­werk doen, geloofs­eise nakom, die hemel te bereik.

Jesus se redding beteken: Hy het Self die werk ge­doen. Ons moet dit net dankbaar aan­vaar. Waar die ou man in die trein se kompartement gesit het, het die trein se krag hom na sy bestemming gevoer.

Sekerlik geld dit ook vir die geredde Chris­ten om hard aan sy Christenlewe te werk. Maar as ons in die ge­krui­sigde en verrese Ver­losser, vir sy redding, ver­trou, kom woon Hy met sy nuwe lewe, deur die Heilige Gees, in ons. Sy krag werk in ons die wil en die lus en die vreugde van die lewe vir Chris­tus.

Die groot prediker C. H. Spurgeon skryf hieroor en ek haal sy eie woorde aan: Justi­fi­­cation (regverdigmaking, red­ding) is not at all by hu­­man effort, but by the free gift of God. The se­cond part of salvation consists of a work in us – this is the operation of God the Holy Spirit. As we are redeemed by the blood of Jesus, are we also in due time renewed in the spirit of our minds by God`s Spirit..

Ons noem dit heiligmaking – die groei van ons gees­telike lewe uit die krag van die inwonende Heilige Gees, deur die lees van die Woord van God, gebed, omgang met ander ge­lowiges en om vir die Here te werk.

 “Here, vandag wil ek die Christenskap wat U deur u Gees in my gee, met toewyding uitleef.”

Los hom uit

Lees Matteus 5: 38 – 42

“”Julle moet julle nie teen ’n kwaadwillige mens verset nie” (39)

’n Geselskap toeriste sit in die Yellowstone Park en wag vir ’n dier, wat die skrik van die bos­se genoem word, die grysbeer, om te verskyn, vertel Dale Carnegie in sy boek How to Stop Wor­rying and Start Living (beskikbaar by boekwinkels). ’n Hoop afvalkos, uit die hotel se kombuis, is naby neer­gesit, om die beer te lok. Nie lank nie of hy kom massief uit die donkerbos te voor­skyn. Die wild­be­waar­der, maj. Mertindale, vertel vir die mense, die grysbeer is enige dier in die weste­li­ke half­rond se moses. Terwyl hulle so kyk, kom nog ’n dier uit die bos uit en begin saam met die grys­beer die lekker afval­kos vreet. Die grysbeer sou geen an­der dier dit toe­ge­laat het nie, maar nou laat hy hierdie een sy gang gaan. Dit is die stink­muis­hond. Die beer kon hom met een hou van sy gewel­dige voorpoot plat gevee het, maar die beer het al geleer: Lol met hom, en jy stink vir dae aanmekaar!

Daar is viervoetige muishonde, én daar is twee­voetige muishonde, sê Carnegie. Hy haal aan uit ’n verslag van die Polisie­kan­toor in Mil­wau­kee: “As selfsugtige mense uit jou probeer voor­deel trek, skrap hulle van jou lys, maar moenie hulle probeer uitbetaal nie. Jy sal net seer­­­­der kry as hulle.” Dit is onver­stan­­­dig om eni­ge mens te pro­beer uitbetaal (wraakneem), want dan gee ons hulle mag oor ons: mag oor ons slaap, ons eetlus, ons bloed­druk, ons gesond­heid, ons geluk. Ons haat en wraakgedag­tes maak hulle nie seer nie, maar dit omskep ons eie dae en nagte in donkerte.

Jesus se woorde: “Julle moet julle vyand lief­hê,” verkondig moderne gesondheidskun­de. Toe Jesus vir Petrus gesê het: “Jy moet 70×7 keer vergewe,” was Hy besig om ons te vertel hoe om hoë bloed­druk, hartkwaal, maag­swere en baie an­der kwale te vermy. Hy het ook raad gegee hoe om ons voor­koms te verbeter. `n Mens se ge­sig kan ver­rimpel en verhard raak deur haat, en mis­maak word deur wrok. Niks kan gelaatsskoon­heid bevorder soos ver­gewensgesind­heid, teer­heid en liefde nie! Laat ons onsself so liefhê dat ons nie sal toelaat dat an­der, met hulle slegte gesindheid, óns lewe bederf nie. Con­­fusius het gesê: Om ver­ont­reg en beroof te word, is niks, tensy jy aanhou om dit te onthou!

Ongelukkig is haat en ergerlikheid sterker as onsself. ’n Slegte gesindheid is soos ‘n lokomotief wat die trein sleep. Al weet ons verstand ons moe­nie haat, gebelgd voel of ’n wrok koester nie, die sondige hart is sterker as verstandige denke. Ons het hier Iemand groter nodig. Ons het Jesus self nodig, om deur sy Gees in ons hart sy liefde te gee en te laat groei. Só sal ons ons Hemelse Vader met ons lewensgedrag verheerlik.

“Here, vandag wil ek met u liefde ander  liefhê.”

Reinig en Vernuwe

Lees 1 Tessalonisense 1:1-10

“…julle (het) die woord aangeneem met ’n blyd­skap wat van die Heilige Gees kom” (6).

Die Christian Digest vertel, ’n predikant in die Skot­se platteland, stap langs ’n lopende spruit af. ’n Bejaarde vrou sit op die oewer van die spruit en was die wol wat sy wil spin. Herhaaldelik doop sy ‘n sif met die wol in, in die helder, lopende water in. Hy groet haar en vra of sy hom ken. “Ja, Meneer, ek ken u en ek sal God altyd vir u dank, want ek het onder ‘n preek van u die Here leer ken,” antwoord sy met ’n vriendelike lag.  “Wat was my preek die dag?” vra hy met groot belangstelling. Die vrou dink ’n rukkie, lag dan verleë. “Ek kan nie onthou nie. My geheue is deesdae so sleg.” “Hoe kon die preek jou dan so getref het as jy nie eers kan onthou wat dit was nie?” vra die dominee teleurgesteld. Sy ant­woord: “Meneer, my gedagte is soos hierdie sif. Dit hou nie water nie, maar soos die water deur dit spoel, maak dit die wol skoon. Soos die Here se woord deur my gedagte gaan terwyl ek luister, maak dit my binnekant skoon en nuut. Elke dag vra ek my Verlosser om my deur sy woord en met sy bloed van onreinheid binne-in my te reinig.”

Die woord van God, of ons daarna luister of dit lees, het in ons ’n lewende krag. Ons is nie alleen betrokke by die aanhoor van die Here se woord nie. Die Heilige Gees werk saam, om die woord in ons gemoed lewend en duidelik te maak. As ons ge­heue saam­werk, het dit nog groter krag, want dan kan ons die woord weer en weer oor­dink en aan ander oordra. Paulus sê van die Christene in Tes­sa­lonika (1 Tes­sa­lo­ni­sense 1: 6 – 8) hulle het “die woord aan­ge­neem met ’n blyd­skap wat van die Heilige Gees kom,” en toe “vol­ge­linge van die Here geword,” en “’n voorbeeld geword,” en toe “van julle uit het die woord van die Here weerklink (Ou Vert.).” Dus: hoor­ders, volgelinge, voor­beelde en toe weerklanke van die woord!

 “Here, vandag wil ek u Woord deur my laat stroom.”

Dit trek die aandag af

Lees Filippense 2: 5 – 11

“…God (het) Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen… die knie sou buig, en elke tong…erken: Jesus Christus is Here” (9)

In 1495 het Hertog Ludocico van Milan die Floren­tynse kunstenaar, Leonardo da Vinci, gevra om die to­neel van Jesus se laaste maaltyd saam met sy dissipels, wat die begin van die Christelike nagmaal sou wees, op ‘n muur van die eetsaal van die klooster van Santa Maria delle Crazie in Milan, te skil­der. Teen daardie tyd was die 43-jarige Da Vinci reeds as skilder, beeldhouer en argitek beroemd. Hy het stadig en met groot sorg hierdie belang­rike taak verrig.  Dit het drie jaar geneem om die skil­de­ry te voltooi. In die skildery sit die dissipels weer­skan­te van Jesus. Jesus hou in die hand van sy uit­­­ge­strek­te regter­arm die beker met die wyn.Die beker was met ver­stom­men­de realiteit geskilder. Die skilder wou Jesus as Ver­los­ser beklemtoon. Da Vinci vra ‘n vriend om na die skildery te kom kyk. “Gee my jou eerlike opinie, asseblief,” sê Da Vinci vir hom. Die vriend kyk lank en deeglik. “Wonderlik,” sê hy gevoelvol. “Daardie beker is lewend eg. Ek kan my oë nie daarvan wegkry nie.” Da Vinci neem ‘n kwas en met een veeg wis hy die skit­te­rende beker uit. “As die beker jou aandag so van Jesus aftrek, mag dit nie bly nie. Níks mag iemand se aandag van die figuur  van Je­sus aftrek nie.”

Jesus moet die middelpunt van ons lewensaandag wees. Dit was die geheim van Paulus se vrugbare en toe­gewyde lewe: “Ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God, wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê” (Gal.2:19,20).

“Here, vandag maak ek U die middelpunt van my lewe.”

Die goeie belegging

Lees Lukas 6: 37 – 42

“Gee en vir julle sal gegee word: ’n goeie maat, ingestamp, geskud en propvol, sal hulle in julle hande gee” (38)

Jare gelede was werk skaars in Nieu En­ge­land. ’n Chris­tenman het gebid vir werk, maar kon nie werk kry nie. Een Sondag gaan hy kerk toe. Die kollekte word op­geneem. Hy het nog net een dollar oor in sy sak, maar hy gooi die helfte, 50c, in die bordjie.

Daardie Maandag­og­gend hoor hy van ’n werk in ’n naburige dorp. Hy gaan stasie toe om ’n trein­kaar­tjie daar­­heen te koop. Die treinkaartjie kos ’n dollar. Hy koop met die 50c wat hy nog het, ’n kaar­tjie tot halfpad. Half­pad na die dorp toe klim hy af om die res van die pad te stap. Skaars ’n blok verder sien hy ’n kennis­gewing,  ’n werknemer word ’n entjie dáárvandaan benodig. Hy gaan vra en hy kry die werk. En hulle betaal $5 meer as die vorige werkplek, waarheen hy eintlik op pad was.

Dit is ’n skoenfabriek waar hy sy nuwe werk kry.  Hier­die man was W. L. Dou­glass, wat die beroemde skoen­fa­brikant ge­word het! Niemand het nog ooit vry­ge­wigheid aan God se belange berou nie. God is ryk en almagtig en hy kan iemand wat ruim aan Hóm gee, seën en terug­be­taal. “Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droef­heid of uit dwang nie, want God het ’n bly­moe­dige gewer lief. God het mag om alle ge­nade oor­vloe­dig oor julle te laat wees, sodat jul­le altyd in alle opsigte volop kan hê en oor­vloedig kan wees tot elke goeie werk” (2 Kor.9:7,8).

“Here, vandag belê ek in u koninkryk.”

Liggaamlike oorbrugging

Lees Lukas 23 : 50 – 56

“Josef van Arimatea…het na Pilatus toe gegaan en die liggaam van Jesus gevra…Nadat hy dit van die kruis afgehaal het, het hy dit in linne toegedraai en in ’n rotsgraf neerglê” (51,53)

Die Sailor’s Home in Liverpool het een nag aan die brand geraak, vertel Charles Leach vir ons die storie. Die brandweer en baie van die omgewing se mense, was vin­nig op die toneel. Die gebou se brandtrap het nie tot by die boonste verdieping gegaan nie. Deur die boonste ver­dieping se vensters het manne geleun en om hulp ge­skreeu. Die brandweermanne het ’n lang leer ge­bring en teen die gebou na die boonste vensters toe laat leun. Die leer was te kort.

’n Britse matroos wat tussen die toeskouers ge­­staan het, storm vorentoe en klouter met die leer op tot by die boonste sport. Hy gaan stewig  op die boonste sport van die leer staan. Hy klou aan ’n vensterbank vas en vorm ’n oor­brug­ging tussen die venster en leer. “Gou!,” skreeu hy vir die manne binnekant. “Klouter oor my en klim af met die leer. Toe! Gou! Gou!” Een vir een klim die vasgekeerde manne oor die seeman se liggaam en af met die leer grond toe. Na die laaste man verbyge­kom het, klim hyself af na veiligheid toe. Sy gesig is blase gebrand, sy hare verskroei, sy hande en vingers velaf getrap, maar hy het manne se lewens gered. Al die bemoediging en raad wat van die grond af vir hulle ge­skreeu is, het niks gehelp nie. Die jong matroos se eie liggaam het die brug gevorm.

’n Mens se fisiese, eie liggaamlike bemoeienis, is vir ’n mens die hoogste prys wat betaal kan word om `n ander te help. Dit is hoe Jesus ons ge­red het. Hy het sy eie lig­gaam gegee. Met nag­maal eet ons die brood waar­van Jesus gesê het: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word.” En hoe is Jesus nie getrap en ge­kneus om ons redding te bewerk nie! “Toe het hulle in sy gesig gespoeg en Hom met die vuis geslaan. Hulle het Hom geklap … hulle trek sy klere uit en gooi Hom `n pers man­tel om. Hulle vleg ’n doring­kroon en sit dit op sy kop en sit ’n stok in sy regter­hand… hulle bespot Hom… slaan Hom met die stok oor die kop…Hulle het Hom gekruisig.” (Mat.26:6 en 7:29,30,35). Jesus se liggaam is vir ons, die roete oor die afgrond van verdelging, hemel toe. Wanneer die Heilige Gees ons hart bewus maak van Jesus se fisiese lyding vir ons, eis dit ook ons fisiese toe­wyding aan Hom op.

 “Here, vandag is u gekruisigde liggaam vir my kosbaar.”

Lewende woorde op papier

Lees Hebreërs 4: 12 – 13

“Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is sker­­per as enige swaard…en dring deur…Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart” (12)

Ramad was die gevaarlikste man in die hele In­dië, skryf Peter V. Deison. Hy het die afgeleë dorpies aangeval en beroof. Terwyl hy op ’n dag ’n huis van een van die dorpies, wat hy aan­geval het deursnuffel, kom hy af op ’n swart boe­kie. Hy sien die papier is baie dun en presies die regte groote om mee sigarette te rol. Elke aand na ete ontspan Ramad en rook sy sigaret. Hy skeur ’n bladsy uit die boekie, vou dit om en rol sy sigaret. Een aand toe hy sy sigaret rol, sien hy die boekie is in sy taal geskryf. Daarna ontspan Ramad na ete soos gewoonlik, skeur die bladsy uit die boe­kie, maar lees dit eers, voor hy sy sigaret rol. Dit is Bybelbladsye wat hy so eers lees en dan vir ’n sigaret rol. Stadig aan begin die lig in sy hart op­gaan. En toe een aand, na hy weer van Jesus gelees het, kniel hy en, soos hy dit gelees het, maak hy sy hart se deur vir die Here oop, bely sy sondes, vra vergif­nis en vra Hom om in sy hart in te kom. Hy het, tot almal se verbasing, homself aan die polisie oorge­gee en toe ’n gevangene vir Christus geword. “The prison became Ra­mad’s mission field,” so skryf Peter Deison, “where he led many other prisoners to Jesus. God’s Word made the change in his life.”

 “Here, vandag is u Woord vir my kosbaar.”

Die Regte plek

Lees Johannes 19 : 17 – 30

“Daar het hulle Hom gekruisig en saam met Hom twee ander, een aan elke kant, met Jesus in die middel” (17).

Die beroemde skilder, Rembrandt, het die krui­sigings­to­neel van Jesus ge­skilder. Hy was veral bekend vir die gesigsuit­druk­kings wat in sy skilderye na vore kom. Our Daily Bread vertel van `n besondere element in hierdie  kruisigings­to­neel van Jesus. `n Mens se aandag word heel eerste na die ster­wende Heil­and getrek. La­­­ter begryp ons hoe­kom Jesus se kruisigings­toneel so `n sterk invloed  op die kyker kan uitoef­en – dit het ook die skilder se hart bereik. Van die Persoon van Jesus af, dwaal `n mens se aandag na die skare wat om die kruis versamel het. “You are impressed by the various attitudes and actions of the people involved in putting the Son of God to death,” skryf Daily Bread. Die kruisigings­gebeure en Jesus se houd­ing en gedrag aan die kruis tref mense altyd. Verskillende reaksies kan op die houding en gesigte van die omstanders ontdek word. Maar die groot bood­skap wat die skildery uit­dra, skryf Daily Bread, ontdek `n mens as jou oë die een­same figuur, verskuil in die skadu­wees, op die kant van die aktiewe gebeur­te­nisse, raaksien. Dit is Rembrandt self. Na Hy Jesus, sterwende aan die kruis, en al die mense met hul houdinge en gesigsuitdruk­kings geskilder het, het hy homself ook, laag­gebuig, tussen hulle geplaas, waaroor Daily Bread hierdie veelseggende opmerking maak: “…the artist himself realised that his sins had helped nail Jesus to the cross!”

Deur die Bybel se die vertelling van Jesus se kruisiging, bring die Heilige Gees dieselfde uit­werking in `n mens se hart. Ons moet in die vier evangelies Jesus se kruisiging stadig, pein­­sende lees. Hoe inniger ons, in ons ge­moed, lesende na Jesus kyk, oppad kruis toe, by die kruis, aan die kruis, hoe dieper dring die besef van wat Jesus vir ons gedoen het in ons hart in. Die oppervlakkige hantering van die kruisigings­ge­beure is `n groot skade vir ons geloofs­hou­ding. Lukas hoofstuk 23 be­skryf die kruisgingsto­neel duidelik. Rondom die kruis is vroue wat rou­be­dryf en Hom beklaag, die volk staan dit en aan­skou, die owerstes skimp, die soldate dobbel oor sy klere, `n rower bekeer hom, die dissipels en Jesus se familie staar. Kom ons vra onsself af: Hoe kyk ek na Jesus se kruisiging?

 “Here, vandag aanskou ek U aan die kruis.”