Betyds

Lees Matteus 15: 21 – 28 – OU VERTALING

“…Jesus…sê vir haar: ‘o Vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil hê’” (28).

Prins Edward van Wallis, die Swart Prins genoem, om­­dat sy ridderharnas swart was, was in 1346 by die slag van Crecy die aanvoerder van die voorhoede van die Engelse leër. Sy vader, Koning Edward III van Enge­land, het met die res van die leër, van ’n heuwel af, die geveg dopgehou. Prins Edward was skaars 16 jaar oud. In die midde van die hewige geveg, stuur die jong prins `n boodskapper na sy vader toe, om vir versterking te vra. Die koning talm om die versterking te stuur. Die prins stuur haastig ’n tweede boodskapper, om aan te dring op hulp. Saam met hierdie boodskapper, stuur die koning vir sy seun ’n boodskap terug. “Gaan sê vir my seun, ek is nie so ’n onervare aanvoerder, om nie te weet wanneer onder­steuning vir hom nodig is nie. Ek is ook nie so ’n onverskil­lige vader om dit dan nie te stuur nie.” Prins Edward het uit die ge­veg gekom, ’n sterker man en ’n beter aanvoer­der, omdat die koning hom geleentheid gegee het om in die gevegsposisie te groei.

Die groot Engelse prediker, C. H. Spurgeon, het twaalf preke, oor die verhaal van die Kananése vrou in Matteus 15, gehad. Dit was ’n leersame en bemoedi­gen­de ge­beur­tenis, waarby Jesus met groot aandag betrok­ke was. Wat Koning Edward III met sy seun, Prins Edward, ge­doen het, het Jesus met die vrou gedoen. Vir die eer­ste keer besoek Hy die streke van Tirus en Sidon. Voor­heen het Hy net onder die Jode in Galillea en Judea ge­werk. Die vrou hoor Jesus het in die Kananitiese streek aan­gekom. Vinnig kom sy na Hom toe en roep: “Wees my barmhartig, Here, Seun van Dawid! My dogter is erg van die duiwel besete” (22). Jesus weet haar  ge­loof het groter wysheid en gro­ter krag nodig. Hy sê vir sy dissipels, sodat sy dit kan hoor: ”Ek is net ge­stuur na die verlore skape van die huis van Israel” (24). Sy val voor Hom neer: “Here, help my” (25). Drie kos­ba­re woorde om vir Jesus te sê. Weer kry sy ’n ontmoedig­ende antwoord: “Dit is nie mooi om die kinders se brood vir die hondjies te gooi nie” (26). Haar antwoord straal toe die geloof en nederigheid uit wat Jesus in die hart soek: “Ja, Here, maar die hondjies eet darem van die krummels wat van die tafel van hulle base afval” (27). Jesus se antwoord in vers 28 spreek van sy tevredeheid met die houding waar­toe sy nou gekom het. “o Vrou, groot is jou geloof; laat dit vir jou wees soos jy wil hê.” Haar geloof en houding het die wasdom bereik wat Jesus bedoel het. En na Hy haar gehelp het, het Hy direk terug gegaan na die land van die Jode toe. Jesus het dus net vir háár ontwil na daardie streek toe gekom.

As ons gebed nie dadelik verhoor en ons nood nie da­de­lik opgelos word nie, laat ons aanhou bid, aan­hou luister. Die Heilige Gees bewerk in die wagtende, volhardende hart, wat God in ons hart wil bereik.

 “Here, vandag bid ek volhardend.”