Lees Filippense 2:12-18 Lewende Bybel
“Julle moet tussen hulle lewe soos ’n lig wat in die donker skyn want julle dra die boodskap wat aan ’n mens die lewe kan gee”(15,16).
Dit was vir ’n jong meisie moeilik om in haar werksomgewing vir Christus ’n getuie te wees. Sy het gevoel sy faal as Christen. Sy het oorweeg om van werk te verander. Sy het haar leraar se raad gaan vra. “Waar plaas ’n mens ’n lig?” vra hy haar. Sy verstaan sy vraag dadelik: “Waar dit donker is.” “Dis reg. Daarom het die Here jou daar geplaas. Moenie iets besonders probeer doen nie. Hou jou verhouding met die Here reg en sy lig in jou sal in jou gewone doen en late uitskyn na ander toe.” Hoe donkerder ’n plek is, hoe makliker word ’n lig, selfs ’n dowwe liggie, gesien.
Net so min as wat ’n gloeilamp kan brand as dit nie met krag verbind is nie, of ’n lamppit kan brand as dit nie in olie lê nie, net so min kan ons vir die Here soos ’n lig skyn as Hy nie deur die Heilige Gees self in ons is nie. “…’n lamppit wat dof brand, sal hy nie uitdoof nie” (Jes.42:3). Hierdie innerlike krag om vir die Here soos ligte te skyn, word in Filippense se 2de hoofstuk aan ons beloof: “…dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae…sodat julle onberispelik en opreg kan wees …te midde van ’n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte in die wêreld…” (13,15 Ou Vertaling).
“Here, vandag soek ek u krag in my, sodat ek vir U soos ’n lig kan skyn.”