Die rekening vereffen

Lees Efesiërs 1: 3  – 14

“Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oor­tre­dinge vergewe kragtens die ryke genade van God…(7).

’n Man het aan sy koerant ’n brief geskryf: “Ék het op Sondag geploeg, op Sondag ge-êg en gesaai. Ek het op Sondag watergelei, op Sondag ge-oes en op Sondag my graan weggery. My oes was die beste in die buurt en nog nooit het ek in Oktober so ’n groot oes gehad nie.” Die redakteur van die koerant was nie ’n gelowige nie en hierdie uitdagende en onverskillige man het verwag, die koerant gaan sy brief publiseer en een of ander spot­ten­de artikel daarvan maak. Hy het ’n kort briefie van die koerant terug ontvang: “Ontvangs van u brief word erken, maar laat ons asb. toe om u daaraan te herinner, God ver­effen nie sy rekeninge in Oktober nie.”

Dit is ook die waarskuwing in die Woord van God: “Omdat die verkeerde daad nie meteens getraf  word nie, hou mense eenvoudig aan om verkeerd te doen” (Pr.8:11). As alle sonde onmiddellik gestraf sou word, sou ons baie versigtig met ons lewenswandel en woorde gewees het. Maar nou doen mense die gruwelikste dinge en niks ge­beur nie. Of liewer: niks gebeur dadelik met hulle nie. Die Bybel waarsku, die rekening loop op en gaan later vereffen word. Ons kan met ons lewensgedrag wees soos iemand wat op skuld koop, en op skuld koop, en op skuld koop, en niks gebeur nie. Maar op ’n dag kom die opgeloopte rekening. Dit is verstandig om be­tyds die groot opgeloopte rekening van son­de­skuld in herinnering te bring en hulp te soek by die Een wat die rekening vir ons betaal het. Jesus het die sonderekening ten volle, en ten duurste, betaal, maar ons moet sy skuldoffer vir ons aanvaar.

Iemand het geskryf: Hoe belangeloos is die on­bekeerde mens oor die ewigheid. Vertel hom hy is siek. Hy sal hom dokter toe haas. Vertel hom sy regte word bedreig. Hy sal hom na die proku­reur toe haas. Maar wys hom op die gevaar waarin sy siel verkeer. Hy steur hom min daaraan. Hy sal versuim en sal aan hou versuim totdat hy vir ewig verlore is. En dit is `n aaklige lot.

’n Ander geskriffie sê: Die droewigste pad na die verdoemenis, is die een wat voor die preekstoel langs, teen die Bybel verby, tussen uitnodigings en waarskuwings deur, loop. Dit is juis die pad waar­langs die meeste mense verlore gaan. Hulle hoor. Hulle weet. Maar hulle wil nie gered word nie!

 “Here, vandag luister ek na u waarskuwing.”