Lees Handelinge 2:32-36
“… God het hierdie Jesus, wat julle gekruisig het, Here en Christus gemaak” (36).
Bruce Moore vermeld ‘n interessante feit, oor die vertaling van die Bybel in die Coloradotaal van Ecuador. ‘n Regte woord om “Here” te vertaal, kon nie gevind word nie. Die mense het geen begrip van ‘n sterk leiersfiguur gehad nie. Die woord “sênor” het bloot “meneer” beteken. ‘n Woord wat moontlik die begrip “Here” kon oordra, was die woord “Miya”. Dit het op iemand gewys aan wie gehoorsaamheid en toewyding verskuldig was. Toe hulle die woord op die mense begin uittoets, vind hulle, as die woord verbind word met Christus, dit by die meeste nie byval vind nie. “Miya Jesu Christos”, vir “Here Jesus Christus” was nie aanvaarbaar nie. Die vertalers het ‘n verklaring vir hierdie houding van die mense gevind. Onder invloed van die vroeëre Roomse Kerk, was Jesus vir die Colorados geen “Miya”, iemand wat gesag afdwing, nie. Hy was ‘n magtelose man wat aan ‘n kruis vasgenael is en wat bejammer moes word. Die woord “Miya” is verwerp, nié omdat dit nie “Here” uitdruk nie, maar omdat dit nié by Jesus sou pas nie. Hy was nie ’n Miya nie!
Die naam “Here Jesus” is alom bekend en ons noem Hom ook so. Verstaan ons die woord “Here”? Is Hy vir óns Iemand wat toewyding, eer en gehoorsaamheid verdien? Nasaret se mense het Hom gering geag. “Wie is Hy sodanig?” het hulle gevra. Solank Jesus nog nie vir ‘n mens “Here” geword het nie, is dit swaar om Hom te volg en Hom te gehoorsaam en Hom te dien. “Niemand kan sê: ‘Jesus is die Here nie’, behalwe deur die Heilige Gees” (1 Kor.12:3). Eers na ‘n mens deur die Heilige Gees weergebore is, word Jesus vir ‘n mens ”Here”. Dan verheerlik die Heilige Gees Jesus in ‘n mens se hart as “Here”. Uit die Woord, ons Bybel, leer die Heilige Gees ons om Jesus steeds duideliker te sien en beter te leer ken. “Julle moet ons Here en Redder, Jesus Christus, al beter leer ken en sy genade nog meer ondervind” (2 Pet.3:18 LEW.BYBEL.). Namate ons die Persoon van die Here Jesus leer ken, soos die Heilige Gees ons dit uit die Woord leer, verdiep ons agting vir die Here Jesus en word Hy vir ons Here en God. Daarmee verdiep ons toewyding aan Hom. Wanneer ek tussen Hom, my Here, en ‘n wêreldse aanspraakmaker op my lojaliteit moet kies, wat sê die uitslag van die toets vir my? Wie het gewen?
“Here vandag is U in my hart my Here en my God.”