Lees Lukas 15:25-32
“Toe het die oudste seun kwaad geword en wou nie in die huis ingaan nie. Sy pa gaan toe uit en praat mooi met hom…(28)
‘n Jongman het vir ‘n kursus in selfverdediging ingeskryf, vertel die Western Recorder. Effens onrustig of dit hom as belydende Christen betaam om dit te doen, gaan praat hy met sy dominee daaroor. “Dink u ek doen verkeerd om die kuns van selfverdediging aan te leer?” vra hy. “Sekerlik nie,” antwoord die dominee. “Ek het dit as jongman aangeleer en het baie baat gevind daarby.” “Regtig!” roep die jongman verras uit. “Watter stelsel het u aangeleer? Die ou Engelse stelsel of die Sulivan-stelsel, of ‘n Japanese een?” “Nee, nie een van hulle nie. Ek het die Salomostelsel aangeleer.” “Die Salomostelsel?” “Ja, jy kry dit in Spreuke 15:1: ‘‘n Sagte antwoord laat woede bedaar; ‘n krenkende woord laat woede ontvlam.’ Ek ken nie ‘n meer geslaagde selfverdedigingstelsel as dit nie.”
Min mense is bestand teen vriendelike en sagte woorde. As iemand ergerlik is en die ander persoon reageer ook ergerlik, is rusie eintlik onafwendbaar. Bly die ander persoon egter kalm en praat vriendelik en verstandig terug, kan die bakleier nie met sy rusie voortgaan nie. So skryf die Here se Woord ook ons gedrag voor: “Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde…” (Ef.4:2). So moet ons gesindheid ook wees teenoor ons minderes. Die egtheid van ons vriendelikheid kom na vore wanneer ‘n mens met ‘n mindere praat, veral as die mindere ‘n mens rede vir harde woorde gee: “En eienaars, behandel julle slawe met dieselfde gesindheid. Hou op om hulle te dreig. Dink daaraan dat die Here in die hemel hulle Here en ook julle Here is, en Hy trek niemand voor nie.” (Ef.6:9).
“Here, vandag wil ek op ‘n sagte antwoord terugval.”