Lees Johannes 12: 1 – 8
“Toe het Maria ‘n halfliter egte, baie duur nardusolie gebring en dit op Jesus se voete uitgegiet en sy voete met haar hare afgedroog. Die hele huis is deurtrek met die geur van die olie” (3)
Roy Zuck vertel Queen Mary het eendag met twee kinders in ’n woongebied van Londen geloop. Sy het alledaagse klere aangehad om te verhoed mense sal in die straat om haar saambondel. Sy was lief om met gewone mense te meng. ’n Reënbui oorval hulle. Sy gryp die kinders se hande en hardloop na ’n nabygleë huis. Vieserig laat die huisvrou die nat vrou en twee ewe nat kinders in haar huis in. Queen Mary vra of sy ’n sambreel kan leen om in die reën huis toe te gaan. Sy beloof om die sambreel die volgende dag terug te stuur. Die huisvrou het darem nie lus om haar goeie sambreel vir die vreemde vrou te leen nie. In ’n stoorkamertjie het sy ’n ou sambreel met twee gate in en een van die strekribbes gebreek, maar sy leen dit vir die vrou. Kom dit nie terug nie is dit nie ’n skade nie. Die volgende dag bring een van die paleiswagte in paleisuniform dit terug. Hy sê vir die verwonderde huisvrou: “Die koningin stuur dit terug. Sy sê baie dankie jy het dit vir haar geleen.” Verstom roep die vrou uit: “Die koningin. Was dit die koningin!. Ag, wat ’n geleentheid het ek nie gemis nie. Ek sou vir haar my beste sambreel gegee het, as ek net geweet het!”
Wanneer ons eendag die Here Jesus Christus in sy volle heerlikheid sien, gaan ons ook spyt wees, ons het hom tydens ons aardse lewe die stukkende sambreel gegee, die tweede of derde beste van ons lewe, in plaas van ons heel beste. As ons nie moeite doen en ruimte maak om Hom in ons stiltetyd, deur omgang met die Here deur gebed en Bybelstudie te leer ken nie, kan ons maklik in ons toewyding aan Hom kortkom.
“Here, vandag wil ek die beste van my lewe aan U gee.”