Lees Lukas 10:1-16
“Die oes is groot…die arbeiders min” (37).
Eendag in 1958, klop Yutaka Karasawa, aan Neil en Peggy Verwey, sendelinge in Japan, se voordeur. “Ek het gekom,” kondig hy aan, toe Neil die voordeur oopmaak. “Gekom waarvoor?” vra Neil uit die veld geslaan. “Om saam met julle te werk as hospitaalevangelis.” “Maar ek kan jou nie sommer net so in diens neem nie!” antwoord Neil, steeds vol verbasing. “Ek ken jou nie eens nie.” “Ek sal wag,” antwoord die jongman en wil sommer daar by die voordeur die daad by die woord voeg. Neil sien sy vasbeslotenheid en reël vir hom oornagverblyf by ’n ander hospitaalevangelis. Hy beloof om hom oor drie dae van hulle besluit te laat weet.
Gedurende dié drie dae vind Neil uit, Yutaka het in 1948, onder die bekende Japanese evangelis, Honda, se prediking tot bekering gekom. Daarna woon hy ’n kursus in ’n Bybelkollege by. In 1953 doen hy tuberkulose op, soos met baie Japanese gebeur. Hy ondergaan ’n groot operasie. Vyftien persone se bloed, onder andere dié van sy dokter en verpleegsters, moes vir ’n bloedoortapping gebruik word, om hom aan die lewe te hou. Vir jare lank was hy ’n teringlyer en nou wil hy vir ander pasiënte, in hospitale tot geestelike hulp wees. Hy hoor van die Japansending se hospitaalevangeliesasie. Seker van sy roeping laat hy sy vrou en kind tuisbly en ry 480 km. ver om by Neil uit te kom.
In daardie drie dae bid Neil en Peggy om raad. “Here,” bid hulle, “as dit U is wat hierdie man na ons toe gestuur het, laat daar binne hierdie drie dae vir ons nog ’n hospitaal oopgaan waar ons u evangelie moet bekend maak.” Binne die drie dae vra die Toneyamahospitaal, met 1000 teringpasiënte, vir ’n evangelis se diens. So begin Yutaka Karasawa se vrugbare bediening van 44 jaar in die teringhospitale. Talle teringpasiënte het onder sy bediening tot bekering gekom. Die teks vir sy laaste preek, voordat hy op 28 Desember 2003 dood is, was: “So lank as dit nog dag is, moet ons die werk doen van Hom wat My gestuur het, die nag kom, wanneer niemand kan werk nie” (Joh.9:4).
Oral is mense nodig om die hemelse koninkryk se werk te doen. Die Here roep persone om sekere take vir Hom uit te voer. Wees bereid om dié plekkie te vul in sy koninkryk se diens, waar Hy ú nodig het.
“Here, vandag wil ek U gehoorsaam en vir U werk.”