Lees Filippense 2: 5 – 11
“…God (het) Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen… die knie sou buig, en elke tong…erken: Jesus Christus is Here” (9)
In 1495 het Hertog Ludocico van Milan die Florentynse kunstenaar, Leonardo da Vinci, gevra om die toneel van Jesus se laaste maaltyd saam met sy dissipels, wat die begin van die Christelike nagmaal sou wees, op ‘n muur van die eetsaal van die klooster van Santa Maria delle Crazie in Milan, te skilder. Teen daardie tyd was die 43-jarige Da Vinci reeds as skilder, beeldhouer en argitek beroemd. Hy het stadig en met groot sorg hierdie belangrike taak verrig. Dit het drie jaar geneem om die skildery te voltooi. In die skildery sit die dissipels weerskante van Jesus. Jesus hou in die hand van sy uitgestrekte regterarm die beker met die wyn.Die beker was met verstommende realiteit geskilder. Die skilder wou Jesus as Verlosser beklemtoon. Da Vinci vra ‘n vriend om na die skildery te kom kyk. “Gee my jou eerlike opinie, asseblief,” sê Da Vinci vir hom. Die vriend kyk lank en deeglik. “Wonderlik,” sê hy gevoelvol. “Daardie beker is lewend eg. Ek kan my oë nie daarvan wegkry nie.” Da Vinci neem ‘n kwas en met een veeg wis hy die skitterende beker uit. “As die beker jou aandag so van Jesus aftrek, mag dit nie bly nie. Níks mag iemand se aandag van die figuur van Jesus aftrek nie.”
Jesus moet die middelpunt van ons lewensaandag wees. Dit was die geheim van Paulus se vrugbare en toegewyde lewe: “Ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God, wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê” (Gal.2:19,20).
“Here, vandag maak ek U die middelpunt van my lewe.”