Naby genoeg

Lees Matteus 14: 22 – 32

“Dadelik het Jesus sy hand uitgsteek, hom gegryp en vir hom gesê: ‘Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?”

In die Prairie Overcomer vertel dr. John G. Paton, van die New Hebrides, hoe die destydse barbaarse in­boor­linge om hom geswerm het, om hom dood te maak. In die sendelinge se vlugtog het hy alleen in die bos ag­ter­gebly. Die ure wat hy so dood alleen moes deurbring, bly hom so helder voor die gees asof dit gister gebeur het, vertel hy. Oorweldig deur  vrees het hy in ’n boom geklim. Kort-kort het hy geweervuur gehoor, te midde van die ge­skreeu en gegil van die inboorlinge. Toe kom daar ’n stil­le wete in sy hart: hy is veilig in Jesus se arms. Hy sê: “Never, in all my sorrows, did my Lord draw nearer to me, and speak more soothingly in my soul, than when the moonlight flickered among those chestnut leaves, and the night air played on my throbbing brow, as I told all my heart to Jesus.”

Die ergste bedreigende omstandighede is soms juis vir ons die toneel, van ons diepste ervaring van die Here se nabyheid. Petrus het dit op die on­stui­mige see ervaar. Hy sink toe hy die branders sien en die stormwind voel. Hy het bang geword. Op sy uitroep om hulp het hy da­delik Jesus se hand­greep om sy hand gevoel en ervaar hoe hy uit die diep­water gehaal word. Het u iets wat u bang maak? Roep na Jesus. Hy is naby genoeg om u  hoor en u dadelik te help

“Here, vandag roep ek na U, want ek is bang.”