Lees Filippense 2: 5 – 11
“…God (het) Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen… die knie sou buig, en elke tong…erken: Jesus Christus is Here” (9)
Die geroemde Britse Bybelgeleerde, dr. Henry Jowett, het die kroningsplegtigheid van Koning Edward VII van Engeland, aan die begin van die 20ste eeu, in die Westminster Abbey, bygewoon. Hy het met belangstelling gekyk hoe die hoëlui opdaag, en hoe ‘n sitplek, volgens stand, toegeken word aan elke prins en prinses, elke hertog en hertogin, elke lord en lady, en elkeen van laer stand, en hoe aan elkeen, volgens stand, eer bewys word. Toe arriveer die koning self, skryf dr. Jowett, en al die oë draai weg van die ander meerderes en minderes en word net op die koning gevestig. In dr. Jowett se eie woorde: “So, literature, music, art, and the sciences are worthy of our respectful attention; but when Jesus Christ comes into the heart, He must be King and all lesser sujects take their lesser place.”
As ons in eie krag, uit ons kennis van hoe dit behoort te wees, vir die Here Jesus in ons hart probeer koning maak, is sy ereposisie in ons lewe kwesbaar. Dan gebeur met ons wat met Petrus gebeur het. Hy het van harte aan Jesus die hoogste koningsposisie in sy hart gegee. In die tuin van Getsemane sê hy van harte vir Jesus: “Here, ek is bereid om saam met U… gevangenskap en dood in te gaan” (Luk.22:34). ‘n Paar uur later ontken hy dat hy Jesus selfs ken. Vir ware toewyding en oorwinnende dissipelskap moet die Heilige Gees die Here Jesus in ons lewe koning maak. Dan tree ons op en getuig soos Petrus gedoen het na die uitstorting van die Heilige Gees: “God het hierdie Jesus uit die dood laat opstaan…Hy is verhoog aan die regterhand van die Vader en Hy het die Heilige Gees wat belowe is, van die Vader ontvang en uitgestort…” (Hand.2:32,33). “Moenie vir mense bang wees of julle laat afskrik nie. In julle harte moet daar net eerbied wees vir Christus die Here” (1 Pet. 3:14,15). Aan die Efesiers skryf Paulus: “Ek buig … voor die Vader van onse Here Jesus Christus … dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon … (Ef.3:16,17).
“Here, vandag verlang ek na die volheid van u Gees in my hart, sodat Jesus kan koning wees.”