Lees Spreuke 12: 13 – 21
”Praat sonder om te dink kan soos dolksteke wees; wyse mense bring genesing met wat hulle sê” (18).
Thomas lig sy kop van die kussing af op. Hy het iemand hoor snik. En nou hoor hy dit duideliker. Iemand kreun. Hy beter gaan kyk. In die skemerte van die kamer loop hy versigtig deur toe. Die vertrek waar hy nou instap, lyk vreemd. Hy word bang. Dié kamer is ligter en hy sien drie figure op die vloer lê: ’n seun van so ses jaar oud, ’n dogter van seker tien, en ‘n vrou. Om hulle is plasse bloed. Daar is nog iemand in die kamer. Dié een praat skielik, met ’n harde, onverbiddelike stem met Thomas: ”Sien jy nou hoeveel leed jy veroorsaak het?” ”Ek?” roep Thomas verbaas uit. ”Dis nie ek nie! Ek sal nie so iets doen nie!” ”Ken jy hierdie mense?” vra die vreemdeling en wys met sy hand na die figure op die vloer. Thomas kyk en trek sy asem hard in. Dis sy ma en boetie Hansie en sussie Edna. “Kyk na die wond aan haar skouer,” beveel die man. Thomas sien dit is ’n lelike sny in Edna se skouer. Dit kon die spiere in die skouer dalk beseer het. “Mm…maar…” stotter Thomas. Dan word hy kwaad. “Wie het dit gedoen?” ”Kyk na die seun se gesig,” beveel die stem. Thomas sien ’n yslike, bloeiende sny al langs Hansie se wang af. ”Kyk na jou ma,” beveel die stem weer. ”Daardie steek onderkant jou ma se linkerarm het amper haar hart getref.” ”Ons moet hulp kry! Van wanneer af lê hulle al hier?” roep Thomas uit. ”Van vanmiddag af toe jy hulle daar in die tuin so aangerand het,” sê die stem onverbiddelik. ”Ek het dit nie gedoen nie!” skreeu Thomas nou. ”Ek het nie eers ’n mes nie en ek sal mos nie so iets doen nie.” “O, ja. Jy het ’n gevaarlike dolk. Ek was by toe julle vanmiddag in die tuin die blombeddinkies geskoffel het. Onthou jy nie? Edna wou jou met die emmer water help, en jy het haar toegesnou: ‘Gee pad hier! Ek het nie ’n ou meisiekind soos jy se hulp nodig nie!’ Met daardie dolksteek het jy haar arm so ’n wond gegee, dat sy jou nie gou weer sal kan of wil help nie. En onthou jy toe Hansie…..” ”Hou op!,” skreeu Thomas. “Wie is jy?” ”My naam is Gewete,” sê die stem. ”Ek onthou,” kreun Thomas, “maar ek het tog net met hom geraas. Hy het my so gepla. Ek het nie eers aan hom geraak nie. Ek kon hom tog nie so gesteek het nie. Ek het nie ’n mes nie!” ”Jy het ’n gevaarlike dolk. Jou tong. ’Praat sonder om te dink kan soos gevaarlike dolksteke wees (Spr.12:18).’ En: ’Sy tong …sy woorde… is swaarde wat reg is om te steek…’ (Ps.55:21).” Gewete gaan meedoënloos voort: “Toe jy vir jou ma gesê het….” ”Asseblief, asseblief, moet dit nie sê nie!” huil Thomas nou. Voordat Gewete kan antwoord, voel Thomas iemand trek hom aan sy arm. Hy rek sy oë oop en kyk vas in sy ma se vriendelike, liefdevolle gesig. ”Toe, toe, opstaan ou seun, dis tyd….” Thomas vryf sy oë. Hy het gedroom. Ag, hy het net gedroom! Hy gooi sy arms om sy ma se nek en gaan hartlik aan die huil. “Ekskuus, Mamma. Ekskuus, Mamma….” en hy snik sy droom teen haar nek uit.
”Begryp julle nie…? Wat by die mond uitkom, kom uit die hart…” Valse getuienis (leuens), kwaadpratery (vloek, slegsê, verwyt, afjak, skinder en so meer). As ons hart reeds aan die Here behoort, moet die Heilige Gees dit beheer. Die beheer wat die Here op ons hart kry en handhaaf, beskryf Paulus so: ”Dit het Hy gedoen deur die wedergeboorte wat die sonde afwas, en deur die Heilige Gees wat nuwe lewe gee. God het die Heilige Gees oorvloedig op ons uitgestort deur Jesus Christus ons Verlosser” (Titus 3:5,6).
“Here, vandag vra ek U om my tong met u krag te beheer.”