Skrifdeel: Johannes 10: 22 – 30
“Niemand sal hulle uit my hand ruk nie” (28).
Twee Christenmanne, wat aan verskillende kerke behoort, stry eendag oor die behoud van die gelowige, vertel Christian Courier. Die een sê: “Ek sê vir jou, `n kind van God is net veilig as hy in die reddingsbootjie bly. Hy kan uitspring en as hy uitspring is hy verlore.” Die ander een antwoord: ”Jy laat my dink aan `n gebeure in my eie lewe. Ek het my seuntjie saam met my in die boot geneem en op die meer gaan vaar. Hy was klein en opgewonde en het met sy handjie in die water probeer plas. Hy het nie, soos ek, die gevaar besef van in die water te beland nie. Ek wou nie sy pret bederf nie en het hom heeltyd net vasgehou, sodat hy nie kon uitval of uitspring nie.” “Ja,” sê die eerste man, “maar hy kon hom loswoel uit sy jassie as hy wou en tog in die water beland.” “Jy het my verkeerd verstaan as jy dink ek het net sy jassie vasgehou.” sê die ander man weer. “Ek het hóm vasgehou.”
As ons deur genade, met vertroue in Christus, God se kind geword het, hou Hy óns vas. Ons gevoelens kan verander, ons skrifbegrip kan verander, `n versoeking kan ons platloop, maar gelukkig hou God onsself vas en bring ons weer, in tot `n van hart tot hart verhouding, met Homself. Dit is hoe Jesus Petrus vasgehou het. “En onmiddellik, terwyl Petrus nog praat, het daar ’n haan gekraai. Jesus (in die hoëpriester se huis waar Hy ondervra word), het omgedraai en Petrus aangekyk. Toe val dit Petrus by wat die Here vir hom gesê het: ‘Voordat die haan vannag kraai, sal jy My drie maal verloën.’ En Petrus het buitetoe gegaan en bitterlik gehuil” (Luk.22:60-62). Die Here Jesus behou hom só as sy dissipel.
“Here, vandag weet ek U hou my vas.”