Ons bid volgens behoefte

Lees Lukas 18: 35 – 43

“Toe hy naby kom, vra Jesus vir hom: ‘Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?’ En hy antwoord: ‘Here, dat ek kan sien.’” (40,41).

Theodore Monod was eendag besig om vir ’n seun die verhaal van die blinde man by Jerigo te vertel, skryf Sunday School Chronicle. Die seun­ luister met stralende gesig en wakker ogies na dié storie. “En wat,” vra Monod vir die seun­tjie, “sou jy van Jesus gevra het as jy blind was?” Dadelik ant­woord hy: “Ek sou vir ’n mooi hond met nekband en ketting gevra het, so­dat hy my oral waar ek wil wees kan lei.” Monod merk hieroor op: “How often do we ask for the blind man’s dog instead of the seeing man’s eyes.”

Die seun het wakker, sienende oë gehad en daar­om kon dit nie deel van sy gebed uitmaak nie. Hoe sterker ons van ’n behoefte bewus word, hoe meer kleur dit ook ons gebed. Onbetaalde skuld by winkels en ’n oortrokke bankrekening laat ons vir geld bid, ’n kwellende kwaal laat ons vir gesond­heid bid en bewuste geestelike behoefte laat ons vol­gens ons geestelike behoefte bid. Die blinde man se blindheid en Jesus se nabyheid en vrien­delike vraag: “Wat wil jy hê moet ek vir jou doen?” het hom so duidelik volgens sy ware be­hoefte laat bid: “Here, dat ek mag sien.” Dié drie dinge bepaal ons gebed: `n Bewuste behoefte, ‘n wete wat God be­loof en ’n bewus­syn van die Here se nabyheid. Soos met die blinde man laat dit ons bid: ”Here Jesus, in u Naam, dóén dít (elkeen volgens ons eie be­hoef­te), of, géé dít, vir my.”

 “Here, vandag bid ek vir my behoefte en ek glo.”