SKRIFDEEL: Johannes 4:1 – 26
“Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom ’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee” (13,14)
’n Jong filmster het gewild geword en vinnig opgang gemaak. Sy het vir haar ’n huis gekoop en die huis Satis genoem, afgelei van satisfied, om uitdrukking te gee aan haar tevredenheid met haar lewe. Op ’n dag het hulle haar gevind, dood, opgehang aan een van die balke van Satis! ‘n Ander jong filmster het ‘n ander weg gevolg. Sy het ook belangrik en gewild geword en sy het dieselfde innerlike leegheid ondervind. Iewers het sy met die boodskap van Christus se verlossing te doen gekry – dalk ‘n oupa of ouma wat vir haar gebid het! Sy het uiteindelik na haar kamer toe gegaan, by haar bed gaan kniel en so gebid: “Here Jesus, gee vir my wat ek nie wil hê nie. Doen vir my wat ek nie vra nie. Maak my wat ek nie wil wees nie. Maar, asseblief, Here Jesus, red my!” Die Here het haar opregte gebed verhoor en vir haar die redding en Christenskap gegee wat haar lewe met ‘n vreugdevolle toekoms vervul het.
Die kerkvader, Augustinus, het gesê: “God het die mens vir Homself gemaak, daarom kan die menslike hart met niks minder as God self tevrede wees nie.” Totdat die hart rus vind in Christus se redding, bly dit soos ons van Noag se duif lees: “Noag het toe ‘n duif losgelaat om te probeer vasstel of die water al van die aarde af verdwyn het. Maar oral op die aarde was daar nog water, en die duif kon nie ‘n rusplekkie kry vir die holte van sy voet nie en het na Noag toe in die ark teruggekom. Hy het dit toe met sy hand gevang en in die ark teruggesit” (Gen.8:8). Dit was ook die Here Jesus se antwoord aan die duiwel toe dié Hóm probeer versoek het: “’n Mens leef nie net van brood nie, maar van elke woord wat uit die mond van God kom” (Mat.4:4).
“Here, vandag soek ek die rykdom van u koninkryk in my hart.”