Lees Hebreërs 4: 12 – 13
“Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard…en dring deur…Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart” (12)
Ramad was die gevaarlikste man in die hele Indië, skryf Peter V. Deison. Hy het die afgeleë dorpies aangeval en beroof. Terwyl hy op ’n dag ’n huis van een van die dorpies, wat hy aangeval het deursnuffel, kom hy af op ’n swart boekie. Hy sien die papier is baie dun en presies die regte groote om mee sigarette te rol. Elke aand na ete ontspan Ramad en rook sy sigaret. Hy skeur ’n bladsy uit die boekie, vou dit om en rol sy sigaret. Een aand toe hy sy sigaret rol, sien hy die boekie is in sy taal geskryf. Daarna ontspan Ramad na ete soos gewoonlik, skeur die bladsy uit die boekie, maar lees dit eers, voor hy sy sigaret rol. Dit is Bybelbladsye wat hy so eers lees en dan vir ’n sigaret rol. Stadig aan begin die lig in sy hart opgaan. En toe een aand, na hy weer van Jesus gelees het, kniel hy en, soos hy dit gelees het, maak hy sy hart se deur vir die Here oop, bely sy sondes, vra vergifnis en vra Hom om in sy hart in te kom. Hy het, tot almal se verbasing, homself aan die polisie oorgegee en toe ’n gevangene vir Christus geword. “The prison became Ramad’s mission field,” so skryf Peter Deison, “where he led many other prisoners to Jesus. God’s Word made the change in his life.”
“Here, vandag is u Woord vir my kosbaar.”