Lees Efesiërs 6: 10 – 20
“Daarby moet julle altyd geloof as skild in die hand hê want waarmee sal julle al die brandpyle van die Bose kan afweer…en vat die swaard van die Gees, dit is die woord van God” (16,17).
Leslie B. Flynn skryf in sy boek, Your Inner You, oor die waarde wat die Woord van God vir ons het, as ons dit uit die kop geleer het. Hy skryf, “engraved in our minds, it changes our perspective about life…it provides an intellectual basis for optimistic thinking”. Iemand het die memorisering van die Skrif beskryf as “…the daily habit of supplying the subconscious with God’s material to chew upon”. Paulus het die geheim van ’n blymoedige, oorwinnende hart so beskryf (Die Boodskap-vertaling): “Moenie oor dinge sit en tob of jou bekommer nie. Gaan praat met God daaroor. Bespreek dit met Hom. Vertel Hom hoe jy daaroor voel…dink aan dit wat vir God saakmaak, dinge wat ordentlik en reg is, dinge waaraan God sal dink en van sal hou…dinge wat God in ’n goeie lig stel” (Fil.4:6-8).
Dr. Oscar Lowry vertel in sy boek Scripture Memorizing for Successful Soul-winning, hy het as jong predikant geen tekse uit sy kop geken nie. Teksverwysings wat hy in sy werk sou nodig kry vir berading, het hy op sy Bybel se kantlyn geskryf. Dit het egter lastig geword om telkens die regte teks op te soek. Toe besluit hy, in sy eie woorde: “If I can memorize one verse, I can memorize one more, and ten more, and even one hundred more.” Die volgende oggend het hy vroeg opgestaan en Romeine 10:9-10 opgesoek, vir meer as ’n halfuur het hy op en af in sy kamer geloop en die verse geleer tot hy dit kon herhaal. Die volgende oggend het hy dit herhaal, tot hy dit weer vlot kon opsê en toe een vers bygeleer. Hy het met hierdie patroon voortgegaan. Een oggend het hy besef hy kan 100 tekse herhaal sonder om in die Bybel te kyk. Aan die einde van sy lewe kon hy twintigduisend tekse (ongelooflik!) met die regte skrifverwysing aanhaal, sonder om van sy Bybel gebruik te maak. Hieroor sê Leslie B. Flynn: “No wonder his Christian life was full of joy, his mind full of wisdom, and his evangelistic efforts full of success.”
“Here, vandag verlang ek om ook u Woord in my hart en in my gedagte te ken.”