SKRIFDEEL: Matteus 14: 22 – 32
“Maar toe Petrus sien hoe sterk is die wind, het hy bang geword en uitgeroep: ‘Here, red my!’ Dadelik het Jesus sy hand uitgesteek, hom gegryp en vir hom gesê: ‘Kleingelowige, waarom het jy begin twyfel?’” (30,31)..
‘n Gids het ’n groepie toeriste langs ‘n steil pad na ’n waterval toe gelei. Die laaste endjie moes hulle oor ’n nou, wankelrige hangbrug oor ‘n diep afgrond loop. Een vrou het net halfpad gekom. Toe sy afkyk en die diep afgrond sien en die beweging van die brug onder haar voete voel, kon sy nie ‘n tree verder gaan nie. Die gids het gesien sy word paniekerig. Sy het met albei hande die bruggie se reling vasgegryp en vir lewe en dood daaraan geklou. Met ’n rustige glimlag steek hy sy hand na haar toe uit. “Jou hand in die gids se hand,” sê hy vriendelik. Met een hand los sy die reling en sit dit bewerig in die gids se hand. Met die ander hand bly sy steeds styf aan die reling vasklou. Die gids sien hulle sal nie vorder nie. Steeds glimlaggend, rustig, maar ferm sê hy vir haar: “Albei jou hande in die gids se hand.” Stadig laat sy met die ander hand die reling los en sit dit ook in die gids se sterk hand. Tree vir tree lei hy haar veilig oor die wiegende bruggie na die anderkant toe.
Hoe dikwels wieg die bruggie nie onder ons voete nie? Die bruggie van ons gesondheid, van ons finansies, van ons algemene omstandighede, van ons geestelike lewe. Die dissipels het in tye van nood hierdie les geleer. In hulle bootjie op die stormagtige see, het Jesus meer as een keer die storm laat bedaar. Toe hulle die duisende moes voed, het Hy die brood en vissies vermeerder. Die geheim is `n doelbewuste vertroue in God. “Die dag as ek bang word, vertrou ek net op U…ek is nie bang nie” (Ps.56:4,5).