SKRIFDEEL: Matteus 5: 13 – 16
“Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik” (16).
‘n Jongman en `n meisie stap met die paadjie, wat aan die voet van Catskill Mountains, rivierlangs kronkel, vertel Secret Place. Hulle praat oor `n ander jongmeisie wat albei as `n toegewyde Christin ken. Die jongman sê: “Sy het, wat ek sou noem, `n stralende persoonlikheid.” “Dis waar,” stem die jongmeisie saam. “Hoe sou jy dit verklaar?” Hulle stap `n endjie in stilte, dan wys die jongman na die oorkant van die rivier. “Sien jy daardie ou kasteel? Toe ek `n seuntjie was, was ek en my maats lief om op die rivierwal te sit en na die kasteel te kyk. Ons kon sê wat in die kasteel aangaan, volgens die ligte wat in die kasteel brand. As net die familie bymekaar was, het net `n paar ligte gebrand. As hulle gaste onthaal, brand `n klomp ligte. Een keer het `n lid van die koninklike familie daar besoek afgelê. En jy moes daardie aand se ligte kon sien! Ek het selde so `n glans en skittering in my lewe gesien.” Die gesprek keer terug na hulle vriendin toe. In haar eie woorde, volgens Secret Place, sê die jongmeisie: “I think the only way her radiant personality can be explained is that she is costantly entertaining a Royal Guest.” Koning Jesus woon in haar hart.
`n Predikant was op `n skip wat The Bay of Biscay oorgesteek het. Hy kyk met angs na, wat hy dink, `n naderende orkaan is. Bewende wend hy hom tot een van die matrose. “Dink julle die skip sal deurkom?” vra hy. “Deur wat kom?” vra die matroos. “Daardie vreeslike orkaan wat aankom.” antwoord hy. Die ou matroos glimlag. “Daardie storm sal nooit weer hierlangs kom nie,””antwoord hy rustig. “Dit wás reeds hier en is verby.”
Die indruk wat dié insident op die dominee gemaak het, weergee Kings Business met hierdie woorde. “So, in regard to the believer, judgment as to the penalty of our sins is past. We were tried, condemned and executed in the person of our Surety, our Lord Jesus Christ, on Calvary.” Daar is plek vir blyskap in die hart van die volgeling van Jesus, in plaas van die vrees, soos in die hart van die een wat die Here Jesus nog nie as Verlosser ken nie.
Vir die persoon wat in Jesus Christus vertrou vir die vergifnis van sy sonde en die redding van sy siel, het die onbeskryflike orkaan van God se toorn oor sonde, verbygegaan. So iemand het erfgenaam geword van vrede, vergifnis en die ewige lewe. Vir die beangsde misdadiger aan die kruis, wat hom op die laaste tippie tot Jesus, langs hom, gewend het, het Jesus gesê: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees” (Luk.23:40-43). “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie” (Rom.8:1). In so `n hart ontplooi die Heilige Gees vreugde, vrede, vriendelikheid.
“Here, vandag glo ek U vergifnis.”