Binne elkeen se vermoë

Lees Lukas 10:25-37

“Hy het na hom toe gegaan…hom op sy rydier gehelp en hom na ’n herberg toe geneem…” (34)

Op ’n koue wintermiddag in Londen sit ’n ou man naby die hoek van ‘n straat op sy lae stoeltjie en bedel. Met vingers, blou van die koue, probeer hy sukkelende op ’n goedkoop viool speel. Die vals klanke trek min aandag. Min geldstukkies beland in sy omgekeerde hoed. Die ysige wind dryf die mense vinnig na hulle bestemming toe. Twee welgeklede mans steek by die ou man vas. Die een man spreek hom in gebroke Engels, met ’n vreemde aksent, aan: “Jy kry maar min in, nè? Niemand wil gee nie, nê? Kom ons máák hulle gee.” Hy neem die viool by die verbaasde ou man en stem dit in. Toe die strykstok oor die snare streel, is dit of daar lewe in die viool kom. Soet klanke, vol musiek, stroom uit. Mense kom tot stilstand, bly staan en luister. ’n Skaar vergader. Die straathoek verander in ’n konsertverhoog. Die ou man se hoed word rondgstuur. Dit word swaar van al die muntstukke. Die vreemdeling gee die hoed vol geld en die viool aan die ou man terug. Die ou man is oorstelp van vreugde en opwinding. “Dankie! Dankie!” prewel die ou. “Wie is u, Meneer?” Die man glimlag en stel hom aan die ou man bekend: “My naam is Paganini.”

Wat vir die ou man moeilik en onmoontlik was, was vir die beroemde violis, sommer so in die verbygaan,’n maklike en aangename taak. Dit was gerieflik binne Paganini se vermoë om die nodige en nuttige taak, wat totaal buite die ou man se vermoë was. te verrig,. ’n Ongelukkige en mislukte middag is omskep in ’n opwindende middag vol hoop en wins.

Ons het elkeen gawes en vermoëns wat aan ander ontbreek. Ons kry ook geleenthede om vir iemand dié ding te doen wat vir hom so nodig is, maar wat hy nie kan vermag nie. Dit is soos ’n dankoffer aan God, wat vir ons ons gawes gegee het, as ons vrywillig en hartlik vir iemand ’n onmoontlike knoop deurhaak.

“Ek was oë vir die blindes en voete vir die kreupeles…”(Job 29:15).

“Here, ek wil vandag my oë oophou vir ’n geleentheid om iemand te help met die gawes wat U aan my gegee het.”