Uitverkiesing

LEES: Romeine 8: 26 – 39

“Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook ge­roep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik” (30).

Die bekende prediker, C. H. Spurgeon, skryf oor uitverkiesing: Op die volgende ma­nier kan jy van jou uitverkiesing seker wees. Voel jy jy is ’n verlore, skuldige sondaar? Gaan reguit na die kruis van Jesus en vertel dit vir Hóm. En sê vir Hom jy het in die Bybel gelees dat Hy gesê het: “Ek sal hom wat na My toe kom nooit uitwerp nie” (Joh.6:37). En vertel Hom dat jy ook in die Bybel gelees het: “Dit is ’n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word, dat Christus Jesus in die wê­reld gekom het om sondaars te red (1 Tim.1:15) Kyk na Jesus, vertrou in Hom, en jy sal sekerheid kry dat ook jy verkies is tot die ewige lewe. So seker as wat jy glo, so seker is jy uitverkies. Laat vaar alle on­rus­tige vrae oor uitverkiesing. Gaan na Jesus toe, net soos jy is, hoe skuldig ookal. Skuil in sy won­de. Die Heilige Gees sal aan jou ‘n versekering gee wat jou sal laat sê: “Ek weet in wie ek geglo het, en ek is oortuig dat Hy mag het om my pad te bewaar tot dié dag toe (2 Tim.1:12). Gaan plaas jou vertroue in Jesus Christus. Hy was teenwoordig toe God die ewige raadsbesluit van die uitverkiesing ge­neem het. Hy sal jou antwoord: “Ja, Ek het jou liefgehad met ’n ewige liefde; daarom het Ek jou getrek met goedertierenheid (Jer.31:3).

 “Here, vandag is ek seker U het my gered.”

Soete Wraak

Lees Matteus 5: 3 – 13

“Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word.”

 'n Vrou het op haar klein plotjie, op die grens van ‘n plattelandse dorp, in Enge­land, gewoon.  Sy was afhanklik van haar groen­tetuin se opbrengs. In haar tuin het ’n perskeboom ge­staan. Van die dorpseuns het lus gekry vir die boom se prag­ti­ge ryp pers­kes. Een nag kom hulle toe ook stil­letjies vrugtesteel. Die vrou het juis dáárdie mid­dag die boom se drag afgepluk. Sy wou dit die volgende dae verkoop. Uit wraak, omdat die vrugte afgepluk was, maak hulle die hei­ning tussen haar en die buurman, wat met varke boer, oop en laat die var­ke na hartelus, met groot skade, in haar groen­te­beddings baljaar. Die volgende oggend kyk sy na die verwoesting in haar tuin. Sy sien ’n mes lê. Op die hef van die mes was die naam van een van die seuns uitgekerf. Sy het die seun ge­ken. So het sy geweet wie vir haar skade verant­woordelik was. Niks het verder van die saak geword nie.

Gedurende die vol­gende maande kom die seën van ’n geestelike herlewing in die dorp se kerke. Mense kom tot bekering. Een van die persone wat tot bekering kom, was daardie seun, die vrug­te­steler. Onder die dade waaroor hy onder sonde­oortuiging kom, was die lelike mis­daad in die arm vrou se tuin. In sy bekeerde hart weet hy hy moet sy wandaad aan die weduwee gaan bely. Die nu­we vryheid wat die Heilige Gees, deur sy geloof in sy Ver­losser, Jesus Christus, gebring het, gee hom moed om na haar toe te gaan en alles te vertel. Sy gaan haal sy mes en sê met ’n glimlag: “Ek het geweet dit was jy en jou maats wat dit ge­doen het.” “Hoekom het Tannie ons nie gaan aan­gee en ons vir die skade laat betaal nie?” vra hy uit die veld geslaan. Sy glimlag dieper. “Daar was ‘n beter manier.” “Wat was dit?” vra hy steeds verbaas. “Ek het vir jou en jou maats se redding begin bid. Die Here het  my ver­hoor.”

Die vrou het soete wraak geneem! In haar hart was die wete sy het God se weg van liefde gevolg. Sy beleef die vrug van haar gehoorsaamheid: ‘n ander se bekering.

“Here, vandag wil ek aan ’n ander goeddoen.”

Oorwinnaar

Lees Kolossense 2:8-15

“Deur dit (die skuldbewys teen ons) aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem. Hy het die bose magte ontwapen…”(14,15).

Jare gelede vertel ’n Sweedse koerant hoe die ko­­ning van Denemarke, Christiaan X, op sy oggendrit te perd deur Copenhagen, ’n swastika oor ’n open­bare ge­bou sien wapper. Dit was teenstrydig met ’n verdrag wat Hitler met sy land gehad het. “Verwyder die vlag,” beveel die koning die bevelvoerende offi­sier. Hy weier kortaf. “Dit bly daar. Nuwe opdrag van Berlyn af.” “Twaalfuur moet die vlag af wees, anders stuur ek ’n soldaat om dit af te haal,” verklaar die koning saaklik. “Enige soldaat wat dit waag, sal ge­skiet word,” waarsku die offisier. “Ek sal self daar­­die soldaat wees!” ant­woord die koning. Die vlag is betyds afgehaal. Op daar­die stadium kon die Nazis nie waag om die koning van Denemarke te skiet nie.

Die Here Jesus Christus het ook in eie persoon Satan in hierdie wêreld onttroon. Met groot woede probeer die Satan sy mag terugwin. Die Here Jesus se kerk, sy volgelinge, is Satan se teiken. Satan tas Hóm aan deur sy gelowiges aan te val. Christus het Satan egter oor­win. Elke mens wat aan Christus be­hoort, word deur hierdie oorwinning van Christus be­skerm. “Nou het ons God, die redding gebring, nou is sy mag en koningskap hier, en die gesag van sy Gesalfde (Christus)! Die aanklaer van ons medege­lowiges is uit die hemel uit gegooi, hy wat hulle dag en nag voor ons God aangekla het. Hulle het self die oorwinning oor hom be­haal danksy die bloed van die Lam…en waarvan hulle getuig het…  (Opb.12:10)

“Here, ek skuil vandag onder U oorwinning oor Satan”

Onopgemerkte Seëninge

LEES: Psalm 8: 1 – 10

“…wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?” (5)

Die Earnest Worker vertel die volgende in­si­dent, om ons bedag te maak op seëninge wat ons geniet, maar nie opmerk nie, omdat ons so gewoond geraak het daaraan. Op die balkon van ‘n somervakansiehotel het die be­soe­kers een aand saamgedrom om na ’n ver­ruk­like sonson­der­gang te kyk. Een man, het lank, na almal reeds weggegaan het, nog steeds na die laaste gloed aan die westerkim gestaar. Hy was dui­de­lik diep geraak deur die natuurskouspel. ’n Vrou het hom dop­gehou en hom later na sy be­sondere be­­­lang­­stelling in die sonsondergang gevra. “Jy het die sons­­on­dergang besonder geniet. Is jy ’n kunste­naar?”  “Nee,” antwoord hy, “ek is ’n lood­gie­ter. Maar ek was tot onlangs vir vyf jaar lank blind. Nou kan ek weer sien en kry nie ge­noeg na al die mooi dinge om my gekyk nie.”

’n Ander man sê hy wou kla omdat hy nie skoene het nie, toe sien hy ’n man wat nie voete het nie. Die gebrek aan sy skoene het hom nooit weer gekwel nie. Daar is dinge wat ons nie het nie en dinge wat ons nie kan ge­niet nie, maar let ons op vir dié dinge wat ons wel hét en wat ons wel kán geniet? “Wees in alle omstandighede dank­baar ….(2 Thes.5:18).”     Ons bekende ou Hallelujalied leer ons dit:

Tel jou seëninge , tel hulle een vir een,

 Seëninge jou deur God geskenk!

Tel hul almal, kyk wat God verleen,

 en jy sal verbaas wees oor wat God jou skenk!

 Here, vandag dank ek U vir al u seëninge in my lewe.”

Net soos ek is

LEES: Johannes 6 : 30 – 40

Elkeen wat die Vader vir my gee, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie” (37).

In Kingdom Evangel word vertel van ’n besoek wat die be­roem­­de Switserse evangelis, dr. Caesar Milan, bietjie meer as hon­derd jaar gelede, aan Lon­den gebring het. Hy het ’n onthaal by­­ge­­woon, waar ’n besonder talentevolle jong vrou pragtig op die kla­vier gespeel het. Sy was nie net ’n musiek­kun­ste­na­res nie, maar ook ’n digter. Na haar treffende kla­vierspel het baie van die gaste haar gelukgewens. Dr. Milan het ook hartlik sy waar­dering uitgespreek. “God het aan jou ’n buiten­ge­wone gawe gegee. Wy dit aan Hom, want Hy ver­wag dat ons die gawes wat Hy aan ons gee, weer aan Hom moet toewy.” Sy was nie godsdienstig nie. Hy kon sien sy verstaan nie wat hy vir haar probeer sê nie. Hy sê reguit vir haar: “Onthou, as jy nie jou hart vir die Here gee nie, is jy ’n ongeredde son­daar.” Net toe loop ’n ver­flen­terde bedelaar by die deur verby. Hy wys na die be­delaar en sê: “Dan is jy net so ver­lore soos daardie arme mens.” Sy vererg haar bloedig vir hom. Draai  kwaad van hom af weg. Sy kon die onthaal nie verder geniet nie en het vroegaand huis toe gegaan. Sy wou gaan slaap, maar die slaap was weg. Net die gods­man se ernstige woorde bly in haar ge­dag­te  terug­kom. Tweeuur die oggend staan sy op en kniel by haar bed en gee haar hart aan die Here oor. Charlotte Elliot het geweet Jesus Christus het in haar lewe inge­kom en vrede het haar wese vervul. Sy het opgestaan en die woorde van ’n lied geskryf wat ons nou nog sing:



Net soos ek is, geen hulp naby; alleen u bloed gestort vir my;

Getrek tot u deurboorde sy -  o Lam van God, ek kom!

Net soos ek is, ek wag nie meer;  ek kom, hoe vuil bevlek, o Heer,

En werp my aan u voete neer – o Lam van God, ek kom!

Die lied is in baie tale vertaal. Een vertaler het geskryf: “Die lied het ’n wonderlike ge­skie­denis. Dit is waarlik soos ’n blaar van die boom van die lewe.” Charlotte Eliot het in haar leeftyd 120 liedere geskryf.

“Here, vandag kom ek net soos ek is na U toe.”

Nee Dankie - vir Redding

Lees Markus 10: 17 – 27

“Jesus het na hom gekyk, en hom liefgekry en vir hom gesê: ‘Gaan verkoop  alles wat jy het…Kom dan terug en volg My.’ Hy het egter geskrik toe hy dit hoor…en weggegaan, want hy het baie besittings gehad” (21,22).

In An Evangelic Mission Press Tract word vertel, ’n magtige Opperhoof stuur sy man­ne uit om oor­log te maak. In een van die dor­pies woon ’n man en sy vrou en hulle seun. Hulle ont­kom  self aan die vyandelike magte, maar hulle seun is as ’n slaaf weggevoer. Die man troos sy treurende vrou met die woor­de: “Ons wéét waar hy is. Ons sal hard werk en spaar en as ons genoeg ivoor, goud en diamante het, sal ons ons kind gaan te­rug­­koop.” Intussen het die Opper­hoof dáárdie seun as sy per­soon­like slaaf aan­gestel. Hy hou sommer baie van die seun.

Na drie jaar se harde werk , sê die pa van die seun vir die ma: “Maak kos reg vir die lang pad. Ons gaan ons seun soek.” Na ‘n maand bereik hulle het die dorp van die vyan­dige Op­per­hoof. Hulle praat met die Opperhoof oor hul­le seun. Hy is baie tegemoetkomend. “Die seun wat jul­le beskryf,” sê hy, “is nou my per­soonlike slaaf en ek hou van hom. Hy werk baie mooi. Ek kan hom net vir julle teruggee as julle ’n groot prys vir hom sal betaal,” en hy noem die prys wat hy seker was hulle nie sou kan bekostig nie. Die ou­ers haal die skat uit wat hulle byme­kaar gemaak het en sit dit voor die Opperhoof neer. Die Op­per­hoof, sy raadgewers en die hele dorp is ver­stom oor alles wat hulle vir hulle seun se losprys gebring het. Die Opperhoof laat die seun haal. “Ken jy hulle?” vra hy vir die seun. “Ja, hulle is my ouers,” antwoord hy verstom. “Hulle het jou kom loskoop. Kyk wat het hulle alles ge­bring. Ek sal jou vrystel.” Die seun raak baie ontsteld. “Hoe­kom het julle gekom?” skreeu hy. “Dis lekker hier. Ek het baie te eet, baie klere, baie geld, baie vriende. Meer as in julle dorp. Ek wil nie gaan nie! Ek wil hier bly!” Die ouers probeer pleit, maar hy wil van niks hoor nie. Die ouers is met groot droefheid terug na hulle dorp toe.

Na ’n lang ruk word die Opper­hoof siek en sterf. Sy mense sê: “Ons sal hom nie alleen op hierdie lang reis laat gaan nie. Iemand moet saamgaan.” Een van die raad­ge­wers sê: “Hy was baie lief vir sy per­soonlik jong slaaf. Hy moet saamgaan.” Hiermee laat die man­ne die seun haal en vertel hom wat nou vir hom wag. Verskrik skreeu hy: “Nee, roep my pa ….!” Maar hulle gryp hom, bind hom vas en be­grawe hom saam met die Opperhoof.

Dit is ‘n eenvoudige verhaal. Dalk nie eers  waar nie. Soos ’n gelykenis beklem­toon dit ’n geloofs­waarheid, waarvan ons goed be­wus is en dalk só helderder kan begryp. Die lekker van hier­die wê­reldse lewe, wat ons laat nee sê vir die groot los­prys wat die Here Jesus aan die kruis vir ons be­taal het, is ’n kort lekker, ’n lekker met ’n einde. En dit is ’n smartlike einde. “Die uit­einde van dié dinge is die dood…die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here” (Rom. 6: 21).

“Here, vandag soek ek die ewige lewe wat U gee.”

'n Swak werktuig se krag

Lees Johannes 6:1-15

“Hier is ‘n seuntjie met vyf garsbode en twee vissies; maar wat is dit vir so baie mense (8,10).

Die uitgesproke ongelowige, William Hone, sien op ’n dag ’n seun­tjie met groot aandag sy Bybel lees. “Hoe­kom mors jy jou tyd met dáárdie boek?” vra Hone. Die kind ant­woord beleefd: “Dit is al wat my siek moeder kan troos, Meneer. Ek soek iets wat ek van­aand vir haar kan lees as sy nie kan slaap nie.” Diep geraak besluit William Hone om self die Bybel te lees. Dit het tot sy bekering gelei.  Voor in sy Bybel het hy ge­skryf:

 The proudest heart that ever beat, hath been subdued in me;

The wildest will that ever rose, To scorn thy cause or aid thy foes,

Is quelled, my God, by Thee.

Watter krag het ’n kind teenoor ’n wêreldwyse en ge­leerde man? Dit is nie ’n mens se eie krag of invloed wat ’n ander mens tot bekering kan bring nie. Dan sou net bui­tengewone mense vir die Here bruikbaar  wees. Dit is Christus se eie krag, wat deur sy Heilige Gees, deur die persoon wat Hy as sy instrument gebruik, werk, om iemand se hart te bereik. “Bewus van my swak­heid, en met groot angs en huiwering, het ek na julle toe ge­kom. Die boodskap wat ek verkondig, het julle oor­tuig, nie deur geleerdheid of welsprekendheid nie, maar deur die kragtige werking van die Gees” (1Kor.2:3,4)

 “Here, vandag vra ek dat U, met u krag, deur my werk.”

'n Getuie

Lees 2 Timoteus 1:3-11

“Jy moenie skaam wees om die boodskap van die Here te verkondig nie…” (8)

Dr. Harry Rimmer vertel in Miracles at Morning Cheer, van die jongman wat sy eerste nag in die militêrekamp beleef, toe hy sy diensplig in die leër be­gin. Hy kry sy slaapplek tussen ’n groot aantal ander jong soldate. As ’n toegewyde Christen was dit tuis sy die gewoonte, om elke aand sy Bybel op sy bed neer te sit, te kniel, sy hoofstuk uit die Bybel te lees en dan knielende, te bid. Nou, omring met ruwe manne, wat luid gesels, grappe maak, vloek, op mekaar skree, oorweeg hy om in sy bed te klim en sy Bybel ongemerk, on­der die bedekking van die lakens te lees. Hy praat met homself: “Ek is ’n Christen en dissipel van ’n Meester wat ter wille van my bespot en verwerp is. Ek moet ’n getuie vir Hom wees, ook voor hierdie manne. Ek gaan doen wat ek tuis gedoen het.” Hy trek sy slaap­klere aan. Haal sy  Bybel uit sy tas en sit dit op die bed neer. Hy kniel en begin lees. Daarna bid hy. Binne twee minute raak dit in die barakke doodstil. Hy voel soos ’n klein goue vissie in ’n glasbak. Die mid­del­punt van ’n stil­swyende aandag. Na hy van sy knieë af opgestaan het, begin die pratery weer, maar niemand sê ’n woord oor sy vreemde gedrag nie. Die volgende aand, toe hy sy Bybel uithaal en gereedmaak om te lees en te bid, haal agt ander manne ook hulle Bybels uit en volg sy voor­beeld. Binne ’n maand word hy ’n geliefde kameraad vir al­mal. Manne kom met probleme en vrae na hom toe.

Uit eie krag kan mens nie ’n getuie vir Jesus wees nie. Hy word in hierdie wêreld te veel gehaat en verag. Dit is hoe Paulus, Timoteus bemoedig het: “Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing….Jy dan my seun wees sterk deur die genade wat ons in Christus Jesus het… Dra jou deel van die ontberinge soos ‘n goeie soldaat van Christus Jesus” (2 Tim.1:7 & 2:1,3).

“Here, vandag vra ek u krag om vir U ’n getuie te wees.”

Loop Voor

Lees Hebreërs 6: 13 – 20

“Hierdie hoop besit ons…Daar het Jesus, ons Voor­lo­per, ter wille van ons ingegaan…” (19)

’n Vrou pleit by haar onverskillige man om die Kersoggend saam met haar en die kinders die Kersdiens by te woon. “Jy weet ek glo nie hierdie Jesus-storie, dat God ’n mens geword het, nie,” antwoord hy uit die hoog­te. “Hoekom sou die almagtige God ’n mens wou word?” Sy en die kin­ders is toe alleen, warm aangetrek in die Euro­pese koue, kerk toe. Hy sit en lees voor die kag­gel .

’n Rukkie later hoor hy ’n ge­skarrel in die voortuin. Dit kan nog nie sy vrou en kinders wees wat al terugkom nie, dink hy. Hy staan op en gaan kyk. Dit is ’n swerm wilde een­de wat teen die koue tussen die tuin se bome pro­­beer skuiling vind. Dit is bitter koud en die wind het ook begin waai. Hy kry die eende jammer, trek sy jas aan en stap uit. Hoe kan hy hulle help? Probeer hy ’n vuur aansteek, jaag hy hulle net weg. Hy stap na sy skuur toe en maak die dub­bel­deure wyd oop. Hy loop wyd om die eende en probeer hulle aankeer skuur toe. Hulle skarrel net verder weg. Hy gooi vir hulle ’n streep kos op die grond na die skuur toe. Hulle steur hul­le nie daar­aan nie. Wat kan hy doen? Toe kry hy ’n plan. Hy gaan haal een van sy eie, mak eende en sit die eend so naby as moontlik aan die wilde eende neer. Dadelik vat sy eend koers skuur toe. Die mak eend ken die pad. Die wilde eende volg. Toe almal in die skuur se beskutting is, draai die man om terug huis toe. Toe tref die gedagte hom: Die mak eend het vir die wilde eende die pad na die beskutting van die skuur toe gewys. Net `n eend kon dit vir ander eende doen. Jesus se evangelie begin deurdring tot hom.

Dít is die rede hoekom Je­sus gekom het. Die mense wou nie na God luister nie. Hulle het God nie geken nie, Hom nie verstaan nie. Hy het sy profete gestuur, maar die mense kon só nie God en sy hemel leer ken nie. God het self, in die Persoon van Jesus, ’n mens geword, om vir die mensdom die weg na God en sy beskutting toe te kom wys.

Die Bybel beskryf duidelik die motief waarom God as mens na ons toe gekom het. Hy het ons ver­lore mensdom jammer gekry. Hy wou ons in Sy tuiste inbring: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê” (Joh.3:16).

 “Here, vandag dank ek U vir my weg na U toe.”

Gewond vir my

LEES: Johannes 20: 24 – 30

“Daarna sê Jesus vir Thomas: ‘Bring jou vinger hier en kyk na my hande; en bring jou hand en steek hom in my sy…” (27)

Teen die einde van die Eerste Wêreldoor­log stap ‘n waardige ou man een aand in een van Londen se strate af.. Hy kom ’n soldaat teë wat pynlik  op twee krukke voort­sukkel. Een van sy bene makeer. Die ou man sit sy hand op die soldaat se skouer en sê met diep gevoel vir hom: “Dankie. Baie dan­kie, dat jy vir my gewond is.” Met blye ver­rassing staar die soldaat die ou man aan. Hy weet hy is onherstelbaar verwond, maar nog nooit het iemand hom daarvoor bedank nie. Met sagte stem gaan die ou man voort: “Ek wil jou graag vertel van Iemand wat vir jóú ver­wond is.” Verstom vra die soldaat: “Ver­wond vir my?” “Ja,” be-aam die ou man. “Ja gewond en verbrysel vir jou dat jy vir ewig ge­red kan word en aan die einde van jou lewe hemel toe kan gaan.” Eenvoudig en ern­stig vertel hy hom van die Here Jesus.

Sonder Jesus se verwonding sou daar vir ons geen vergifnis van sonde kon wees nie, want “sonder bloedvergieting vind daar geen vergifnis plaas nie” (Heb.9:22). Daar sou geen vrede vir ons gewete gevind kon word nie, want “die bloed van Christus reinig julle gewete” (Heb.9:14). Daar sou sonder Jesus se bloed vir ons geen toenadering tot God kon wees nie, julle het naby gekom deur die bloed van Christus” (Ef.2:13). Daar sou vir ons geen saligheid gewees het nie, want “hulle het hulle klere gewas en hulle klere wit gemaak in die bloed van die Lam…daarom is hulle voor die troon van God…” (Op.7:14).

Hoeveel waarde het Jesus se lyding en verwon­ding aan die kruis vir ons? Kom ons gee dit ’n sen­trale plek in ons gedagtewêreld, ons emo­sies, ons selfbewussyn. Dank Hom daag­lik­s, vertrou daagliks in sy wonde, laat dit ons daag­likse aansporing tot toewyding aan Hom wees.



As ek die kruishout gadeslaan,

waaraan die hemelkoning hang,

Is al my pogings enkelwaan,

 verfoei ek trots en selfbelang.

Kyk hoe sy hand, sy hoof, sy voet

sy smart en liefde saam vertoon;

Hoe liefde^en smart mekaar ontmoet,

 hoe doringvlegsels Hom daar kroon!

“Here, vandag aanskou ek u wonde..”

Geseënde Gasvryheid

Lees Matteus 10: 40 – 42

“Wie julle ontvang, ontvang My; en wie My ontvang, ontvang Hom wat My gestuur het” (40).

In die Spoorwegbode van Februarie 1975 vertel die skrywer, wat homself ’n Evangeliedienaar noem, die storie van Jake Woods. In sy eie woorde skryf hy:

“Ek het een aand in ’n sneeustorm,hoog op in die Rook­gebergtes van Tennessee, verdwaal. Verkluim en reeds bewus­te­loos, dra my perd my na ’n vreemde huis toe. Toe ek weer bykom, hoor ek die geknetter van ’n vuur naby my voete. ’n Bebaarde man buig oor my en vloek, omdat hy nie my mond kan oopkry om bietjie brandewyn in my mond te gooi nie. Dit is Jake Woods.

”Ek herwin my be­wus­syn en herken hom as, die be­rug­te woest­aard van die omgewing. Hy het gedreig om eni­­ge pre­diker wat sy drumpel oorskry, te verniel. Nie­mand kon beter versorg gewees het as ek nie. Hy en sy vrou het my met teer­heid behandel en kos gegee. Ek wou die volgende dag verder gaan, maar in my hart het ek ge­weet, nie­mand het al ooit so ’n goeie geleentheid gehad, om met die skrikwekkende Jake Woods oor sy verhou­ding met die He­re te praat, as ek nie. Ek wou hom as blyk van dank ’n paar geldnote gee, maar hy het dit geweier. ‘Dok,’ sê hy, ‘as jy gisteraand as prediker na my huis toe gekom het, het ek jou in die koue uitgesmyt. Twintig jaar ge­le­de, toe die Almagtige ons enig­ste kindjie weggeneem het, het ek gesweer ek sal nooit een van sy diens­kneg­te oor my drumpel toe­laat nie. Ek het woordgehou tot gis­ter­aand – maar toe jou perd jou hier aanbring, kon ek jou nie weg­jaag nie.’ Met bewende stem sê ek vir hom: ‘Mnr. Woods, sal jy my toelaat om uit hierdie Boek van my vir jou te lees, en met my Vriend in jou huis te praat, voor ek weggaan?’ Hy kyk na sy vrou, talm en toe sê hy: ‘Toe maar, Dok, gaan jou gang.’ Ek het vir hom uit Lukas 15 gelees oor die herder wat agter die een verlore skaap aangaan totdat hy dit vind. Ook die verhaal oor die verlore seun en sy verwelkoming toe hy tuiskom.

“Ek kom agter Jake het omgedraai en kyk my met groot oë aan. Voor my moed my begewe, val ek op my knieë en be­gin bid. Ek bid, en dit is asof ek die Here wil aan­gryp en nader trek: ‘Here, ek het gisteraand byna dood hier aangekom. Hierdie man en sy lie­we vrou het my ingeneem en terug verpleeg lewe toe en hulle wil niks daarvoor neem nie. Maar van­dat hulle hier woon, moet Jesus Chris­tus met gewonde hande en ’n doringkroon voor die deur staan en klop en hulle wil nie oopmaak nie. Help vandag vir Jake Woods om sy deur vir Jesus oop te maak.’ Toe ek opstaan sit Jakes op die vloer met sy oë op die deur gerig. Hy kyk so stip dat ek ook deur toe kyk, maar ek sien niks be­­hal­we die wit sneeu nie. Skielik sê Jakes: ‘Kom in,’ asof hy ie­mand innooi. Hy draai na my toe. ‘Hy het inge­­kom.’ Hy stap saam met my uit. ‘Dok,’ kom dit van hom af, ‘het jy nog een van daardie boeke van jou. My pa het vir ons van daar­die seun en sy pa ge­lees. Ek sal iemand kry om dit vir my te lees.’ Ek gee hom my Bybel en toe ek wegdraai om te ry, sê hy sy ‘ou-vrou’ sal na my kom luister as ek weer in die skool kerkhou.

“Toe ek na ’n ruk weer daar ’n diens gaan hou, is daar ’n groot opkoms. Jake is ook daar. Hy kom groet my. ‘Dok, ek het hulle ge­­bring,’ sê hy toe hy my hand druk. Ek los my voorbereide preek en gryp Lukas 19:10 as teks: ‘Die Seun van die Mens het immers gekom om te soek en te red wat verlore is.” Toe ek my preek wil afsluit, spring Jake op. ‘Kom, mense, kom,’ roep hy. ‘Wat Dok gepreek het is waar. Ek het daardie Man self gesien toe Dok in my huis gebid het. Hy het voor die deur gestaan. In sy hande wat hy na my toe uitgesteek het, was gate. Ek het gesê hy moet inkom. Hy het ingekom. Ek was van toe af nog nooit weer dieselfde mens nie.’ ’n Diepe be­woënd­heid het oor die gehoor ge­kom en mense het spontaan gekniel en begin bid. Dié Son­dagoggend het talle tot bekering gekom.”

 “Here, vandag vra ek U, kom in my lewe in.”

Gedurige Kontak

LEES: 2 Korintieërs 2 : 14 – 17: (Lewende Bybelvertaling)

“’n Mens kan sê die geur van Chris­tus kleef aan ons en God word daardeur geëer. Ons versprei hier­die geur on­der alle mense…vir die wat gered word, is dit ’n won­derlike geur wat ’n mens die lewe gee” (14).

Een Sondagaand kom ’n netjiese man by die kerk­deur in. Die diaken wat by die deur help, trek sy asem op en kyk die man agterna totdat hy gaan sit. Hy merk hoe die mense almal na die man probeer kyk. Hy wink ’n ander diaken nader om sy plek te neem en hy sit af kansel toe waar die dominee reeds sit. Fluis­terend sê hy opgewonde vir die do­mi­nee: “Ons het vanaand ’n snaak­se man by ons. Hy ruik die ene levental!”

Toe die dominee opstaan om die diens te begin, loer hy ook na die man toe en hy sien die ander mense het so bietjie weggeskuif van hom af. Die kin­ders het moeite om hulle lag te bedwing. Die dominee neem hom voor om na die diens met die man ’n gesprekkie te voer. Hy preek klaar en sorg dat hy by die deur kom om vir die mense ’n hand­druk te gee, soos dit die gewoonte in hulle kerk is. Toe die man by hom kom, weet hy die diaken het nie oordryf nie. ’n Oor­weldigende soet geur omring die man.

Na hy hom ’n handdruk gegee het, beur hy die man onopsigtelik eenkant toe en vra ver­sig­­tig en taktvol uit oor die man se oormatige gebruik van par­fuum. Die man glimlag verleë: “Do­mi­nee, oral waar ek kom, het ek die probleem met hierdie reuk wat ek versprei. Ek werk in ’n par­­fuumfabriek. My klere, my skoene, my hare, my vel, alles, is deur­dring met hierdie geur.” ’n Las gly van die dominee se skouers af en hy gee die man sommer weer ’n handdruk, ruik aan sy hand en sê met ’n glimlag: “Dit ruik sommer lekker, man!”

Hieruit leer ons die geheim van die  verspreiding van die heerlikheid van Christus,  soos ’n soet geur wat versprei word. Ge­du­rige kontak met Christus bring die lieflikheid van sy lewe ook in ons lewe in. Ander aangename beelde illustreer die kwa­liteit van Jesus se lewe wat deur die Christen uitgedra moet word: “Julle is die sout van die aarde….Julle is die lig van die wêreld…” (Mat.5:14).

“Here, vandag bly ek naby U en leef in U.”

Die Toets

Lees Efesiërs 5: 6 – 20

“Leef dan as mense van die lig…Wees baie ver­sig­tig hoe julle lewe…” (8-16).

’n Christen barones, in die hoogland van Nai­­ro­bi, Kenia, het `n inboorling van die omgewing in diens geneem, vertel Leslie Flynn. Hy was beson­der skerp­sinnig en goed­ge­aard. Hy het sy werk vin­­nig ge­leer en die vrou was baie te­vre­de met sy diens. Na drie maande, vra hy by haar ’n aanbe­ve­lings­brief om by ’n vrien­delike Sheik, wat enige ki­lo­meters verder gewoon het, werk te kry. Sy wou die knap jongman nie verloor nie en bied hom ’n loon­verhoging aan. Hy ver­duidelik, hy gaan nie weg oor sy loon nie, maar hy weet hy moet oor sy gods­diens be­sluit. Hy wil nie sonder godsdiens­ge­loof deur die lewe gaan nie. Dit is hoekom hy vir haar kom werk het. Hy het geweet sy be­hoort aan die Chris­telike ge­loof en hy wou self sien hoe leef so iemand in die huis. Nou gaan hy na die Mos­lem­man toe om te sien hoe leef ’n Moslem. Dan sal hy besluit of hy ’n Christen of ’n Moslem gaan word. Leslie Flynn skryf: “The ba­ro­ness was stun­ned as she recalled her many ble­mishes in her dea­lings with the housboy. She could only ex­claim, ‘Why didn’t you tell me at the beginning!’”

Dit is ’n betroubare toets, van die egte innerli­ke lewe: hoe gedra mens jou in jou eie huis teenoor jou eie mense?  En veral teenoor jou minderes? ’n Mens het nie van nature so ’n goedheid in ’n  jou innerlike lewe, dat Christelike gedrag daar­uit voort­vloei nie. Slegs as Christus se eie geaardheid, deur die Heilige Gees in ’n mens se hart ingeplant word, kan ’n mens dit ook as spontane, priva­te le­wens­wyse uitleef. “Die…Raad was verbaas toe hulle Petrus en Johannes se vrymoedigheid sien (en)… het hulle as volgelinge van Jesus herken” (Hand.4:13).

 “Here, vandag wil ek u lig laat skyn uit my lewe.”

Die Prys van Vriendskap

LEES: Johannes 15: 9 – 17

“Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel” (14)

‘n Baie ryk vrygesel het weens sy rykdom baie vriende ge­had. Hy het laat deurskemer sy beste vriende sal goed erf wanneer hy te sterwe kom. Dit het die vriend­skappe nog hartliker gemaak. Na vele jare het hy toe ook gesterf. Dit was in die hartjie van die winter. Hy het bepaal dat hy vieruur in die og­gend begrawe moes word. Dit het toe ook in die donker voordagure, in ‘n ysige wind, met die tem­peratuur ver onder vriespunt gebeur.  Net drie mans en een vrou het vir sy begrafnis opgedaag. Met die lees van sy testament was daar egter ‘n hartlike be­lang­stelling. Die testament het gelui dat die groot nala­tenskap, eweredig verdeel moet word tussen almal wat sy begrafnis bygewoon het.

Dit is die vriendskap wat onder ongunstige om­standig­hede voort­duur wat eg is. Jesus kies vriend­skap om die verhouding tussen Hom en mense te be­skryf. Jesus word genoem: “…‘n vriend van tol­le­­naars en sondaars” (Luk.7:34). Wanneer die lewe in­kalwe en sleg word, bly Jesus by ons. Wanneer vriend­skap met sondaars vir Hom gevaarlik word en die smartlike dood aan ‘n kruis kos, dan bly Hy steeds by ons. Sy vriend­skap is op sy liefde vir ons gebou. . “Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê” (Joh.15:13). Maar ons is ook sy vriende in son­skyn van seëninge en veiligheid. En as die weg nou en steil word: bly ons sy vriende? Kan ons vir Hom opofferings maak? Sal ons skade ly vir Hom? Sal ons sy belange bevorder al wen ons niks daarby nie? ‘n Mens kan nie uit eie deug of krag só ‘n vriend van Jesus wees nie. Slegs die volheid van die Heilige Gees se inwoning in ons hart kan ons só ‘n vriend van Jesus maak. Voor Pinkster het Petrus se vriend­skap met Jesus geknak toe hy deur Jesus se vy­an­de uitgedaag is, en hy het Je­sus verloën. Na­dat Pe­trus met die Heilige Gees ver­vul is, lees ons in Han­de­linge 5:41 van hom en Jo­hannes: “Die apostels het van die Raad af weg­gegaan, bly dat hulle bevoorreg was om ter wille van die Naam van Je­sus vernedering te ly…en hulle het nie opgehou om…elke dag…die evan­gelie te verkondig dat Jesus die Christus is nie.” Die Heilige Gees maak Jesus koning in ons har­te en uit liefde vir Hom bly ons aan Hom getrou.

“Here, vandag wil ék ook deur u  Gees u vriend wees.”

Die Gevaar van gerief

Lees Deuteronomium 32:13-18

“Jesurun het alles in oorvloed gehad; hy het in opstand gekom … hy het dom geword” (15)

Baie jare gelede, vertel T. deWitt Talmage, is ’n groot getal bykorwe na die eiland van Barbados in Wes-Indië geneem. Die bye begin dadelik, volgens ge­woonte, ywerig rondvlieg om heuning by­mekaar te maak vir die winter. Op die Barbados­eiland is daar nie ’n winter nie – net ’n voort­du­ren­de somerklimaat. Die bye ­kom dit agter, staak hulle ywerige werkery en vlieg net rond en steek die inboorlinge. Die doel waarvoor hulle na die Barba­doseiland geneem is, om vir die inboor­linge heu­ning te voorsien en ’n seën te wees, het hulle verbeur en ‘n plaag ge­word, wat vir die in­boorlinge pyn en ongerief gebring het.

Dit is by ons ook ’n natuurlike neiging om in om­standighede van oorvloed en gerief, ons inspan­ning en ywer te verslap, ons aan ledigheid oor te gee en, ongelukkig, soms ook stekerig teenoor an­der te raak. Ons spreekwoord is ongelukkig waar: Ledigheid is die duiwel se oorkussing. Rev. Jay het eenkeer in Bristol gepreek. Briefies met gebeds­ver­soeke is na hom toe deurgegee. Een briefie het gelui: “Bid vir my. My besigheid floreer”. Rev. Jay het vir homself gesê: “Hier is ’n man wat die Bybel baie lees en iets van die bedorwenheid van sy eie hart ken.” Dit was ook Dawid se ondervinding: “Voordat ek swaargekry het, het ek gedwaal, maar nou hou ek my aan u woord” (Ps.119:67).

In tye van oorvloed en gerief word ons gebeds­­lewe korter, ons Bybellees word minder, want ons het nie bemoedigende beloftes nodig nie, en baie keer word ons stekerig teenoor ander mense. Die vroeëre Christene het ook in tye van vervolging naby aan die Here gelewe, maar sodra hulle omstan­dig­hede maklik geword het, het afvalligheid inge­kruip. Paulus skryf aan die gemeente in Galate: “Julle het mooi aangegaan. Wie het julle van koers laat verander…God het julle geroep om vry te wees. Maar dit beteken nie dat ons sonde kan doen en dan die vryheid gebruik as ’ n verskoning nie. Ons moet eerder mekaar liefhê en mekaar dien… (Gal.5:7,13,15,16,17).

“Here, vandag wil ek versigtig wees in my omstandighede.”

Die Gekraakte Kruik

Lees Eksodus 4: 1 – 17

“Moses vir die Here: ‘Ag, Here, ek kan nie goed praat nie…my tong sukkel.’… die Here (sê) vir hom… ‘Gaan nou, Ek sal jou help met die praat en jou leer wat jy moet sê.’” (10,11)

In sy boek, The Ultimate Contemporary Re­source for Speakers, vertel Robert J. Mor­an van die waterdraer in Indië, wat elke dag twee kruike met water, weerskante van ’n draaghout wat hy oor sy skouers dra, vir sy meester van ’n fontein af aandra. Die een kruik is rond, heel en tot bo vol water. Die an­der kruik het ’n kraak en op pad huis toe, lek die helfte van die water uit. Die gekraakte kruik voel elke dag al meer skuldig oor sy ge­brek, terwyl die heel kruik blink van trots oor sy  prestasie. Na ongeveer twee jaar kon die ge­kraakte kruik dit nie meer uit­hou nie. By die fontein praat hy met die waterdraer. “Ek voel skaam oor my ge­brek en ek wil verskoning vra. Ek bring elke dag net ’n halfkruik water huis toe.” Die waterdraer luister simpatiek na die gekraakte kruik se belydenis en probeer hom gerusstel: ”As ons net-nou huis toe gaan, kyk liewer na al die mooi  blomme langs die pad waarop ons loop.” Op pad terug huis toe sien die gekraakte kruik vir die eerste keer die groen gras en al die blomme wat langs die pad groei. Die gesig beur hom ef­fens op, maar sy bedruktheid oor sy gebrek wil nie weg­gaan nie. Hy vra dus nogeens vir die draer om verskoning vir sy swak presta­sie. Die draer vra vir die kruik: “Het jy opge­merk die blomme en gras is net aan jou kant van die pad? Aan die ander kruik se kant is dit kaal en droog? Ek het van jou kraak geweet en ek het saadjies aan jou kant van die pad gesaai. Elke dag oppad terug van die fontein af het jy dit natgegooi. Vir amper twee jaar kon ek pragtige blom­me pluk en op die meester se tafel sit.”

Robert Morgan sluit sy sto­rie af met die toe­passing: “Elkeen van ons het ons eie gebreke. Ons is almal gekraakte kruike. Maar as ons toe­laat, gebruik die Here ons gebreke om sy Vader se tafel te versier. As ons saamwerk en namate God ons roep tot take vir ons bedoel, hoef ons nie bevrees te wees vir ons gebreke nie. (Morgan se woorde) –  “Go on bold­ly, knowing that in our weakness we find his strength. You, too, can bring beauty to His pathway!”

 “Here, vandag wil ek vir U in swakheid bruikbaar wees.

Die Blywende Saadjie

LEES: Psalm 126

“Al loop hy en huil terwyl hy die saad­sak dra, hy kom juigend terug terwyl hy sy gerwe dra” (6)

In 1754 het  ’n oorlog tussen die Britte en Fran­se in Kanada gewoed. Die Indiane het die Franse ondersteun. ’n Groep Indiane het op ’n eensame huis afgekom. Die pa, die oudste seun en twee dogters was in die huis. Hulle het die twee mans doodgemaak en die twee dogters, Barbara en Regina, saamgeneem. Regina was 9 jaar oud; Barbara was 11. Van Barbara is nooit weer gehoor nie. Regina is aan ’n ou In­diaanvrou gegee. Hier het sy gebly totdat sy 19 jaar oud was. Sy het haar opvoed­ing tuis nie vergeet nie. Sy het aangehou om elke aand te bid. Bybelversies wat sy geken het, het sy gedurig herhaal. Een lied wat sy geleer het, het sy wanneer moontlik gesing.   “Alone, yet not alone am I, though in this so­li­tude so drear. I feel my Saviour always nigh”. Sy het bly bid en gehoop dat die Here haar weer aan haar mense sou teruggee. In 1764 het ’n Britse kolonel die Indiane se blyplek ontdek en aangeval. Nie minder nie as 400 ge­vangenes kon gered word. Regina was een van hulle. Na 10 jaar onder die Indiane het meeste hulle taal en name vergeet. Hulle voor­koms het ook heel­te­maal verander. Hulle het, apart van hulle ligter velkleur,  soos Indiane gelyk, gepraat en Indi­aanname gehad. Die kolonel het hulle geklee en gevoed en na die dorpie, Carlisle, geneem. Die nuus is wyd be­kend gemaak en mense wie se kinders ont­voer was, is aangemoedig om hulle mense te kom uit­ken. Regina se treurende ma het nie op haar laat wag nie. Op en af tussen die rye gevangenes het sy gesoek, maar kon haar dogters nie kry nie.

In haar groot teleur­stelling het sy ontroos­baar aan die huil gegaan het. Radeloos het die kolonel gevra, of daar nie iets was, soos byvoorbeeld fami­lie­name waarop die dog­ters sou reageer nie. Op die ingewing van die oomblik het die ma so hard as wat sy kon “Alone, yet not alone, am I…” begin sing. Skaars het sy begin sing of Regina kom singende tussen die ander uit­gestorm, reg in haar ma sy arms in. Die vroeë saadjies het, ongeag die swaar tye, bly groei en die vreugdevolle vrug gedra.

In elkeen van ons se lewens kan ons die bome en vrugte raaksien, wat lank gelede in ons lewens gesaai is. In ons kinders se lewens is ook bome en vrug­te van vroeë saadjies te vinde. Gelukkig as dit goeie saad was. Baie gelukkig as dit evan­gelie- en ge­loofsaad was! “Ek sal my Gees uitgiet op jou kinders, my seën op jou na­ko­melinge. Hulle sal uitspruit soos gras in die veld, soos wilger­bome langs waterlope (Jes.44:3-5}

“Here, ek wil vandag my geleenthede gebruik om goeie saad te saai.”

Die Beter Koers

Lees Hebreërs 12:1-3

“laat ons die wedloop wat vir ons voorlê, met volharding hardloop (1 ).

Dr. Phillip Brooks word een oggend deur `n lidmaat besoek. Hy wil van die lidmateregister ge­skrap word. Hy kom nie meer in die kerk nie, het ook nie meer tyd vir gebed en Bybellees nie. Sy sakebelange eis die tol. Hy wil nie net oënskynlik ’n Christen wees nie. Dr. Brooks pro­­beer hom teë­gaan, maar die man is vasbe­slo­te. Net toe klop ’n armoedige seuntjie aan die deur en vra ang­stig vir dr. Brooks om sy ouma te kom besoek. Sy is baie siek en arm. Dr. Brooks sê vir sy af­val­lige lidmaat: “Ek kan nie nou gaan nie. Ek moet ’n begrafnis gaan hou. Wil jy nie asseblief saam­gaan en sien wat vir die vrou gedoen kan word nie.” Die man is dadelik gewillig en volg die seun­tjie na ’n armoedige krotjie van ’n kamer toe. Bin­ne in die kamertjie lê ’n blinde ou vrou in diep­ste ellende. Toe sy die voetstappe hoor, roep sy uit: “Ag, dankie dr. Brooks, dat u gekom het. Ek is siek en honger. Bid asseblief eers vir my.” Die af­val­lige man het vir ’n lang tyd nie meer gebid nie, maar hy kry dit nie oor sy hart om die ou vrou te­leur te stel nie. Terwyl hy weifel smeek sy met groter dringendheid: “Bid asseblief vir my, dr. Brooks.” Die man kniel by die bed. Eers bely hy sy sonde en af­val­ligheid en smeek God om na sy on­waar­­di­ge gebed te luister. Hy met ontroering vir haar. Toe hy opstaan sê hy vir haar: “U het seker gehoor ek is nie dr. Brooks nie, maar u het my gehelp. Wat kan ék nou vir u doen?” Sy het nie verstaan wat hy bedoel het nie, maar enige hulp sou vir haar wel­kom wees. Hy kyk alles deur, gaan winkel toe en koop vir die vrou alles wat nodig is. Terwyl hy dit doen word sy hart al lig­ter. Die hemel begin oop­gaan. Hy weet God het hom nie verwerp nie, maar gee vir hom ’n nuwe geleentheid om vir Hom te lewe en te werk. Hy  haas hom terug na dr. Brooks toe. “Ek wil nie meer bedank nie,” sê hy vol blydskap. “Nou wil ek vir God werk.” Hy het God prysgegee en gedink God het hom ook prys­gegee. Hy het nie rekening ge­hou met die liefde van sy Hemelse Vader vir hom nie. God se lief­de verander nie! God het sy geestelike verval op die reg­te manier ge­nees. Nie rus nie, maar aktiwiteit is die ge­nesing vir ’n gees wat flou raak. “Versterk daarom die slap hande en die lam knieë en loop die reguit pad. Dan sal wat lam is, nie uit lit raak nie, maar gesond word” (Heb.12:12).

“Here, vandag rig ek my op en steek my hande uit na die werk wat U wil hê ek moet doen.”

Veilig en Gerus

LEES: Efésiërs 2: 4 – 10

“…God, wat ryk is in barmhartigheid, het ons deur sy grote liefde waarmee ons liefgehad het… lewend gemaak saam met Christus…sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade, in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus (4,5,7).”

Enige jare gelede is die wêreld se langste brug, by San Francisco, teen die koste van 77-miljoen dollars vol­tooi. Ge­durende die aan­vank­­like  kon­struk­­­sie van die brug, is van geen veilig­heids­maatreëls gebruik gemaak nie. Drie-en-twintig werks­manne het van die brug af, na hulle dood toe, in die water, ver onder die brug, geval. Met die kon­struksie van die tweede deel van die brug, is `n vei­lig­heidsnet, teen die koste van $100 000  opge­rig. Daarna het weer tien man van die brug afgeval, maar hulle is sonder beserings, uit die veiligheidsnet gehaal. Bykom­stig tot hierdie voordeel, het die werk van 15% tot 25% vinnig­er gevorder. Die manne was nou verlos van hulle vrees vir die hoogte van die brug en die moont­likheid om na hulle dood toe te val. Die se­ker­heid van hulle veiligheid het die manne vryheid gegee, om al hul enegie en aandag aan die beson­dere taak ophande, te bestee. Die skrywer van hierdie gegewens in die Moody Monthly, sê hieroor. “Die sekerheid dat niks nou, of dinge van nog kan kom, my van Chistus se liefde kan skei nie, maak my heerlik vry en gerus om Hom met blye gretigheid te dien.”

Vrees en onrus is `n groot demper van `n mens se konsentrasie en ywer. Die veiligheid wat die Here Jesus ons gee, om nie op eie krag te steun nie, maar van Hom afhanklik te wees, maak ons vry om Hom van harte te dien.

“Here, vandag wil ek my op U troue bewaring verlaat.”

Stap Verby

LEES: Markus 15: 26 – 32

“En die verbygangers het Hom gesmaad…en so het ook die owerpriesters saam met die skrifgeleerdes gespot…” (29-31).

Die eerste sin van hierdie vertelling gee ek in die skrywer se eie woorde: “Sigismund Goetze`s     great painting ‘Despised and Rejected of Men’, was first dis­played in the British Royal Academy in 1904.” Die skildery is `n duidelike uitbeelding van Christus, ge­kroon met dorings en pynlik sterwend aan sy kruis. `n Menseskaar loop, sonder aandag, heen en weer by die ge­kruisigde Heiland verby. Al die afde­lings van die menslike publiek loop verby. Deftige mense, boemelaars, mense in werksklere, mense in uni­form, hulle almal stroom links en regs verby, asof hulle onbewus en ongeraak is deur die kruis en die man wat aan die kruis hang. Net een persoon in die malende mensemassa, staan stil, haar gesig na die kruis en die verworpe Figuur aan die kruis gekeer. Dit is `n verpleegster, aangetrek en toegerus om aan lydende mense hulp te gaan verleen. Vir `n oomblik huiwer sy en kyk met eerbied na die verskriklike toneel.

Nou gebruik ek weer die skrywer se woorde: “What a representation this is of Christ today – neglected, unrecognized, despised, dishonored! Is it nothing to you all ye that pass by?” Is dit regtig die houding en gedrag teenoor die gekruisigde Jesus in ons dag? Ja, hulle is nog min wat met eerbied, dankbaarheid en aanbidding na die gekruisigde Here gewend staan.

So het dit op die dag van die kruisiging ook gegaan. Markus skryf daaroor (Markus 15:29-32): “En die verbygangers het Hom gesmaad, terwyl hulle hul hoof skud en sê: ‘Ha…verlos Uself en kom af van die kruis! …ook die owerpriesters het saam gespot: ‘Ander het Hy verlos Homself kan Hy nie verlos nie! Laat…Christus, die Koning…nou van die kruis afkom, sodat ons kan sien en glo!’” Hoe is dit in ons eie hart? Watter eer het Jesus in ons harte? Verheerlik ons woorde en gedrag ons Verlosser?

“Here, vandag vereer ek U in my hart.”

Red en word self gered

LEES: Romeine 15: 1 – 13

“…elkeen van ons moet aan ons naaste dink en aan wat vir hom goed is en wat hom in die geloof kan opbou” (2).

’n Avontuurlike bergklimmer wou manalleen die Alpe oorsteek. Hoog in die berg het ’n lomerigheid hom begin oorval. Hy was ervare genoeg om te weet, sy suurstof inname is nie voldoende nie en gee hy hom oor aan ’n slapie, is dit verby met hom. Wat sal hy doen? Die nag begin toesak oor die berg, die sneeuvlokkies val vinniger en die sner­pende wind waai deur hom. Hy voel hy gaan ingee en neerval om te rus, want sy ooglede dwing om toe te gaan. Hy struikel oor ’n hoop wat in die pad lê. Dit is ’n mens wat daar lê. Iemand wat reeds aan die koue oorgegee het. Hy buk en tel die on­bekende persoon op in sy arms. Hy begin die hande en polse vryf. Hy blaas sy eie asem oor die man se gesig. Hy druk die verkluimde liggaam teen sy eie warm liggaam vas. Sy eie bloed begin vinniger vloei, sy hartklop versnel, ’n warmte kom in homself. Hy weet die wrede ver­kluim­ing in sy eie liggaam word gebreek. Mense wat an­der probeer red, bevoordeel hulleself.

Dit is ook die geheim in die geestelike lewe. Belangstelling in ander, gebed vir ’n ander, ’n poging om God se Woord aan ’n ander te bring, stimuleer ’n mens se eie geestelike krag.

 "Here, vandag let ek op wie ek kan help.”

Onverwagte Vrug

Lees Matteus 13: 3 – 8 en 18 – 23

“Die man by wie daar op goeie grond gesaai is, is hy wat die woord hoor en dit verstaan. Hy dra inderdaad vrug en lewer ’n oes… (23)

Veertig jaar lank het ’n man, wat graag wou deel­neem aan die uitbreiding van die Here se ko­nink­ryk, op ’n straathoek gestaan en allerlei evan­ge­liese lees­stof uitgedeel, vertel Peter J. Pell. Soos hy ouer gew­ord het, het die straathoekwerk vir hom moeilik geraak en hy het buitendien geen vrug op sy saaiwerk gesien nie. Hy het op­ge­­hou. ’n Paar jaar later loop hy een Saterdag­aand by daardie straathoek verby en ’n jongman gee vir hom ’n evangeliese traktaatjie. Hy gaan staan en praat met die jongman. “Hoekom is jy van­aand hier en doen jy hierdie werk?” Die jongman antwoord: “Meneer, sien, hier het ge­reeld ’n oue­rige man Saterdagaande op hierdie straat­hoek gestaan en traktaatjies uitdeel. Ek het een aand een geneem en dit het my na die Here toe gelei en ek het tot bekering gekom. Dit is nou al ’n ruk lank dat die ouman nie meer hier is nie. Ek dink hy is dood en seker hemel toe. Ek het toe in my hart gevoel en wil ook vir die Here werk en ek kom neem nou maar sy plek in.” Die eerste man se oë vul met trane en hy gryp die jong­man se hand. “Dit is ek wat die traktaatjie vir jou gegee het. En met God se genade gaan ek weer met my werk om traktaatjies uit te deel, be­gin en aanhou totdat die Here Jesus weer kom.”

Die verspreiding van evangeliese leesstof of klankbande, ’n gesprek met iemand oor die ver­los­sing van Christus, prediking, is saad wat ons saai. Volgens Jesus se gelykenis sal baie van die saaiwerk wat ons doen tot niks kom nie, weens die aard van die hoorder se gemoed. In sommige harte gee God egter deur sy genade die wasdom en iemand word vir Christus gewen. “Julle is im­mers weergebore, nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganlike saad: die lewende en ewige woord van God…en hierdie woord is die evangelie wat aan julle verkondig is” (1 Pet. 1:23). Dit is baie ongelukkig as ’n kind van die Here dwarsdeur die lewe gaan, sonder om ooit iets te doen om ’n ander vir Christus te wen.

Sal dit leë hande wees, En ’n siel oor skuld bevrees,

As ek voor Hom by die groot Wit Troon moet staan?

Moet my hart vol skaamte wees, Met my naam daar uitgelees,

En my werk geen eer vir Sy geliefde Naam!

Wat ’n bittere berou, As ek daar my Heer aanskou,

Met talente wat Hy leen, deur my verbeur;

As geen siel van my kan sê; “Ek wil jou as vriend hier hê,

Want deur jou het ek die Heiland leer bemin.”

“Here, vandag soek ek geleentheid om U aan iemand bekend te maak.”

'n Veilige Hawe

LEES: Johannes 3: 14 – 21

“Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê (16).”

Die bejaarde kaptein van die historiese skip, Merrimac, was `n inwoner van die Penn­sylvania Soldier’s Home, `n tuiste vir on­ver­sorg­de, siek en bejaarde soldate, matrose en hulle offisiere. Hy was `n ongelowige en het skepties gestaan teenoor geloofsake. Die ka­pe­laan wat die te huis se inwoners gees­telik moes versorg, wou hê ou kaptein moet die By­bel lees. Hy het hy het botweg geweier. Toe gee die kapelaan vir die ou kap­­­tein `n nuwe Bybel en `n rooi pen. Hy sê vir hom: “Lees die Bybel en maak `n rooi merk by alles wat jy nie glo nie. Begin met die Evangelie van Johan­nes.” Die ou kaptein aan­­vaar die uitdaging. Hy was toe juis siek in die bed.  Elke paar uur, as die kapelaan by die ka­mer verbystap, gaan hy in: “Al iets gemerk, Kap­tein?” Die ou gryns net en sê niks. `n Paar dae later stap die kapelaan in die ou kaptein se kamer in. Hy kry hy hom dood op sy bed. Die Bybel lê oop langs hom. Die kapelaan neem die Bybel en blaai deur die Evangelie van Johannnes. In die eerste hoofstuk is niks met die rooi pen gemerk nie. Ook nie in die tweede of die der­de hoofstukke nie, tot by Johannes 3:16, “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elk­een wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” Dié teks het hy met `n rooi lyn omring en langs die vers geskryf: “I have cast my anchor in a safe harbor, thank God!”         Gelukkig is elkeen wat in hierdie hawe van Johannes 3:16, sy lewens­anker laat sak, voor­dat hy die ewigheid binnegaan.

“Here, vandag laat sak ek my lewensanker in u redding.”