LEES: 1 Korintiërs 2: 1 – 5
“Ek het my voorgeneem om met julle oor niks anders te praat nie as oor Jesus as die Christus, en wel oor Hom as die gekruisigde.” (2)
Een van Engeland se grootste predikers, C. H. Spurgeon, het op sy sterfbed aan ’n vriend gesê: “My teologie bestaan nou uit vier woorde: Christus gesterf vir my. Ek wil nie hiermee sê ek sal nie weer oor ander aspekte van die geloofslewe preek as ek gesond word nie, maar hierdie vier woorde is genoeg om mee te sterf.”
Jesus Christus se kruisdood is die onfeilbare waarborg vir toegang tot God se ewige hemel na ons sterwe. Elkeen wat kan sê: “Christus het vir my gesterf,” het deel gekry aan die ewige lewe en sal nie verlore gaan nie. “En dít is wat die Seun ons belowe het: die ewige lewe” (1 Joh.2:25). In Christus se kruisdood is ons sondeskuld weggeneem: “Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir die wat glo.” (Rom.3:25). Wie in Christus se kruisdood glo, daarin vertrou en vir homself aanneem, ontvang die ewige lewe: “God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie, maar die ewige lewe sal hê” (Joh.3:16).
Ons sterwe, die grootste krisismoment van gans ons lewe, is vir ons almal ’n vreesaanjaende vooruitsig. Die angs word deur ’n opheffende verwagting van saligheid vervang, as ons weet: “Ek het Jesus Christus as my Saligmaker aangeneem en ek weet ek gaan hemel toe as ek sterf!” En ons kan Hom vertrou. Hy sal iemand wat in sy redding glo, en dit aangeneem het, nie in die steek laat nie.
“Here, vandag weet ek U is my Verlosser.”