LEES: Efésiërs 1: 15 – 23
…verligte oë van julle verstand, sodat julle kan weet wat die hoop van sy roeping…wat die uitnemende grootheid van sy krag is vir ons wat glo…”(18,19)
Twee skilders het elkeen `n skildery gemaak van die kruis van Christus en daarmee twee belangrike fases van die geestelike lewe na vore gebring. In die een skildery is `n groot kruis, omring met stormagtige branders. `n Seeman, wat redding uit die stormagtige waters soek, klem met altwee hande vas aan die ruwe kruis. Hy wil lewe en hy doen die regte ding om sy heil te soek in die kruis wat binne sy bereik gekom het. Elkeen van ons moet hierdie fase in ons lewe ken. Dit is die weg tot die ewige lewe, redding uit die sondige wêreld wat ons omring. Geloof en vertroue in die kruisdood van die Here Jesus. Soos Romeine 3:23-25 dit uitdruk: “…want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Chrisus Jesus is…Hom het God voorgestel in sy bloed as `n versoening deur die geloof…” Dit is vir elkeen van ons die vasklem aan die kruis.
Die ander skilder het dieselfde prent gekilder, ook die kruis in die stormagtige branders en die seeman wat vasklem aan die kruis, maar hy het `n belangrike ander waarheid bygebring. Die seeman klem met een hand vir lewe en dood aan die kruishout vas, maar sy ander hand is uitgestrek na `n ander man wat in die branders spartel, om hom ook na die veiligheid van die kruis te trek. Elkeen van ons wat die Here Jesus se redding leer ken het, moet omsien na ander wat dit nog nie bereik het nie. Daar is wonderbare beloning vir elkeen wat iemand anders ook tot redding gelei het.
“Here, vandag wil ek iemand anders vir U bereik.”