LEES: 1 Timótheüs 1; 12 – 20
“…die Skrif sê naby jou is die Woord, in jou mond en in jou hart (8).”
Die storie van Die Steenkoolsak is deur Wilna Swart, van die Kaapse Sinodale Senior-pensioenafdeling, vir my gestuur.
‘n Ou man het met sy kleinseun in die berge gewoon. Die knaap het 'n baie hoë agting gehad vir sy oupa, en soos dit maar gaan, het hy probeer naboots wat Oupa doen. Oupa se gewoonte was om elke oggend, dou voor dag op te staan, die ou koolstoof aan die brand te kry, en dan vat hy sy ou gehawende Bybel en gaan sit in die lekker warm kombuis, by die tafel en lees uit die Bybel. Die kleinseun het Oupa dopgehou, en ook sy Bybel gaan haal, en net soos Oupa soggens by die kombuistafel gaan sit en lees. Maar iets het die knapie baie gepla: "Oupa, ek weet nou nie so mooi nie," sê hy een oggend, "ek probeer ook die Bybel lees soos Oupa, maar ek verstaan nie wat ek lees nie. En as ek die slag verstaan, dan waai dit by my ore uit, en netnou het ek alweer alles vergeet wat ek gelees het. Ek meen - wat is nou die nut daarvan as ek tóg alles vergeet?" Oupa het diep gedink, en toe sien hy 'n leë steenkoolsak, pikswart gevlek van die roet, lê langs die stoof.
"Boetie, gaan haal vir Oupa 'n sak vol water in die stroompie hier onder, asseblief,” vra hy die seun. Gretig om Oupa te plesier, spring die knaap daar weg met sy goiingsak, en laat vat af stroompie toe. Dis harde werk om die sak vol te kry, maar hy byt vas, en met die druppende sak hardloop hy terug huistoe. Natuurlik was die sak dolleeg gelek teen die tyd dat hy by Oupa aankom. "Ai man!", sug Oupa. "Jy sal maar weer moet gaan probeer jong!" Daarmee suiker die knaap weer af riviertjie toe met sy sak. Hierdie slag hardloop die outjie terug met sy sak water, so vinnig as wat sy beentjies hom kan dra, maar steeds is dit verniet, want natúúrlik is die sak weer leeg by sy aankoms. "Nee Oupa," blaas hy uitasem. "Dis onmoontlik - hierdie sak lek!", en daarmee gooi hy die sak eenkant en gaan gryp 'n emmer. "Nee Boetie", keer Oupa hom, "ek wil nie 'n emmer water hê nie, ek wil 'n sak water hê! Toe jong, jy kan dit mos doen! Jy probeer net nie hard genoeg nie."
Die seun het lankal besef hy is besig met 'n gejaag na wind, maar hy wil só graag vir Oupa plesier. Met sy lekkende vrag, hardloop hy so vinnig as wat hy maar kan, die bultjie weer op na Oupa toe. "Nee Oupa, dit werk nie!", huil-sê die outjie moedeloos. "Kyk hoe hard probeer ek, maar niks gebeur tog nie!" "Dink jy rêrig daar het niks gebeur nie?" vra Oupa. "Kyk dan 'n slaggie na die sak. Wat sien jy anders aan die sak as toe jy begin het?" Met 'n vraag in sy oë bekyk hy die sak - wat kan Oupa tog bedoel? Skielik besef hy, die sak is skoon - al die steenkoolstof is uitgewas! "Oupa, die sak is skoongewas! Maar ek verstaan nog nie, Oupa?" "Boetie", sê Oupa, "dis wat gebeur wanneer jy die Bybel lees. Miskien verstaan jy nie alles wat jy lees nie, en dalk vergeet jy amper alles wat jy so hard probeer onthou. Maar terwyl jy lees gebeur iets met jou - jou binnekant verander - jy word as't ware skoongewas van binne af, terwyl jy die Bybel lees.”
In die Bybel praat God met ons en dit dring deur na ons innerlike lewe toe en bring nuutheid.
“Here, vandag lees ek u Woord met my hart.”