Die Sirkus Optog

Lees Lukas 16: 19 – 31

“Daar was ’n ryk man wat duur en deftige klere gedra  en elke dag feestelik en weelderig geleef het….Die ryk man het …gesterwe en is begrawe…” (19,22)

’n Sirkus sou ’n plattelandse dorpie be­soek. Daar het ’n seuntjie gewoon, wat nog nooit in sy lewe ’n sirkus gesien het nie. Hy was byna dood van opgewondenheid oor die vooruitsig om ’n sirkus te sien. Niks sou hom daar kon weghou nie. Vroeg die oggend al het hy sy plek langs die straat, waar die sirkusoptog sou verbygaan, ingeneem. Sy pa het vir hom ‘n R10-noot, vir toegangsgeld vir die vertoning gegee. Uiteindelik verskyn die op­tog. Mense juig en dromme slaan, die op­ge­tooide diere en die helderkleurige waens be­weeg stadig verby. Heelvoor, die olifante, dan die perde, dan kamele, toe die akro­ba­te, daarna die hokke met die leeus, die tiere en ander diere. Die seuntjie was hees ge­skree en byna uitasem van al die opgewon­den­heid. Heel laaste kom die harlekyn met al­lerlei ma­newales verby. Toe hy dansend, met oop hande uitgestrek, regoor die seun­tjie kom, sit die seuntjie sy R10-noot in die har­le­kyn se hand. Die harelkyn kyk verbaas, maar neem dit en gee ’n dankbare, besondere hoë bok­sprong. Die sirkusoptog verdwyn om die hoek. Die seuntjie gaan tevrede en gelukkig huis toe. Hy het die sirkus gesien, dink hy. Hy wis nie, dit was nog maar net die optog, en dat die eintlike vertoning die aand gaan plaas­­vind nie. In sy onkunde het hy dood te­vre­de sy R10, wat vir die vertoning bedoel was, vir nog net die optog betaal.

Die huidige lewe in hier­die wêreld is ook nog  net ‘n optog – dan kom die ware ge­beu­re – die vertoning – die ewigheid. Ons moet ons aardse lewe verstandig gebruik en ook ge­niet, soos mense met ’n sirkusoptog maak. Maar ons R10-noot, ons innerlike lewe, ons siel, moet ons bewaar vir die vertoning, vir die aan­breek van die ewigheid. Laat ons ons R10-noot nie in die hande van die wêreldharelekyn plaas nie, maar dit in die hande van die Here Jesus, die koning van die he­mel, oorgee.

 “Here, vandag plaas ek my lewe in U hande.”