LEES: Handelinge 16: 24 – 31
“Menere, wat moet ek doen om gered te word?”Toe sê hulle: “Glo in die Here Jesus en jy sal gered word..(30,31).”
Dr. Walter Wilson, wat as evangelis bekend geword het as “a great soulwinner”, `n groot sielewenner, was `n vervaardiger van tente, voor God hom as voltydse evangelieprediker geroep het. In sy groot tentbedryf het hy in sy kantoor, enige klein beserings wat enige van sy baie werksmense opgedoen het, sommer self behandel. Eendag kom `n vrou in sy kantoor in. Die naald van die groot naaimasjien waarmeesy moet werk, het haar een vinger deursteek. Dr. Wilson het die beseerde vinger goed verbind. Voor sy na haar masjien teruggegaan het, laat hy die superintendent die veiligheid van die masjien ondersoek. Die verslag van die superintendent was: “Geen foute nie. Ek kan nie verstaan hoe die ongeluk kon plaasvind nie.”
`n Paar dae later kom dieselfde vrou na dr. Wilson se kantoor toe. Sy krimp haar hand van pyn. Die naald het weer haar vinger deursteek. Dr. Wilson berispe haar saggies oor haar onverskillige hantering van haar masjien. Sy bars uit in trane. “O, dr. Wilson,, vir weke is ek al so ongelukkig. Ek weet u is `n besige man. Ek het my vinger moedswillig seergemaak om hier by u te kon uitkom. Ek is nie gereed om te sterf nie, maar ek is so ongelukkig ek wil nie meer leef as ek nie kan vrede vind nie. Ek het gehoor u kan my help!”
Dr. Wilson het dadelik haar behoefte begryp. Hy het die vreugde kon smaak om haar na die Here Jesus te lei en te help om die vrede van bekering te vind. As `n mens se hart bewus word van sondeskuld voor God en die werklikheid van vir ewig verlore te wees, is daar geen ander raad, vir dáárdie onrus, as om by die Verlosser, die Here Jesus, uit te kom nie. Vir ons almal staan die weg na Hom toe oop. Hy nooi ons: “Kom.” Bid net en vra Hom: “Here Jesus, kom asseblief in my hart en red my.” Glo Hy het gehoor en in u hart ingekom, met sy groot vergifnis van sonde deur sy bloed van sy kruis.
“Here, vandag vra ek u reddingskrag ook in my hart.”