LEES: Psalm 91– Nuwe Lewende Vertaling.
“As die Here jou toevlug is, as die Allerhoogste jou skuilplek is, sal geen kwaad jou tref en geen ramp naby jou tent kom nie… (9,10,)
Op ‘n dag staan Charles Wesley, beroemde skrywer van Engelse kerkliedere, voor sy oop venster, droewig oor die pragtige somerlandskap en uitkyk. Hy was baie swaarmoedig oor groot beproewings wat hy op daardie tydstip ervaar het. Skielik word sy aandag getrek deur ‘n voëltjie wat heen en weer voor die huis verby vlieg. Hy sien hy ‘n valk wat op die voëltjie afpeil. Wanhopig probeer die voëltjie die valk ontwyk, maar daar is geen skuilplek nie. Toe sien hy die oop venster en die man wat daar staan. In sy groot gevaar vlieg hy by die venster in en met kloppende hartjie kruip hy onder Wesley se baadjie in. Wesley sit sy hand sag op die verskrikte dingetjie. Na ‘n rukkie gee die valk sy prooi prys en vlieg weg. Toe alles veilig lyk, maak Wesley by die venster sy baadjie oop en laat die voëltjie vry uitvlieg. Diep geraak deur die gebeurtenis skryf Charles Wesley ‘n lied wat uitdrukking gee aan sy hernude geloof.
Jesus wat my liefhet, Heer,
laat my veilig by U skuil.
Kyk, die waters, wind en weer,
dreig en ruk en trek my neer!
Help my, Heiland, ag, ek vrees!
Hoor die woeste winde huil!
U beskerm my swakke vlees –
laat my lewe vrede wees!
Dit is lied 578 in ons eie Liedboek.
“Here, vandag kom ek by U skuil.”