Die Hemel

Lees 2 Korintiërs 4: 16 – 5: 10

“Ons weet dat, wanneer ons aardse woning  wat maar ’n tent is, afgebreek word, ons ’n vaste gebou in die hemel het. Dit is ’n woning wat nie deur mense gemaak is nie, maar deur God, en dit bly ewig staan” (5:1).

Robert J. Morgan vertel in sy boek Stories, Illu­stra­­tions and Quotes van die Amerikaanse toeris wat die 19de eeuse Poolse rabbi, Hofetz Chaim, tuis besoek. Hy is verstom dat die rabbi in ’n kamer met skraps meublement woon. Oral is net boeke. Hy vra: “Rabbi, waar is jou meubels.” Die rabbi ant­woord: “Waar is jóú meubels?” “My meubels?” vra die verstomde toeris. “Maar ek is net ’n besoeker hier. Ek reis net deur.” “Ek ook,” sê Hofetz Chaim.

Dit is die gesindheid wat die Here Jesus in sy volgelinge se harte soek: “Moenie vir julle skatte op aarde bymekaarmaak waar mot en roes dit verniel en waar diewe inbreek en dit steel nie. Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar…” (Mat.5:19,20). Dít is hoe Paulus dit beantwoord: “…ek beskou al­les as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde…ek maak my los van alles wat agter is en strek my uit na wat voor is…sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus” (Fil.3:8,13,14). Philip Yan­cy skryf in Christianity Today van die neiging wat ons ook ondervind: “…although 71% of Ame­ricans belie­ve in an afterlife, no one talks about it much…we simply ignore heaven, acting as if it doesn’t matter…”  ’n Ander evangeliese geleerde, Wilbur Smith, skryf in Biblical Doctrine of Heaven dat dit opmerklik is hoe min Bybel­ge­­leerdes oor die hemel as onderwerp skryf. Hy noem die skrywer oor Sistematiese Teologie, Shedd, as voor­beeld. In sy boek Dogmatic Theology wy hy twee blad­sye aan die hemel en 87 bladsye aan die onderwerp Eter­nal Punish­ment. David Wells, professor in die Mas­sa­chusetts Gordon-Conwell Theological Se­mi­­na­ry sê: “Ons verwag om in ons Evangeliese kerke pre­ke oor die hemel te hoor, maar ons hoor dit nie.” En David Van Biema beweer onder die opskrif: “Does Hea­ven Exist?” in die Time tydskrif van Maart 1997, dat die Christelike gemeentes in Amerika in hulle liedere van die hemel sing, maar uit hulle kansels nie preke daaroor hoor nie.

Die geleerde, Wilbur M. Smith, reken dat ons as Chris­­te­ne geen verskoning oor ons onkunde oor die hemel het nie. In 1649 het ’n boek deur Richard Baxter met die ti­tel The Saint’s Everlasting Rest verskyn. Baxter het op 35-jarige ouderdom ’n ineenstorting van sy gesond­heid gehad. “Expecting to die and wanting to prepare himself for leaving the world, he began to me­ditate on heaven and on heaven’s joys”, skryf Wilbur Smith. Elke dag peins hy ’n halfuur lank oor die hemel. Wat hy oor­dink het, het hy neergeskryf. Hy het gesond ge­word en sy aantek­eninge gebruik om sy boek te skryf. Daarin het hy hierdie treffende paragraaf geskryf: “It hath pleased our Father to open his counsel, and to let us know the very intent of his heart, and to acquaint us with the eternal extent of his love; and all this that our joy may be full and that we may live as heirs of such a kingdom and shall we now overlook all, as if He had revealed no such matter? Shall we live in earthly cares and sorrows, as if we knew of no such thing, and rejoice no more in it  than if the Lord had never wirtten it?”

In sy Woord lig God ons oorvloedig toe oor die hemel.

“Here, vandag wil ek in u Woord oor u hemel lees en peins.”