LEES: Johannes 16: 21 -28
“Voorwaar,voorwaar Ek sê vir julle, alles wat julle die Vader sal vra in my Naam, sal Hy julle gee (23).”
`n Twaalfjarige dogter, Carol Ann Miller in Oxon Hill, Maryland, het `n hartprobleem gehad wat `n hooggespesialiseerde en gevaarlike operasie nodig gemaak het. Sy het ook `n skaars tipe bloed nodig gehad – B-negatief – vir `n bloedoortapping, voor die dokters die operasie sou begin. Die nodige bloed kon nêrens gekry word nie. “Ek sal aan President Eisenhower skryf en hom vra om my te help om die bloed in die hande te kry, dink Carol Ann by haarself. Só het sy aan hom geskryf, en ek gee die briefie se eie woorde: “My Dear President: The surgeons want to close up a hole in my heart. If you know anyone who has B-negative blood, please call my mother. It is very important!”
Die meisietjie se versoek het die president bereik en hom diep getref. Hy maak dadelik kontak met die rooikruis en ook met die dokters in Walter Reed Hospital. Baie gou word 20 pt. van die bloed beskikbaar gestel aan Carol Ann se dokters.
Hoe `n voorreg is dit nie, selfs een van God se kleinste en onbelangrikste kinders, kan na die troon van genade gaan en daar word in `n tyd van nood, betyds hulp gegee. Wat ons behoefte ook mag wees, God sal dit voorsien. Ons Verlosser Jesus se belofte is seker en betroubaar: “Daarom sê Ek vir julle: Alles wat julle in die gebed vra, glo dat julle dit sal ontvang, en julle sal dit verky (Mark.11:24).”
“Here, vandag bid ek in U Naam vir my nood.”