LEES: 1 Johannes 1: 5 – 10
“As ons ons sondes bely , Hy is getrou en regverdig om ons die sondes te vergewe en ons van alle ongeregtigheid te reinig (9).”
In Rod and Staff vertel `n man, hy stap op `n dag straataf, by `n winkel verby. Op die sypaadjie is `n man besig om die glas, van die groot uitstalvenster, te was. Daar is een vuil kol wat hy net nie kan wegkry nie. Hoe hy ookal probeer, die kol wil net nie verdwyn nie. Hy vryf dit met baie seep en water. Hy gebruik later `n growwer doek. Maar niks help nie. Elke keer as hy die skuimende seep wegwas, sit die kol maar nog steeds daar. Toe ontdek hy die probleem. Hy roep na iemand toe binnekant van die winkel: “Die kol is aan die binnekant!”
“Baie probeer om die siel, van sy kolle skoon te kry,” maak die skrywer die toepassing. “Hulle was dit met trane van berou; hulle skrop dit met die seep van goeie voornemens; hulle skuur dit met die seemsleer van `n morele voorskrif (chamois of morality), maar die bewussyn van die vuilkol wil nie verdwyn nie. Die probleem is, dit is in die binnekant van die siel. Niks behalwe die bloed van Jesus, aangewend deur die kragvolle werking van die Heilige Gees, kan die binnekant van die hart, waar die vuil kol eintlik vassit, skoonkry nie.” Die man se eie woorde “Nothing but the blood of Jesus, applied by the mighty power of the Holy Spirit, can cleanse the inside.”
Die swakheid van die mens se wil, kry net nie oorwinning oor daardie lelike ding nie. Telkens word die handeling of gesindheid of neiging herhaal. Eers wanneer `n mens die sondige drif in eerlike woorde aan God bely. En die Heilige Gees reinig die hart met die bloed van die Here Jesus en gee dan ook die nodige, innerlike geloofskrag in die verhouding met God, ervaar die kind van die Here die oorwinning waarna hy so verlang het.
“Here, vandag kom ek hierdie ding, wat my so strem in my verhouding met U, bely.”