LEES: JESAJA 53 : 1 – 12
“Maar Hy is ter wille van ons oortedinge deurboor, terwille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom (5) .”
Tydens `n diens, wat `n vrou met `n beswaarde hart bygewoon het, het die preek, wat oor bekering en redding van sonde gegaan het, haar diep. Sy het na die diens met die predikant gaan praat oor haar probleem. Hy het vir haar Jesaja 53:6, die profetiese woord wat op Jesus wys, gelees: “Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.” Hy het haar gehelp om te verstaan, sy moet die belofte van vergifnis en redding wat die Here vir ons in sy Woord beloof, glo en aaneem. Sy moet in Jesus vertrou, dat Hy haar sonde vergewe het en sy nou `n kind van God is. Sy het dit verstaan en geglo en met blydskap huis toe gegaan. Haar seuntjie was by haar en hy het alles gehoor en ook verstaan waaroor dit gaan.
Die volgende oggend kom sy met betraande oë eetkamer toe. Haar blydskap van die vorige aand is weg. “Wat pla vir Ma?” vra die seuntjie. “Ag,” antwoord sy, “gisteraand het ek gevoel ek is gered en God het my aangeneem. Nou voel dit soos `n droom. Ek is bevrees ek het my vergis.” Die seuntjie hardloop en gaan haal sy ma se bybel. “Ma, soek vir ons Jesaja 53:6 op.” Sy kry die vers. “Lees dit vir ons, asseblief.” Sy lees dit hardop: “..die Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.” “Is Ma seker die vers is nog daar?” vra die seuntjie weer. “Ja, seuntjie,” antwoord sy. “Maar dan is ma se sonde mos op Jesus gelê,” sê die verstandige seun. Die ma begryp wat haar seuntjie vir haar porbeer sê. Sy neem God op sy woord ongeag wat haar gevoelens ook is. Toe sy dit insien en aanvaar, kom die vorige aand se vrede weer terug in haar hart. Sy ís vergewe, God hét haar aangeneem, ongeag haar gevoelens. Hierna het sy in haar geestelike lewe gevorder.
“Here, vandag wil ek, opgrond van U Woord se belofte, glo.”