LEES: 1 Johannes 1: 5 – 9
“As ons sê dat ons met Hom gemeenskap het en in die duisternis wandel…lieg ons…as ons sê dat ons geen sonde het nie, mislei ons onsself.“(5).
`n Inbreker het by `n strandhuis ingebreek. In die afwesigheid van die strandhuis se eienaar, het hy op sy tyd deur die huis geloop, en al die kosbarhede wat hy wou saamneem, op die sitkamervloer neergesit. Hy begin sy buit in die sak pak wat hy saamgebring. Hy kyk op en kyk of daar aan die muur nie dalk nog `n kosbaarheid hang nie. Aan die muur hang `n afdruk van Guido se “Ecce Homo”. Die beroemde skildery van die doringgekroonde Jesus. Die teer, deurdringende kyk van Christus laat hom dadelik ophou met sy inpakkery. Hy kon net nie voortgaan met sy diewery, voor die oë van die Heiland nie. Hy staan op. Hy draai die skildery om, met Christus se gesig na die muur se kant toe. Met Jesus se gesig so weggedraai, gaan hy met `n geruste hart voort om sy buit alles in te pak en die huis daarmee te verlaat.
Met Jesus uit ons gedagte uit is die toegang na ons hart toe oop vir enige indringende begeerte. Die bewustheid van die Persoon van Jesus, ons gedagte aan Hom, beskerm ons teen oortreding. Ons geestelike veiligheid lê in ons daaglikse vernuwing van ons verhouding met die Here Jesus. Gemeenskap met Hom, kan vir ons `n veilige vesting teen versoeking wees. Met Jesus uit ons gedagte uit, is dit maklik om die verkeerde ding te doen.
“Here, vandag vestig ek my oë op U.”